Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Hier betaal pasiënte net wat hulle kan bekostig

Pasiënte betaal net wat hulle kan bekostig vir dié doktersafspraak.

Dít is dr. Paulo de Valdoleiros se beleid vir sy praktyk wat hy vandeesweek in Bloemfontein geopen het.

Sy betalingsbeleid word aangedui op sy praktyk, Walk-in Doctor, se muur in Kellnerstraat 100, Westdene.

Dr. Paulo de Valdoleiros in sy spreekkamer.Foto: Annemarié Burger

De Valdoleiros is passievol daaroor om sy medemens te help en oor hul gesondheid op te voed.

Walk-in Doctor, wat Maandag sy deure vir die publiek geopen het, is ’n primêre-gesondheidsdiensverskaffer, waar pasiënte ook basiese medikasie kan ontvang.

Die diens is egter nie vir kinders onder die ouderdom van sewe nie. De Valdoleiros meen hulle behoort eerder ’n pediater te besoek.

Hy is die enigste dokter in die praktyk, met Loretta Wesenaar en Jeanette Nazo by die ontvangs.

“Ek wil my werk doen; as jy mediese sorg benodig, help ek jou. Daarna besluit jy wat dié hulp werd is,” sê De Valdoleiros.

Dié dokter is ook ’n gereelde gas op Home Channel (DStv 176) se Real Health waar hy as kenner gesels.

Hy dra dié inisiatief al geruime tyd met hom.

Hy sê enigiemand is welkom om vir ’n konsultasie te kom – dit is nie net vir minderbevoorregtes nie.

“As jou mediese fonds uitgeput is, kan jy na my toe kom en besluit wat jy gaan betaal.”

Hy sê hy wil doen wat hy weet hy veronderstel is om te doen.

“Ons is op dié planeet vir ander, ons is nie vir onsself hier nie. As almal dit net besef het, sou ons na mekaar omgesien het en nie probleme gehad het nie.”

By dr. Paulo de Valdoleiros se praktyk, Walk-in Doctor in Bloemfontein, betaal pasiënte net wat hulle kan bekostig.Foto: Annemarié Burger

Eers nadat hy pasiënte gesien het, gaan hulle na ontvangs om te betaal soos hulle goeddink.

“Jy betaal wat jy kan bekostig, maar jy moet iets betaal.”

Maar sal mense nie dié beleid uitbuit nie?

Dr. Paulo de Valdoleiros in sy spreekkamer. Hy sê daar lê ’n soort vryheid daarin om primêre gesondheidsorg te bied en mense die keuse te gee om te betaal wat hulle kan bekostig..Foto: Annemarié Burger

“Jy kan nie die stelsel misbruik nie omdat daar nie ’n stelsel is nie – daar is nie ’n minimum bedrag nie.”

De Valdoleiros sê dit is ’n persoonlike saak – net die pasiënt sal weet as hy hiervan misbruik maak. Soos wanneer ’n pasiënt R50 betaal, terwyl hy R250 kon bekostig, sê hy.

Hy glo uit dié bedrae saamgevoeg sal hy kan oorleef. Hy het ook ander inkomstes soos dié van die televisieprogram en praatjies wat hy lewer.

De Valdoleiros sê daar lê ’n soort vryheid daarin om primêre gesondheidsorg te bied en dit op dié manier te doen.

* De Valdoleiros is in Portugal gebore en het in Mosambiek grootgeword. Hy is sedert 1974 in Suid-Afrika en het sy mediese graad aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) verwerf.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.