
Personeel van die Mitchells Plain Melomed-hospitaal vier Woensdag dat daar geen Covid-19-pasiënte in die hospitaal is nie. Foto: Verskaf
Die Covid-19-saal van die Mitchells Plain Melomed-hospitaal was Woensdag vir die eerste keer dolleeg.
Dit was sowat ’n jaar gelede, op 19 April 2020, een van die eerste hospitale in die land wat ’n Covid-19-pasiënt opgeneem en behandel het, en dit is nou die eerste hospitaal in die Melomed-groep wat tans geen Covid-19-pasiënt het nie.
“Hoewel ons verwag dat daar in die toekoms weer Covid-19-opnames in die hospitaal kan wees, is dit – in die lig van die moeisame reis wat die afgelope maande oorkom is – ’n belangrike mylpaal wat nie misgekyk moet word nie,” lui ’n verklaring van die Melomed-groep.
“Ons ander Melomed-hospitale het ook ’n geweldige afname in Covid-19-gevalle gehad en behoort binnekort die meeste, indien nie alle nie, Covid-19-pasiënte te ontslaan.
Tussen 1 en 6 April was daar agt bevestigde Covid-19-sterftes in die Wes-Kaap.
“Hoewel dit uiters bemoedigend is, is ons voorbereid op ’n moontlike derde vlaag van infeksies.”
Dr. Emmanuel Danso, ’n spesialis van die Melomed Mitchells Plain-hospitaal, sê dié hospitaal se personeel “is die afgelope jaar deur talle uitdagings en het dit danksy fenomenale spanwerk en ondersteuning oorkom”.
Ebrahim Bhorat, voorsitter van Melomed, het die dokters, ander personeellede, pasiënte, alle gesondheidswerkers, die regering, die media en die publiek vir hul “dapperheid, toewyding, geduld en begrip” bedank.
Tussen 1 en 6 April was daar agt bevestigde Covid-19-sterftes in die Wes-Kaap.
Daar was teen Dinsdag al altesaam 11 472? bevestigde Covid-19-sterftes in die provinsie?.
Die Mediclinic Kaapstad in Tuine het ook aan die einde van Februarie ’n banier buite die hospitaal opgerig om aan te dui dat daar geen Covid-19-pasiënte in die hospitaal is nie.
Daar kon nie by die Mediclinic-groep vasgestel word of Covid-19-pasiënte weer intussen daar opgeneem is nie.
“Die opnamesyfers was die afgelope weke laag in vergelyking met die spitstye,” het die Mediclinic-groep toe gesê. “Ons sien egter steeds toelatings wat met Covid-19 verband hou.”