Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Het SA genoeg beddens in hospitale?

Gesondheidskenners meen dat Suid-Afrika sy infeksiekoerse met die koronavirussiekte Covid-19 tot minstens 10% van die bevolking moet beperk indien ons enige kans wil staan dat ons gesondheidstelsel oorleef.

’n Infeksiekoers van 10% klink baie laag – veral in die lig van die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, se voorspelling vroeër die week dat tot soveel as 60% van die bevolking uiteindelik gaan siek word.

’n Eenvoudige sommetjie toon egter dat selfs ’n 10%-infeksiekoers oor die volgende ses maande die gesondheidstelsel sal oorweldig.

Dit beteken dat 5,7 miljoen (of 100 000 per miljoen) Suid-Afrikaners uiteindelik gaan siek word.

Suid-Afrika se syfer staan tans op vier siekes per miljoen. Dis nog aansienlik laer as dié van Italië, waar 778 per miljoen (of altesame 47 000) Italianers binne vyf weke siek geword het.

Tot 5,7 m. in Suid-Afrika kan siek word.

In China het ongeveer 15% van gevalle hospitaalbehandeling vereis en 5% het kritieke sorg nodig gehad.

Die syfer kan dalk laer wees in Suid-Afrika met sy jeugdige bevolking, maar as ons dieselfde trajek as China volg, beteken dit dat ons 855 000 hospitaalbeddens (waarvan 285 000 in kritieke sorg) oor ses maande gaan nodig hê. Oor ses maande versprei beteken dit 142 500 beddens waarvan 47 500 in kritieke sorg.

Volgens syfers van die Instituut vir Rasseverhoudinge was daar in 2014 net meer as 116 400 hospitaalbeddens in Suid-Afrika (waarvan 30 000 in Gauteng).

Nog ’n studie deur navorsers van die Universiteit van Kaapstad in 2017 stel die syfer op net meer as 102 000 beddens in 544 hospitale. Hopeloos te min, dus, om in die behoefte te voorsien.

Die berekeninge maak egter op ’n hele paar voorveronderstellings staat – die belangrikste is dat die infeksiekoerse eweredig oor die land versprei word en nie tot enkele stede en provinsies beperk word nie. Die tekort aan beddens kan dus nóg groter wees as wat voorspel word. Dit laat egter buite rekening dat Suid-Afrika se bevolking betreklik jonk is en dat die getal mense wat kritiek siek word dalk laer kan wees.

En alle beddens is natuurlik nie op enige gegewe tyd beskikbaar nie.

Die boodskap is dus duidelik: Suid-Afrika sal die pandemie baie, baie beter moet bestuur as die Italianers.

Maar daar is hoop. Suid-Afrika het teen gister, 16 dae nadat die eerste Covid-19-geval in die land aangemeld is, 240 siekes gehad. Op 15 Februarie het Italië drie gevalle aangemeld. Sestien dae later is 2 036 pasiënte reeds positief getoets vir die virus. 

Meer oor:  Zweli Mkhize  |  Koronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.