Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Hospitaal in wanorde; skoonmaker voer pasiënte

Die staatshospitaal in Koster, Noordwes, is vervalle, onhigiënies en net ses lyke kan in die lykshuis geberg word.

Dit is volgens Cobus Snyman, DA-raadslid in die Kgetlengrivier-munisipaliteit wat die gebied bedien, die toestande wat die party op ’n onlangse besoek aan die hospitaal aangetref het.

Tebogo Lekgethwane, woordvoerder van Noordwes se gesondheidsdepartement, erken die lykshuis se bergplek is heeltemal onvoldoende. Hy sê die aantal onopgeëiste lyke neem toe en dit is ’n tydrowende proses om te hanteer. Nog ’n eenheid word by die forensiese lykshuis gevestig, waar onopgeëiste lyke na verwagting van November gehou sal kan word.

Snyman sê met die DA se besoek aan die hospitaal het die dak in sommige sale gelek en die plafon het plek-plek ingeval.

“Mense stap in en uit die hospitaal sonder dat hulle deursoek word vir wapens en daar is geen veiligheidstelsel in die kraam- en kindersale nie.”

Die 26 geregistreerde verpleegsters is ook te min. “Met ons besoek was daar net een skoonmaker wat ook die pasiënte moes voer. Die hospitaal is verskriklik vuil en onhigiënies omdat daar geen skoonmaaktoerusting is nie. Daar is nie ’n kragopwekker nie, die geiser werk nie en daar is geen warm water beskikbaar om toerusting te steriliseer nie.”

Daar is ook nie genoeg beddens en lakens vir pasiënte nie en hulle moet hul eie komberse bring.

“Daar was geen skoon linne nie omdat die skoonmaakdiens uitgekontrakteer is en wasgoed net twee keer ’n week gewas word.”

Die probleme met die wasgoed tydens die DA se besoek is volgens hom omdat die maatskappy wat die wasgoed was, dit weens betogings by die verkeerde plek afgelewer het.

Lekgethwane sê die hospitaal is in die 1930’s gebou om na ’n veel kleiner bevolking om te sien.

“Die dak lek, daar is onvoldoende ruimte, die water- en elektriese infrastruktuur is foutief en die kragopwekker is stukkend.

“Omvattende opknapwerk sal in die 2019-’20-boekjaar gedoen word, maar ons is intussen reeds besig om kontrakteurs aan te stel om die nodigste instandhoudings- en herstelwerk te doen. Die hospitaal kry ook binnekort ’n nuwe kragopwekker.

“Veiligheidsmaatreëls gaan binnekort opgeskerp word en daar sal bykomende veiligheid by die kraam- en kindersale wees.”

Lekgethwane sê daar is poste vir agt skoonmakers by die hospitaal, maar die wat bedank het, is nooit vervang nie. “Ons is besig om nog skoonmakers aan te stel.”

Die 16 dokters en 44 verpleegsters by die hospitaal is volgens hom voldoende vir die grootte van die hospitaal, wat ’n maksimum van 50 pasiënte kan opneem.

“Dit voldoen aan die norm van meer as ses dokters wat ’n klein distrikshospitaal 24 uur moet bedien.”

Die probleme met die wasgoed tydens die DA se besoek is volgens hom omdat die maatskappy wat die wasgoed was, dit weens betogings by die verkeerde plek afgelewer het.

“Dis intussen reggestel.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.