Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Help diere só tydens inperking

Dierewelsynsorganisasies en veeartse sal gedurende die nasionale staat van inperking weens Covid-19 steeds mag funksioneer omdat hulle ’n noodsaaklike diens lewer.

Streng beperkings geld egter, wat beteken dierehawens is nou meer as ooit afhanklik van skenkings van die publiek. Meg Wilson, woordvoerder van die Nasionale Raad van die Dierebeskermingsvereniging (NRDBV), sê mense kan ook help deur die verspreiding van fopnuus te keer; troeteldiere kan nié ’n rol speel in die verspreiding van Covid-19 nie. “Daar is geen bewyse hiervoor nie.”

Wilson sê geen aanneming van diere sal tydens die inperkings by hul takke moontlik wees nie omdat die publiek nie toegang tot die takke het nie.

“Ons neem egter steeds verwerpte en mishandelde diere in en vra die publiek moet hul oë en ore altyd vir sulke gevalle oophou. Waar dit veilig is, neem ook video’s en foto’s of lê beëdigde verklarings af om mishandeling te bewys.

“Terwyl ons administratiewe personeel van hul huise af werk, sal daar steeds werkers by die takke wees wat streng voorgeskrewe higiëne-protokol volg terwyl hulle na die diere omsien. Wanneer ons inspekteurs vir noodgevalle of wreedheidsklagte moet uitgaan, sal hulle streng maatreëls volg om hul eie veiligheid en dié van mense met wie hulle in aanraking kom, te verseker. Dit sluit beskermende kleredrag in.”

Pablo (agter), ’n Rustenburgse hond wat vroeër vanjaar onder haglike omstandighede uit ’n township gered is. Lt.kol. Linday Smith, bevelvoerder van die Rustenburgse plofstofeenheid, het Pablo by die Rustenburg-DBV aangeneem. Mense kan tydens die koronavirus-inperking steeds baie doen om diere in nood te help. Foto: Isabel Venter

Suzette Kotzé, eienaar van die Matlosana-dierehawe in Stilfontein, Noordwes, sê hulle sluit ook vir die publiek, maar vier werkers sal die volgende drie weke by die hawe inwoon. “Ons het vir hulle DStv laat installeer en die kantore as ’n ontspannings- en slaapplek ingerig. Ek en my man, Derick, het ’n permit om daagliks tussen ons huis en die hawe te beweeg. Ons doen steeds internet-aannemings en sal diere onder streng higiëniese voorsorg gaan aflaai. Mense kan ons Facebook-blad dophou vir diere wat beskikbaar is vir aannemings.”

Cecilia Marais van die Paws-dierewelsynsorganisasie in Potchefstroom, sê werkers en ’n bestuurder sal ook gedurende die drie weke van inperking by die hawe woon terwyl dit vir die publiek gesluit is. Van hul diere word tydelik by pleeggesinne geplaas.

Cheryl Gaw, president van Pug Rescue South Africa, sê van hul mopshonde by die skuiling in Benoni is ook uitgeplaas na pleegouers in Gauteng. Slegs mense wat voorheen ’n mopshond by hulle aangeneem het, word oorweeg om as pleegouers gekies te word, berig Marietie Louw-Carstens.

Dierehawens en die NDBV vra dat mense veral tydens die inperking geld vir kos skenk omdat hul beperkte kontak met die publiek gewone fondsinsamelingsprojekte kelder. Marais van Paws sê mense kan ook kos gaan afgee by die hawe se hokkies in Potchefstroom waar diere in nood ná ure gelos kan word.

Dr. Alfred Kgasi, president van die Suid-Afrikaanse Veeartsenykundige Vereniging, het in ’n skrywe aan veeartse gesê hulle sal kan voortgaan met hul dienste. Hy het veeartse egter gemaan om versigtig te wees en streng higiëne-protokol te volg om hulself en ander mense te beveilig in die lig van die Covid-19-pandemie.

“Oorweeg ook wanneer sekere prosedures moontlik na ’n latere datum uitgestel kan word en voorsien net noodsaaklike veeartsenykundige dienste. Wees verantwoordelik teenoor mense en die samelewing in die algemeen. Verkort werksure waar moontlik en hou ’n veilige afstand van ander mense. Vra dat net een gesonde persoon ’n dier vir sorg vergesel.”

Help diere só:

* Speel gou en neem vóór Vrydag nog ’n dier in ’n hawe vir pleegsorg by jou huis gedurende die inperkingstydperk.

* Vind jou plaaslike Dierebeskermingsvereniging op nspca.co.za en kyk daar hoe om geld te skenk.

* Besoek die Matlosana-dierehawe, Paws Potchefstroom en Pugs Rescue South Africa se onderskeie Facebook-blaaie vir kontakbesonderhede en ander inligting oor hoe diere tydens die inperking gehelp kan word.

Meer oor:  Koronavirus  |  Diere  |  Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.