Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Hele Gauteng is brandpunt, sê LUR

Ons fokus daarop om lewens te red en geen massagrafte vir Covid-19-sterftes word tans in Gauteng gegrawe nie.

So het dr. Bandile Masuku, die provinsiale LUR vir gesondheid, Vrydag op ’n mediakonferensie van die Gautengse Covid-19-bevelsraad gesê.

Masuku het die konferensie vir die eerste keer gelei nadat premier David Makhura Vrydag positief vir die koronavirus getoets is.

“Gauteng het nie verskillende brandpunte nie, Gauteng ís die brandpunt,” het hy gesê.

“Ons fokus sedert Maart was om lewens te spaar. Geen massagrafte word tans in die provinsie gegrawe nie en geen tenders is gegee vir iemand om grafte te grou nie.

Deel van die ons reaksieplan was net om uit te vind wat die kapasiteit vir grafte in die provinsie is,” het Masuku gesê.

Dr. Bandile Masuku, Gautengse LUR vir gesondheid, het Vrydag se mediakonferensie van die Gautengse Covid-19-bevelsraad gelei omdat premier David Makhura positief vir die koronavirus getoets is.

Teen Vrydag was die totale bevestigde gevalle in Gauteng 81 546, met 54 593 aktiewe gevalle. Die totale getal sterftes was op 515.

Masuku sê teen einde Julie sal daar gesamentlik 2 000 gewone hospitaalbeddens met suurstofvoorsiening beskikbaar wees by die Nasrec- en Tshwane-eksposentrum.

Nog vyf veldhospitale met 3 920 gewone hospitaalbeddens sal ook opgerig word.

Altesaam 8 301 beddens is tans in private en staatshospitale beskikbaar.

Masuku sê hy besef gesondheidswerkers is onder groot druk en hulle is daarom deurgaans besig om meer werknemers aan te stel.

Volgens hom het die departement reeds 400 bykomende verpleegkundiges en 400 bykomende dokters aangestel en is dit ’n deurlopende proses.

Masuku het herhaal dat hulle nie in dié stadium kan sê of Gauteng weer strenger inperkingsregulasies gaan instel nie. Dié besluit lê by die nasionale Covid-19-bevelsraad.

“Ons wag op die president om die land toe te spreek om te hoor of ons voorstelle aanvaar gaan word.”

Volgens hom sluit die voorstelle beperkings op beweging, byeenkomste en die verkoop van alkohol in.

Panyaza Lesufi, die LUR vir onderwys, het op die konferensie gesê hy is bekommerd dat slegs 36% van gr. R-leerlinge in Gauteng Maandag teruggekeer het na skole.

Volgens hom is 501 skole in die provinsie tans tydelik gesluit vir ontsmetting en is 1 159 onderwysrolspelers, insluitend leerlinge en onderwysers, sedert die heropening van skole positief getoets.

Lesufi sê hulle is nou ook op soek na 6 747 jong onderwysers om poste van onderwysers ouer as 60 te vul.

Meer oor:  Bandile Masuku  |  Gauteng  |  Brandpunt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.