Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Immuniteit bied net gedeeltelike beskerming teen nuwe SA variant

* Die opskrif van die berig is aangepas sedert dit gepubliseer is.


Kliniese navorsing het bevind dat die immuniteit van ’n groep mense wat deur die ouer weergawe van die koronavirus besmet is, geen beskerming gebied het teen die Suid-Afrikaanse variant van die koronavirus om ligte tot matige Covid-19 te keer nie.

Prof. Shabir Madhi, wat dié navorsing as deel van die Novavax-entstofproewe gelei het, het dit Donderdag by navraag bevestig in die lig van toenemende bewyse dat die nuwe variant aangepas het om die immuniteit van mense wat deur die ouer koronavirus besmet is, tot ’n mate te kan omseil.

Prof. Shabir Madhi Foto: Argief

Volgens wetenskaplikes dui al die navorsing oor die Suid-Afrikaanse variant, sowel as ander soortgelyke variante wat in ander wêrelddele ontstaan het, boonop daarop dat die virus sal aanhou muteer om natuurlike immuniteit, sowel as dié van entstowwe, te kan omseil.

Hulle verduidelik dit is baie dieselfde as in die geval van griepvirusse waarvoor entstowwe jaarliks aangepas moet word, en mense ná ’n ruk weer griep kan kry.

Prof. Adrian Puren, waarnemende uitvoerende direkteur van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios), het vroeër aan Netwerk24 gesê hulle is besig om al die uitslae van toetse vir die virus sedert vroeg verlede jaar na te gaan om te kan bepaal hoeveel Suid-Afrikaners weer deur die variant geïnfekteer is.

Die proewe van die entstowwe van Novavax, AstraZeneca en selfs Johnson & Johnson (J&J) het daarop gedui dat die Suid-Afrikaanse variant die doeltreffendheid van dié entstowwe tot verskillende mates verminder het.

Madhi verduidelik dat deelnemers in die geval van die Novavax-proewe in twee groepe verdeel is – ’n groep wat die entstof ontvang het, sowel as ’n plasebo-groep wat nie die entstof gekry het nie.

In die geval van die plasebo-groep is twee groepe mense met mekaar vergelyk – een groep wat tydens die eerste vlaag van infeksies in die middel van verlede jaar geïnfekteer is en toe later weer deur die variant besmet is, en ’n tweede groep wat slegs die variant opgedoen het.

Albei groepe het ewe siek geword.

Die navorsing is egter op jonger, gesonde mense uitgevoer en niemand het ernstig siek geword nie.

Die verwagting is ook dat vorige infeksies wel ’n mate van beskerming teen herinfeksies teen nuwe variante sal bied, hoewel dit beperk kan wees en dalk net sal help om ernstige infeksie (siekte) af te weer.

Prof. Elizabeth Mayne, hoof van immunologie aan die Universiteit van die Witwatersrand, sê egter die belangrike vraag is of die immuniteit wat ontwikkel is weens die ouer virus, help om ernstige siekte af te weer deur die variant.

“Ek is nie bewus van enige navorsing wat hieroor bekend gemaak is nie so dit is vir eers onnodig om oor dié kwessie te wonder,” sê Mayne.

Sy verduidelik die Suid-Afrikaanse variant, 501Y.V2, het mutasies op sy uitstippelings wat veroorsaak dat teenliggaampies nie so doeltreffend daaraan kan bind nie.

Volgens haar was dit nog altyd die verwagting dat die koronavirus sou aanpas, en dat dit weer sal aanpas, omrede “dit is wat koronavirusse gewoonlik doen”.

“Die verwagting is ook dat vorige infeksies wel ’n mate van beskerming teen herinfeksies teen nuwe variante sal bied, hoewel dit beperk kan wees en dalk net sal help om ernstige infeksie (siekte) af te weer,” verduidelik sy.

Die vlak van beskerming kan ook wissel tussen individue.

Die rede is dat ons weet selfs die ouer virus kan herinfeksie veroorsaak, en ek sal nie oorkant ’n pasiënt wil sit as ek beperkte immuniteit het nie.

Sy verwag ook dat die koronavirus in die toekoms hom op só ’n manier sal aanpas wat hom minder dodelik en skadelik maak, “want dit is ’n swak strategie vir ’n virus om sy gasheer dood te maak”.

Volgens haar sal sy steeds die entstof neem, al was sy vroeër deur die koronavirus besmet.

“Die rede is dat ons weet selfs die ouer virus kan herinfeksie veroorsaak, en ek sal nie oorkant ’n pasiënt wil sit as ek beperkte immuniteit het nie.”

In die lig van die kans dat die virus sal aanhou aanpas, sal die virus volgens Madhi nie uitgeroei kan word nie, en is die kans ook skraal dat groep-immuniteit haalbaar is.

Dr. Mosa Moshabela, dekaan van die departement vir openbare gesondheid en verpleegkunde aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, stem egter nie ten volle saam nie. Volgens hom is dit steeds moontlik om deur ’n mengsel van inentings en nie-farmaseutiese ingrypings die virussiekte uit te roei. Dit sal egter ’n wêreldwye poging verg omrede virusse in een land kan aanpas en dan na ander kan versprei.

Meer oor:  Prof. Shabir Madhi  |  Koronavirus  |  Immuniteit  |  Pandemie  |  Sa Variant  |  Herinfeksie  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.