Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Hospitaalopnames is glad nie gesond

’n Suid-Afrikaanse vrou betaal tot 300% duurder vir ’n keisersnee as in vergelykbare lande, het die Mededingingskommissie in sy finale verslag oor die private gesondheidsorgbedryf bevind.

Sharon Fonn, een van die paneellede, het gesê hulle was ook geskok oor die koste-implikasie van ander soort hospitaalopnames. Vir dieselfde duur van hospitaalverblyf, pasiënt-ouderdom, chroniese en siekte-profiel en prosedures, het ’n opname in die waakeenheid sowat R38 000 meer gekos as ’n opname buite intensiewe sorg.

Sou dié vermybare opnames halveer word tot ’n vlak vergelykbaar met België en Amerika, kan sowat R2,7 miljard per jaar gespaar word: gelykstaande aan 4,1% van die totale mediese eise vir hospitalisasie tussen 2010 en 2014, lui die verslag.

Daarom, voer die paneel aan, is meer regulering van die gesondheidsorgbedryf noodsaaklik.

‘Hoe kleiner, ouer en sieker die fonds raak, hoe minder jonger en gesonder lede sal dit lok.’

Luidens die verslag hou die tempo van hospitaalopnames verband met die hoeveelheid hospitaalbeddens wat beskikbaar is. Hoe meer hospitaalbeddens daar per bevolking is hoe hoër die koers van opnames en gebruik.

Benewens dat hospitaalopnames in die vyfjaartydperk van 2010 tot 2014 gestyg het, was daar ook ’n aansienlike styging in die totale koste per opname: van R32 395 in 2012 tot R45 233 in 2014. Dit is ’n jaarlikse verhoging van 13,2% en ’n algehele styging van 39,6% tussen 2012 en 2014.

Om verskaffers van gesondheidsorgdienste beter te reguleer, beveel die paneel ’n nuwe reguleerder aan. Die reguleerder sal die beplanning oor gesondheidsorggeriewe hanteer, insluitend die lisensiëring van geriewe, ekonomiese waarde-beoordelings, die monitering van gesondheidsorgdienste en pryse.

Die Mededingingskommissie beveel ook aan dat hul eie besluit van ’n dekade gelede – om prysvasstelling te verbied – ongedaan gemaak moet word.

Die nasionale verwysingspryslys het ’n tarief vir alle soort prosedures bevat waarby siekefondse en dokters moes hou.

Nadat dit geskrap is, kon dokters vra wat hulle wil, maar die meeste fondse het nog die verwysingspryslys as riglyn gebruik vir wat “100% van die fondstarief” moet wees en dit net jaarliks vir inflasie aangepas. Die gevolg was dat “100% van die fondstarief” iets verskillend begin beteken het vir verskillende siekefondse en die gaping tussen dié tarief en wat dokters regtig gevra het, astronomies geraak het.

Die kommissie beveel aan dat ’n nuwe reguleerder weer dié tariewe vasstel.

Tembinkosi Bonakele, kommissaris van die Mededingingskommissie, het Maandag gesê die verslag sal nou na die parlement gaan wat oor die aanbevelings sal besluit.

Die ondersoek, wat aanvanklik drie jaar sou duur, het byna vyf jaar geneem.

Volgens die ministerie van gesondheid is van die swakhede in die private gesondheidsorgsektor wat die paneel uitgewys het:

* Die hoë en stygende koste van gesondheidsorg en siekefondsdekking.

* Aansienlike oorbenutting sonder bewyse dat dit tot beter gesondheidsresultate vir pasiënte lei.

* ’n Gebrek aan die monitering van die gehalte van dienste by hospitale of hul kliniese uitkomste.

* Pasiënte, mediese fondse en dokters kan nie keuses uitoefen op grond van waarde nie.

Die ondersoek, wat aanvanklik drie jaar sou duur, het byna vyf jaar geneem.

Volgens die ministerie is dit deels weens “aanhoudende pogings deur sommige private belangegroepe om die proses in die wiele te ry”.

Die paneel sê ook om dit vir verbruikers makliker te maak om mediese fondse met mekaar te vergelyk, moet alle siekefondse ’n gestandaardiseerde basiese voordeelopsie instel wat maklik vergelykbaar is.

Craig Comrie, hoof van die mediese fonds Profmed, sê hoewel goed vir verbruikers, kan so ’n basiese voordeelopsie die onbedoelde gevolg hê dat groter siekefondse hul skaalvoordeel gebruik om kleiner mededingers uit te skakel en nie op grond van goeie bestuur of onderhandeling nie.

Dr. Jonathan Broomberg, hoof van die siekefondsadministrateur Discovery Health, sê hulle is ook ten gunste van ’n basiese voordeelopsie, maar dit moet gepaardgaan met die voorgestelde risiko-aanpassingsmeganisme (RAM).

Die probleem wat siekefondse tans het, is dat hulle vir alle voorgeskrewe minimum voordele (VMV’s) ten volle moet betaal sonder limiete.

Indien ’n klein skema ’n paar lede met duur VMV-toestande het, put dit die fonds uit en alle ander lede moet minder voordele kry, wat weer lei tot die onmededingendheid van die skema. Hoe kleiner, ouer en sieker die fonds raak, hoe minder jonger en gesonder lede sal dit lok.

Die bedoeling met VMV’s was dat daar kruissubsidiëring tussen die skemas moes wees, maar dis nooit ingestel nie.

Die RAM moet dit regstel. Fondse met ’n hoër risikoprofiel sal dan gedeeltelik vergoed word deur lede van ander fondse met ’n laer risikoprofiel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.