Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Helfte van SA’ners baie angstig tydens pandemie

Sowat die helfte van Suid-Afrikaners ervaar ’n baie hoë vlak van angs tydens die Covid-19-pandemie.

Dít blyk uit navorsing wat onder 1 656 werknemers gedoen is om die sielkundige uitwerking van die pandemie te ondersoek.

Dit is gedoen deur Afriforte in samewerking met die Workwell-navorsingseenheid aan die Noordwes-Universiteit (NWU), die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (Sadag) en Mindful Revolution.

Volgens die studie is die handhawing van ’n gesonde afstand, die ontwrigting van ’n roetine en eensaamheid slegs enkele gevolge wat die pandemie en inperking by mense veroorsaak.

Ly jy aan Pre-TSV?

Prof. Ina Rothmann, besturende direkteur van Afriforte, sê ’n klomp van die simptome kan aan pre-traumatiese stresversteuring (Pre-TSV) toegeskryf word.

“Pre-TSV is ’n sindroom weens onwillekeurige, indringende beelde en toekomsflitse van kwellende gebeure tydens groot ontwrigtings soos Covid-19, of wanneer trauma geantisipeer word,” sê sy.

Gemoedskommelinge, ’n kort humeur, vergeetagtigheid, deurlopende bekommernis, onsekerheid, verlies aan objektiwiteit en ’n onvermoë om te fokus of te konsentreer is tekens van Pre-TSV. Dit kan ook tot verskillende fisieke simptome aanleiding gee, soos hoofpyn, naarheid, sooibrand, eetprobleme, hartkloppings en spierpyn; dieselfde simptome as iemand wat deurlopend stres ervaar en oor die algemeen nie gesond voel nie.

Streshormone afgeskei

Leandri Harmse, ’n lewensafrigter van Bothaville, stem saam. “Wanneer jy gebeure antisipeer, skei jou lyf kortisol, die streshormoon, af, net soos wat in jou liggaam sou gebeur indien jy werklik in ’n (angswekkende) situasie verkeer.”

Sy sê een van die maniere om pre-TSV hok te slaan, is om die bewegings wat jy tydens die ervaring sal wil uitvoer, te doen. “Die voel snaaks, maar trauma (selfs pre- trauma) word deur ons spiergeheue vasgevang en deur die uitvoering van die bewegings kan ons dit ontlaai. Dit kan ook ’n gevoel van bemagtiging skep.”

Sy sê dié tegniek is gegrond op die boek “The body keeps the score”deur die Amerikaner dr. Bessel van der Kolk. Nog ’n tegniek wat vir pre-TSV gebruik kan word, is “Traumatic Incident Reduction (TIR)” wat dr. Frank Gerbode ontwikkel het. Dit verminder die traumatiese stres wat met ’n pynlike emosionele of fisieke gebeurtenis van die verlede gepaard gaan deurdat die ervaring in ’n veilige omgewing, vry van afleidings, veroordeling of interpretasie herbeleef word.

Suid-Afrika het die TIRA-organsie (TIRA-SA) wat opleiding in hierdie vorm van sielkunde aanbied.

“Pre-TSV bestaan, maar dit is behandelbaar en ’n mens is nie daaraan uitgelewer nie,” sê Harmse.

Afriforte is die kommersiële arm van WorkWell, die navorsingseenheid van die Noordwes-Universiteit se fakulteit vir ekonomiese en bestuurswetenskappe.

Meer oor:  Sadag  |  Suid-Afrikaners  |  Depressie  |  Pandemie  |  Angs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.