Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘Hy beskerm ander, toe eis virus hóm’

’n Oos-Kaapse polisiekaptein wat hard gewerk het om mense teen Covid-19 te beskerm, is self aan die siekte dood – minute voordat ’n ambulans ná byna nege uur opgedaag het om hom na ’n Bloemfonteinse hospitaal te neem.

Kapt. Andrew Leslie

Kapt. Andrew Leslie (53) se vrou, Colette (47), glo hy kon nog gelewe het as die ambulans vroeër in Middelburg aangekom het. Colette het Vrydag gesê haar hart is “stukkend binnekant”.

“Ek dink nie Suid-Afrika het genoeg toerusting om mense se lewens te red nie.”

Andrew was waarnemende bevelvoerder van die Middelburg-polisiekantoor en ook hoof van die speurdiens daar.

Colette sê sy lyf was op Vrydag 1 Mei seer. Sy het vir hom pynmedikasie gegee en die gesin se huisdokter het hom tuis kom ondersoek.

Omdat sy koors hoog was, het die dokter besluit om hom vir Covid-19 te toets. Die dokter het vir hom pynpille en antibiotika voorgeskryf, maar Andrew wou nie hospitaal toe gaan nie.

‘Covid-19 vat jou hele menswees weg en mense wil nie luister nie.’

Die Maandag het hy haar in die nag wakker gemaak en gesê hy kry koud. Sy lyf was egter vuurwarm.

Voordat Colette die Dinsdag na haar werk by die departement van korrektiewe dienste is, het sy weer vir hom twee pynpille en ’n bruistablet vir hoes en sinusitus gegee om te drink.

Die middag het Colette in ’n supermark se ry gestaan toe Andrew haar bel en sê sy moet huis toe kom, hy het positief getoets vir die virus.

“Ek het hom gevra of hy nie maar hospitaal toe wil gaan nie, maar hy het volgehou hy gaan oukei wees.”

Teen verlede Sondag kon hy nie meer ’n lepel na sy mond bring om te eet nie.

Andrew, ’n diabeet, se suikertelling was 14 (’n normale bloedglukosevlak is tussen 3,6 en 5,8).

In die nag het hy baie gehoes.

Kapt. Andrew Leslie se kis, wat in plastiek toegedraai en met lint afgesper is.

“Hy was heelnag badkamer toe oor die slym op sy bors. Hy het gesê hy kan nie lê nie, want dit voel of hy versmoor.”

Maandagoggend was haar man se lippe blou. Sy en ander familielede het hom oortuig om tog hospitaal toe te gaan. “Hy is op sy voete by die huis uit,” sê Colette.

Hulle het tussen 12:00 en 13:00 by die Willem Stals-hospitaal aangekom. Daar is hy in afsondering gehou en ’n Bloemfonteinse hospitaal is gekontak om hom te kom haal. Toe Colette hom die eerste keer omstreeks 16:00 deur die isolasiekamer se venster kon sien, was sy vingerpunte blou en sy naels spierwit.

“Die dokter het gesê hy sal intussen alles in sy vermoë doen.”

Om 21:00 het ’n dokter vir Colette gesê Andrew het dit nie gemaak nie. “Ek het van my kop af geraak. Ek het begin skreeu en by die hospitaal uitgehardloop. Net toe kom die ambulans ingery.”

By Andrew se begrafnis Donderdag was die kis toegedraai in plastiek en op ’n draagbaar geplaas. “Ons kon nie eens aan die kis raak nie.”

Colette en die egpaar se kinders, Curtley (23) en Andruslishé (12), wag steeds op die uitslag van hul Covid-19-toetse.

Sy sê haar man het as polisielid gereeld in die strate gaan loop om seker te maak mense bly tuis. Hy het by die taxistaanplek aangegaan en vir hulle gesê: “Julle wíl nie luister nie, jul (toegelate) tye is só en só laat.”

Hy het ook by polisielede daarop aangedring dat hulle moet maskers dra.

Colette sê haar man was passievol oor sy werk. “Hy sou Sondae ná middagete ’n uur rus voor hy werk toe is.

“Hy het sy lewe opgeoffer vir die gemeenskap, om hulle veilig te hou; nou moet hý die prys betaal.”

Die egpaar sou eerskomende Donderdag hul 15de huweliksherdenking vier. “Covid-19 vat jou hele menswees weg en mense wil nie luister nie,” sê Colette.

Meer oor:  Middelburg  |  Oos-Kaap  |  Covid-19  |  Polisieman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.