Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Hospitale in VS stuur mense met suurstof huis toe
Dr. Freek Bester Foto: Argief

Hospitale in Bloemfontein en elders in die Vrystaat is vol en by van dié hospitale word mense met Covid-19 nou met suurstof huis toe gestuur as hulle dit nodig het.

Met mense uit ander streke wat na hospitale in Bloemfontein wil kom, gaan dit nou baie moeilik omdat die hospitale in dié stad nie meer plek het nie.

Dr. Freek Bester, Bloemfonteinse internis wat veral omsien na Covid-19-pasiënte in die Rosepark-hospitaal, sê elders is hospitale ook vol. “Pasiënte van Bethlehem en Klerksdorp wil hierheen kom, maar ons het nie meer beddens nie.”

Eers wanneer Covid-19-pasiënte verbeter en na ander sale kan gaan, gesond word of sterf, gaan daar plek oop vir nuwe pasiënte. Intussen stuur hulle pasiënte met suurstof huis toe om plek te maak vir nuwe pasiënte.

Hy sê dit het Maandag veral moeilik gegaan in die Rosepark-hospitaal. Benewens die uitdaging van Covid-19, kon baie personeellede weens die betogings nie werk toe kom nie.

“Ek dink dit is ’n baie verkeerde tyd om nou sulke dinge te wil doen omdat hospitale baie afhanklik van hul personeel is.”

Dr. Cloete van Vuuren, hoof van die departement interne geneeskunde van 3 Militêre Hospitaal, sê al die hospitale in die Vrystaat en die Noord-Kaap is onder druk.

Die onluste in Bloemfontein vererger die probleem omdat personeel gedwing word om weg te bly.

Hy sê van die hospitale in die Noord-Kaap is ook baie vol en baie pasiënte wat Bloemfontein toe kom, is van die Noord-Kaap.

Mondli Mvambi Foto: Argief

Hy sê hulle gee ook soms suurstof vir pasiënte om huis toe te neem in die hospitale waar hy werk, maar dit is nie om plek te maak vir ander nie.

“Dit gebeur waar pasiënte stabiel is en huis toe kan gaan. Dan gee ons soms suurstof om te help waar dit nog nodig is.”

Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaatse gesondheidsdepartement, sê die Vrystaat het 342 nuwe gevalle van Covid-19. Van hulle is 160 in Mangaung-metro, 41 in Fezile Dabi (Noord-Vrystaat), 54 in Thabo Mofutsanyana (Oos-Vrystaat), 42 in Lejweleputswa, (Wes-Vrystaat) en 45 in Xhariep (Suid-Vrystaat).

Hy sê die totale getal bevestigde gevalle is 94 621 met 85 101 (90%) mense wat al herstel het.

12% van die bevestigde gevalle is van mense jonger as 20.

Die provinsie het tot dusver 4 018 sterftes gehad, met die meeste in Fezile Dabi (Noord-Vrystaat) en Thabo Mofutsanyana-distrikte (Wes-Vrystaat). Die provinsie se sterftesyfer is 4,2%.

Dr. Cloete van Vuuren Foto: Argief

Die meeste sterftes kom voor in die ouer groep mense wat 45 en ouer is.

Van die mense wat dood is, was 41% mans.

Dr. David Motau, hoof van die Vrystaatse gesondheidsdepartement, sê weens die betogings kon hulle nie Maandag voortgegaan met die inentings by die Boikhuco-tehuis vir bejaardes in Bochabela by Bloemfontein nie. Hulle sal egter so gou moontlik weer ’n tyd vasstel om daardie bejaardes in te ent.

Oor die inentingsafdeling by die Universitas-hospitaal wat Maandag gesluit gestaan het, het hy gesê daar is entstof, maar dit is van Johnson & Johnson.

“Ons gee vir die bejaardes die Pfizer-entstof, waarop ons nog wag en wat baie koud gehou moet word.”

Meer oor:  Vrystaat  |  Suurstof  |  Entstof  |  Oorvol Hospitale  |  Mediese Werkers  |  Covid-19  |  Entstowwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.