Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Hoekom die bohaai oor Rupert se inenting? vra Mantashe

As ryk Suid-Afrikaners, swart óf wit, hul eie geld in die buiteland vir mediese prosedures wil gebruik om hul lewe te red, kan die regering nie in hul pad staan nie, sê Gwede Mantashe, ANC-voorsitter.

Mantashe het Vrydag so aan Newzroom Afrika gesê in reaksie op ’n herrie wat op tradisionele nuus- en op sosialemedia-platforms in Switserland én Suid-Afrika losgebars het ná onthullings dat die Suid-Afrikaanse miljardêr Johann Rupert ’n koronavirusentstof ontvang het by ’n Switserse kliniek waarin hy onregstreeks 'n belang het. Dít nog voordat dit aan die publiek daar beskikbaar gestel is.

Véronique Haller, adjunkhoof van die Switserse ambassade in Pretoria, het Vrydag bevestig dat Rupert sy eerste dosis daar ontvang het.

“In ooreenstemming met die politieke federale stelsel van magsdeling in Switserland het kantons of provinsies die bevoegdheid om oor die implementering van die entstofstrategie te besluit.

“Die kanton van Thurgau het die Hirslanden-groep opdrag gegee om die inentingsgerief vir die kanton te bestuur.

“Die Hirslanden-groep het bevestig dat hy ’n toetsgroep ingeënt het en dat mnr. Johann Rupert deel was van hierdie groep,” het Haller gesê.

Volgens haar maak Switserland se entstofstrategie voorsiening vir die prioritisering van mense wat ingeënt moet word vir ingeval daar ’n beperkte hoeveelheid dosisse beskikbaar is, “wat tans die geval in Switserland is”.

“Die prioriteit geld dus tans vir mense ouer as 75, mense met chroniese siektes en diegene wat ’n besondere hoë risiko het om ernstig siek te word weens Covid-19.”

Rupert (70) se kantoor is Vrydag per e-pos om kommentaar genader. Hy het ten tyde van publikasie nog nie gereageer nie. Netwerk24 sal sy kommentaar bywerk sodra dit beskikbaar is.

Die prioriteit geld dus tans vir mense ouer as 75, mense met chroniese siektes en diegene wat ’n besondere hoë risiko het om ernstig siek te word weens Covid-19.

Die kritiek rondom Rupert se inenting kom nadat die Switserse koerant Tages-Anzeiger Donderdag berig het dat Rupert met sy private vliegtuig na Switserland gevlieg het kort nadat die Duitse owerhede op 19 Desember die Pfizer-BioNTech-entstof daar goedgekeur het.

Dié koerant berig verder dat Rupert sy eerste dosis op 12 Januarie vanjaar gekry het, kort voordat die amptelike inentings in Thurgau begin het.

Dié “voorkeurbehandeling aan die rykste man in Suid-Afrika” was slegs moontlik omdat die Hirslanden-groep (wat deur die Rupert-beheerde Mediclinic-groep besit word) die kontrak toegeken is om die inentings in Thurgau te bestuur, skryf die Tages-Anzeiger verder.

Die hospitaalgroep bedryf ook die inentingsentrum in Frauenfeld, waar Rupert ingeënt is.

Mantashe het Vrydag verder gesê hy “sou dink daar is ’n aantal ryk mense, swart en wit, wat buiteland toe is om daar (teen die koronavirus) ingeënt te word”.

“Daar was vroeër ook ’n debat op WhatsApp oor twee swart mense wat buiteland toe is om ingeënt te word. Niemand het daaroor ’n bohaai gemaak nie. Hoekom is dit ’n strydpunt as Rupert dit doen?

“As mense hul geld wil gebruik om hul lewe te red, kan ons nie in hul pad staan nie. Ons as die regering moet egter hard werk om entstowwe na die land te bring en dit by die armste mens in die samelewing uit te kry. Dít is ons verantwoordelikheid.

As mense hul geld wil gebruik om hul lewe te red, kan ons nie in hul pad staan nie.

“Die regering behoort nie behep te wees oor wat Rupert óf enigiemand anders met hul geld doen nie,” het Mantashe bygevoeg.

• Rupert het Vrydag in reaksie op die kritiek aan Business Day gesê die Switserse luuksegoederemaatskappy Richemont, waarvan hy die voorsitter is, het in “Desember besluit die hele leierskap moet so gou moontlik ingeënt word om ’n voorbeeld vir die res van ons kollegas te stel, waarvan baie bekommerd of bang of skepties oor entstowwe is”.

Hy het aangevoer dat hy aan alle Switserse wette voldoen het en “weens sy onderliggende siektes geregtig was op ’n vroeë inenting”.  Sy dokter het die inenting gereël.

Dit is omdat hy eiendom daar besit, daar gebly het en al 31 jaar ’n belastingbetaler in Switserland is.

Rupert het met die aanvang van die Covid-19-pandemie in Suid-Afrika R1 miljard geskenk om veral kleinsakeondernemings te help.


Meer oor:  Inenting  |  Koronavirus  |  Entstof  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.