Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘Hulle kyk rugby terwyl ons dogter sterf . . .’

’n Egpaar van Bronkhorstspruit sê terwyl hul dogter op haar sterfbed was, het personeellede van die Witbank Algemene Hospitaal gesit en die Wêreldbeker-rugby se eindstryd op TV kyk.

Coenie (47) en Nicollette Nieuwoudt (46) sê personeel van ’n staatshospitaal het rugby gekyk in plaas daarvan om aandag te gee aan hul sterwende dogter. Foto: Deon Raath

Coenie (47) en Nicollette Nieuwoudt (46) glo hul dogter, Lizaan (22), kon dalk geleef het as die personeel eerder meer aandag aan hul sterwende pa­siënt gegee het.

“Om vir 14 uur te sit en kyk hoe jou kind doodgaan, is verskriklik. Jou trane val op haar. Jy smeek en jy bid, maar by dié hospitaal loop Gods water oor Gods akker,” sê Coenie.

Hul nagmerrie het begin met ’n boodskap van ’n nooddienswerker in die oggendure van die Saterdag in November waarop die Springbokke in die Wêreldbeker-eindstryd sou speel. “Sy het gesê ons moet haar dringend bel, want Lizaan was in ’n ongeluk by Witbank.”

Die boodskap wat Nicollette en Coenie se wêreld ineen laat stort het.

Toe hulle by die hospitaal aankom, wou die veiligheidswagte hulle aanvanklik nie toelaat om Lizaan te sien nie. Toe hulle uiteindelik binne is, het hulle gehoor sy is gestuur vir ’n CT-skandering. “In die gang het ons twee verpleegsters gekry met Lizzie op ’n hospitaaltrollie. Ons hoor toe hoe die een vir die ander sê die masjien wat die skanderings doen is stukkend.”

Hulle is toe saam met die verpleegsters terug na die ongevalle-afdeling met die bewustelose Lizaan.

’n Weldoener het laat weet hy sal vir die CT-skandering by ’n private hospitaal betaal en ’n ambulans is gereël.

“By die Life Kosmos-hospitaal het hulle die skandering gedoen en haar suurstof gegee, want sy kon nie meer self asemhaal nie. Daardie skandering is eers omtrent sewe uur ná die ongeluk gedoen,” sê Coenie.

“Die dokter het vir ons gesê die bloeding op haar brein het te veel opgebou. Kosmos het ook nie ’n neurochirurg op bystand gehad nie. Daar was niks wat hulle verder vir Lizaan kon doen nie.”

Lizaan Nieuwoudt (22).

Die enigste neurochirurg in die omgewing was by die staatshospitaal van waar hulle pas gekom het.

“Ons het ook die somme gedoen. Om Lizaan te laat opneem, sou ons ’n deposito van amper R1 miljoen moes neersit. Ons moes toe weer ’n ambulans kry. Dit het R4 000 gekos om haar vier straatblokke ver te vervoer,” sê Coenie. Hy sê die personeel van Kosmos het Witbank Algemeen gebel om seker te maak die neurochirurg is op die perseel en daar is ’n bed vir haar.

“Dan kry 'n mens weer hoop, maar toe ons omstreeks 09:30 by Witbank Algemeen aankom, het daardie hoop gou gaan lê.

“Daar was nie ’n bed nie en die neurochirurg was weg vir die naweek en het nie sy foon beantwoord nie.”

Hul dogter is weer by ’n hokkie by ongevalle ingestoot.

“Sy het daar gelê terwyl die personeel rugby kyk. Toe ek by haar sit en haar hand vashou en haar hare streel, het ’n veiligheidswag met my geraas omdat ek die pasiënt pla,” sê Coenie.

Hy sê die veiligheidswag wou ook nie hul pastoor, Danny Strydom, toelaat om vir Lizaan te gaan bid nie.

“Toe die hartmonitor later begin skree, het ek ’n verpleegster gaan vra wat aangaan. Toe sê sy as ek weet wat aangaan, moet ek haar sê.”

Die aand 18:00 is hulle huis toe om te gaan stort. Daar aangekom, het die hospitaal hulle ontbied. Met hul aankoms het hulle gehoor Lizaan is dood.

“Ek het na Lizzie toe gehardloop en self CPR probeer doen. Ons was histeries en niemand het ons gehelp nie.”

Die Nieuwoudts se nagmerrie was nog nie verby nie.

“Hulle het ons Lizaan by ’n stoorkamer ingestoot wat vol ou beddens en vuil matrasse was. Ek het self die laken oor haar gesig gaan trek,” sê Coenie.

Intussen wag die polisie vir die nasionale vervolgingsgesag om te besluit of Michael Trevenen, die bestuurder van die voertuig wat teen Lizaan gebots het, vervolg gaan word vir strafbare manslag.

Meer oor:  Motorongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.