Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Hierdie botteltjie reiniger kos R3 000!

In die winkel kos ’n 100 ml-botteltjie handreiniger R30, maar vir die Johannesburgse stadsraad se kragverskaffer, City Power, is so ’n botteltjie R3 000 werd.

En as jy wil weet hoe ’n lapmasker van R1 150 lyk, is dit ook die plek om te vra.

R29,99 by Clicks, maar R3 000 by City Power!

’n Verslag oor die verkryging van persoonlike beskermde toerusting (PPE) wat tussen 15 Maart en 30 Junie verlede jaar aangekoop is, wys City Power het gruwelik oorbestee met sy noodverkryging van PPE.

Met noodverkryging hoef ’n regeringsinstelling nie normale tenderprosedures te volg nie.

Uit die City Power-verslag, wat verlede week voor die stadsraad gedien het, blyk:

  • R158 700 is betaal vir 46 100 ml-botteljies handreiniger. Dit werk uit op R3 450 per botteltjie, al was die (enkele) kwotasie vir R3 000. Botteltjies van dieselfde grootte is teen R29,99 te koop by Clicks.
  • R97 750 is betaal vir 17 bokse met 100 paar weggooibare handskoene elk. Dit werk uit op R5 570 per boks. Die kwotasie was vir R5 000. ’n Boks met 100 sulke handskoene is teen R225 beskikbaar op Takealot.
  • R120 700 is betaal vir 105 weggooibare oorjasse, wat uitwerk op R1 150 per jas, al was die gekwoteerde prys R1 000. Soortgelyke jasse kos R40 elk by MedQ Supplies.
  • R690 000 is betaal vir 240 500 ml-botteltjies handreiniger, wat uitwerk op R2 875 per bottel. By Clicks kan jy 500 ml handreiniger teen R40 koop.
  • R34 500 is betaal vir 30 materiaalmaskers, teen R1 150 per masker. Soortgelyke maskers kan jou elders enigiets tussen R50 en R150 uit die sak jaag.

Dis nie net City Power se verslag wat beroerd gelyk het nie.

Pikitup, die metro se vullisverwyderingsmaatskappy, het aan een maatskappy wat PPE aan hom verskaf het, drie keer die verskuldigde bedrag, naamlik R79 348,85, betaal (dus altesaam R238 046). Vir nog ’n maatskappy het Pikitup vier keer die verskuldigde R30 293,30 (altesaam R121 173,20) vir PPE betaal.

Uit nóg ’n verslag blyk die metro het gans te veel, én gans te veel verskaffers, betaal om hul kantore verlede jaar te ontsmet.

Agt maatskappye het elk R934 648 gekry om kantore op 30 Julie te ontsmet. Sewe maatskappye het ook elk soveel gekry om dit op 7 Augustus te doen.

Dit werk uit op R154 per m². Pryse wat Rapport aangevra het, wissel tussen R5 en R32 per m².

Die metro het verlede jaar ’n interne oudit van al sy Covid-19-verwante besteding van stapel gestuur, wat ongerymdhede met sekere kontrakte uitgewys het. Geoff Makhubo, burgemeester van Johannesburg, het die oudit na die spesiale ondersoekeenheid (SOE), asook die metro se forensiese ondersoekdienste verwys.

Leah Knott, DA-koukusvoorsitter in Johannesburg, sê egter die ouditverslag is vaag en net uitgesoekte items is daarop geplaas sonder die nodige detail. Volgens Knott lui die verslag die metro het R234 miljoen aan PPE bestee, terwyl ’n interne ouditverslag van Julie aangedui het dit was toe reeds R600 miljoen.

Fase 2 van die oudit word glo eersdaags afgehandel. Die metro het nie op navrae gereageer nie.

Die SOE het Vrydag sy tweede verslag oor PPE-bedrog bekendgemaak, maar geen melding gemaak van bevindings teen die Johannesburg-metro nie.

Adv. Andy Mothibi, hoof van die SOE, het egter uitgewys baie ondersoeke moet nog afgehandel word. Volgens Mothibi ondersoek sy eenheid uitgawes van altesaam R13,3 miljard van die R30 miljard wat staatsdepartemente tussen April en November bestee het. Dié kontrakte is aan meer as 1 700 diensverskaffers toegeken.

Altesaam 189 bewerings van korrupsie met die aankope van PPE is by die SOE aangemeld.

Ondersoeke wat verband hou met kontrakte van nagenoeg R3,5 miljard is reeds afgehandel en meer as 51% van sake word nog ondersoek, terwyl ondersoeke nog moet begin na 22% van die kontrakte wat reeds uitgewys is.

In een van die meer omstrede sake wat die SOE ondersoek, is ’n kontrak van R139 miljoen wat deur die Gautengse departement van gesondheid aan Ledla Structural Development vir die verskaffing van PPE toegeken is, net-net betyds blootgelê sodat R100 miljoen vir die regering behoue kon bly. Die ander R39 miljoen is blitsig van een verskaffer se bankrekening in dié van twee ander entiteite oorbetaal. En dadelik daarna is die geld weer aan minstens 36 ander entiteite oorbetaal. Pryse van PPE is in dié kontrak ook met tussen 211% en 542% opgeblaas.

Tot dusver kon die SOE R127,7 miljoen in kontant en bates van oortreders verhaal.

¦ ’n Brand by die Carletonville-hospitaal aan die Wes-Rand het Donderdag miljoene rand se PPE beskadig. Die polisie ondersoek ’n saak van brandstigting.Die DA beweer die skade kan tot R20 miljoen beloop.

Meer oor:  City Power  |  Pikitup  |  Covid-19  |  Koroanvirus  |  Handreiniger  |  Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.