Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Hospitaal in Polokwane gereed vir gevreesde virus

’n Ou stoorplek by die Polokwane- provinsiale hospitaal is binne “een dag en een nag” omskep in ’n isolasiegebou vir ingeval daar pasiënte met die dodelike 2019 koronavirus (2019 nCoV) in Limpopo aangemeld word.

Die gebou wat ingerig is as ’n isolasiegebou by die Polokwane- provinsiale hospitaal in Limpopo waar pasiënte vir die koronavirus behandel sal word indien iemand in daardie omgewing die dodelike virus opdoen. Foto: Departement van gesondheid, Limpopo

Dr. Phophi Ramathuba, LUR vir gesondheid in Limpopo, was Dinsdag tevrede met dié gebou al is daar nie water weens ’n waterkrisis in Polokwane nie.

Die baksteengebou is enkele meters weg van die hoofgebou van die hospitaal en is voorheen gebruik as stoorplek vir medisyne.

Dr. Phophi Ramathuba, LUR vir gesondheid in Limpopo, by personeellede van die Polokwane- provinsiale hospitaal se nuwe isolasiegebou. Foto: Departement van gesondheid, Limpopo

Dr. Victor Matabane van die gesondheidsdepartement se kliniese dienste sê daar is plek vir vier pasiënte in die “isolasiesaal”.

“Anders as met die ebolavirus, waar elke pasiënt in sy eie vertrek behandel moet word, kan twee pasiënte in dié geval saam wees.”

Van die ruite van die isolasiegebou was die naweek nog gebreek.

“Dit is alles vervang en die vensters kan nie na buite oopmaak nie om die verspreiding van kieme te keer,” sê Matabane.

Lugversorging is aangebring en “die lug sal gesuiwer word voordat dit uitgaan,” sê Matabane.

‘n Werker verf die heining by die isolasiegebou op die terrein van die Polokwane- provinsiale hospitaal in Limpopo. Foto: : Departement van gesondheid, Limpopo

Suurstofsilinders staan ook reg vir ingeval pasiënte opgeneem word.

Verpleegsters en dokters sal ’n aparte ingang na die gebou gebruik. Daar is voorsiening gemaak vir ’n kamer waarin dokters en verpleegsters beskermende oorpakke kan aantrek.

Dr. Phophi Ramathuba, LUR van gesondheid in Limpopo, het Saterdag die Groblersbruggrenspos besoek om te kyk of hulle gereed is om mense wat die land binnekom te ondersoek vir die koronavirus. Foto: Departement van gesondheid, Limpopo

Daar is reeds beskermende oorpakke in verseëlde verpakking beskikbaar.

Hoewel daar storte en wasbakke is vir verpleegsters, dokters en pasiënte, is daar nie water omdat die Polokwane-munisipaliteit nie die krisis kan oplos nie.

“Daar is nie genoeg druk vir behoorlike watertoevoer by die hospitaal nie,” sê Matabane.

Thipa Selala, woordvoerder van die Polokwane-munisipaliteit, sê beurtkrag het daartoe gelei dat daar nie genoeg water aan die stad verskaf kan word nie. Die reservoirs is sedert verlede week op kritiek lae vlakke. Selala kan nie sê wanneer die watertoevoer herstel sal word nie.

Neil Shikwambana, woordvoerder van die departement van gesondheid, het ontken dat ’n man van Lephalale die koronavirus opgedoen het. Die man werk by die Groblersbruggrenspos tussen Suid-Afrika en Botswana en het gewone griep.

Ramathuba het Saterdag die Groblersbruggrenspos besoek om seker te maak dat hulle gereed is om mense wat Suid-Afrika binnekom te ondersoek.

Dr. Lwazi Manzi, woordvoerder van die nasionale gesondheidsdepartement, het Woensdag bevestig dat daar nog geen gevalle van die nuwe koronavirus in Suid-Afrika aangemeld is nie.

Meer oor:  Polokwane  |  Limpopo  |  Hospitaal  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.