Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Ideaal vir inperking 49 dae, sê internis van Bfn

Die ideaal sou wees dat die staat van inperking 49 dae duur en nie 21 dae nie, maar nou is dit ’n balanseertoertjie om die ekonomie wat reeds skade gely het van ’n ineenstorting te red.

So sê die Bloemfonteinse internis dr. Freek Bester, vorige president van die Bloemfontein-tak van die Mediese Vereniging van Suid-Afrika waarvan hy steeds ’n bestuurslid is. Hy dien ook as ’n bestuurslid van die Faculty of Consulting Physicians of South Africa.

“Die hele doel met die inperking is om te keer dat te veel mense gelyk Covid-19 in Suid-Afrika kry. As 1 000 of meer pasiënte gelyk in Bloemfontein se hospitale met Covid-19 beland, sal daar byvoorbeeld nie genoeg mannekrag en ventilators wees nie.”

Hy sê navorsing het getoon dat 49 dae se inperking genoeg is om ’n epidemie te vermy.

Bester sê in Bloemfontein het die staatshospitale en die private hospitale elk sowat 70 ventilators, rojaal geskat.

“Ons wil nie in ’n situasie beland soos in Italië waar daar vir 55-jarige pasiënte by hospitale gesê is om huis toe te gaan en om daar by familie te gaan doodgaan omdat daar nie genoeg ventilators is nie.”

Dr. Freek Bester, ’n Bloemfonteinse internis.Foto: Argief

Bester sê hy skat wat ná 21 dae van inperking in Suid-Afrika gaan gebeur, is dat daar ’n verslapping in die maatreëls vir sekere sakebedrywe sal kom om die ekonomie aan die gang te hou. Regulasies soos die verbod op groot byeenkomste soos troues en begrafnisse of sportbyeenkomste sal egter steeds geld.

Die toepassing van basiese higiëne soos om gereeld hande te was, maskers te dra en ’n afstand van 2 m van ander mense te handhaaf, sal gehandhaaf word.

Bester sê hy besef daar is sakeondernemings soos gastehuise en onthaalplekke in Bloemfontein en die res van die land wat bitter swaar kry omdat hulle geen inkomste het nie. Dit geld ook die reisbedryf, kongresgeriewe, haar- en skoonheidsalonne.

“Die mense sal moet besef dat as Covid-19 na willekeur versprei, dit tot ’n grootskaalse ramp kan lei.”

Bester sê Bloemfontein se medici en hospitale is in die algemeen baie goed voorberei op die siekte.

“Ons dokters en verpleegkundiges het almal goeie opleiding gehad en sal dit kan hanteer sou daar ’n klomp pasiënte gelyk in hospitale beland. Al die dokters, soos interniste, narkotiseurs, ander spesialiste en verpleegkundiges, het hulle ook bereid verklaar om in sulke omstandighede in spanne mekaar af te los. Alles is goed georganiseer.”

Hy sê in dié stadium sien ’n mens nie dat die siekte in Bloemfontein handuit ruk nie en is die episentrums in Gauteng, die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal.

Dit wil tog lyk asof daar ’n effense afplatting in die voorkoms van nuwe gevalle in Bloemfontein en die res van die Vrystaat is.

“Bloemfontein kry nie internasionale vlugte in die stadium waar mense van buite af die siekte inbring nie. Oorsese besoekers moes eers in Johannesburg geland en van daar af na Bloemfontein gereis het, soos die vyf oorsese besoekers wat die kerkbyeenkoms (in die stad) besoek het.”

Hy sê die 86 gevalle van Covid-19 in die Vrystaat (teen Maandag) is nog nie rede tot paniek of groot kommer nie.

“Solank dié mense net geïsoleer, goed behandel word en voorkom word dat hulle ander aansteek. Dan moet nog gevalle as daar is, ook so gou as moontlik opgespoor, geïsoleer en behandel word.”

“Elke keer as jy uit jou huis gaan, stel jy jouself bloot om geïnfekteer te kan word. Bly liewers tuis en koop een keer ’n week kruideniersware en medisyne.

Bester sê hy wil vir mense wat die regulasies omseil en daagliks winkel toe gaan om kastig noodvoorrade te koop, sê dat hulle nie baie slim optree nie.

“Elke keer as jy uit jou huis gaan, stel jy jouself bloot om geïnfekteer te kan word. Bly liewers tuis en koop een keer ’n week kruideniersware en medisyne.”

Hy sê die groot vraag is wat met mense met MIV en vigs gaan gebeur.

“Die antiretrovirale middels wat dié pasiënte gebruik, bevat reeds ’n antibiotikum wat vir die pasiënte dalk ’n groot voordeel (of nadeel) kan bied, waaroor navorsing nou gedoen word.”

Hy sê in Suid-Afrika en in lande soos Brasilië en Indië word pasgebore babas almal die BCG- (Bacille Calmette-Guérin) entstof teen tuberkulose toegedien, anders as in lande soos Brittanje en Europa waar dit afgeskaf is.

Dit kan dalk ook nog help dat Suid-Afrikaners nie so siek word soos hul eweknieë in Europa nie.

Meer oor:  Koronavirus  |  Inperking  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.