Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Hoekom dop al hierdie dokters?

Die universiteite van Kaapstad, die Vrystaat, Pretoria en die Witwatersrand krap kop oor hoe elke liewe een van hul kandidate om algemene-chirurge te word, die eksamen gedruip het.

Studente by onder meer die universiteite van Sefako Makgatho en KwaZulu-Natal het baie beter gevaar.

Die gemoedere loop so hoog dat agt kandidate ’n eis deur ’n prokureur gestuur het om hul vraestelle te sien en ’n ondersoek te begin.

Lize Hayes, uitvoerende hoof van die Kolleges vir Geneeskunde van Suid-Afrika (KGSA) wat die eksamens landwyd behartig, het aan Rapport bevestig net 24 van die 54 chirurgiese kandidate het hierdie semester se geskrewe vraestel geslaag om na ’n mondelingse, kliniese eksamen genooi te word. Dis ’n slaagsyfer van 44%.

Verlede jaar in die tweede semester het 59% van die studente geslaag, sê Hayes. Vir die eerste semesters was die slaagsyfers 60% (2018) en 48% (2019).

‘Die universiteit het gewoonlik ’n slaagsyfer van bo 60%.’

Dis egter die verspreiding van die suksesvolle kandidate wat die studente laat lont ruik.

Die kandidate is almal gekwalifiseerde dokters wat in algemene chirurgie wil spesialiseer.

Daarvoor kry hulle navorsingsposte by akademiese hospitale om te spesialiseer.

Nie ’n enkele aspirantchirurg wat by die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad, Universitas in Bloemfontein of Steve Biko in Pretoria werk, is op peil nie.

Lacea Loader, woordvoerder van die Universiteit van die Vrystaat, sê hul slaagkoers was in vorige jare meer as 90% en die uitslae was ’n skok.

Elijah Moholola, woordvoerder van die Universiteit van Kaapstad, sê hul sewe kandidate het ook almal gedruip. “Ons deel die diep teleurstelling en frustrasie van die studente en personeel wat hierdeur geraak word.”

Prof. Martin Smith, hoof van die departement van chirurgie by Wits, sê dié jaar se uitslae strook glad nie met vorige jare se uitslae of die deeglike opleiding wat hul kandidate ontvang nie. Al tien Wits se kandidate het gedruip.

Prof. Arthur Rantloane, adjunkdekaan van aandeelhouerverhoudinge in die fakulteit geneeskunde van Tuks, sê dit klink vir hulle of dié eksamen besonder moeilik was. Al vier hul kandidate het gedruip. Hy voeg by dis nie ongewoon met sulke moeilike eksamens dat ’n groot getal kandidate druip nie, maar in die vorige jare was hul kandidate se uitslae “bevredigend”.

Die prokureur wat namens agt studente – sewe van Ikeys en een van Maties – ’n ultimatum aan die KGSA gestel het, sê hulle is nou ingelig dat ’n ondersoek onderweg is en dat die uitslae deur ’n internasionale span kenners gemodereer gaan word.

“Daar is nie ’n tydraamwerk hiervoor verskaf nie,” het hy gesê.

Al vier universiteite met ’n 0%-slaagsyfer het gesê hulle wag ook op die uitslag van die ondersoek voordat hulle op moontlike verdere stappe besluit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.