Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
In die frontlinie tussen geliefdes en die virus

Dokters, verpleegsters en paramedici veg in die voorste linie teen die Covid-19-pandemie. Hul werk is ’n roeping, maar hulle moet ook hulself en hul geliefdes teen dié siekte beskerm. Jeanne-Marié Versluis en Julian Jansen het met ’n paar van dié “beskermengele” gaan praat.

Eric Ndedwa en Saadiq Petersen, paramedici van die Pinelands-ambulansstasie naby Kaapstad. Foto: Edrea du Toit

Die Covid-19-pandemie is ’n skrik vir die paramedici, maar ons werk is ’n roeping van die Almagtige. Ons werk as beskerm­engele van die publiek”, sê Yagyah Confield, ’n toesighouer by die Pinelands-nooddienste-sentrum van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement.

Confield is opgelei vir nooddiens tydens chemiese en biologiese oorlog. “So skrikkerig soos ék is, moet ek die lede so rustig moontlik maak en hulle herinner dat hulle met Covid-19 ekstra versigtig moet wees.

“Voor en nadat ons uitgeroep is, gesels ons oor die operasie.” Ná elke rit word alle noodvoertuie ontsmet.

’n Ambulans word eenkant gehou, sou daar ’n positiewe Covid-19-geval kom. Confield sê paramedici word ook nog gereeld by tonele besteel of aangerand en daarom vergesel die polisie hulle na “rooi sones”.

Ná sy skof moet sy 5-jarige eers wegbly.

Hy “bid dat God die virus sal wegvat”.

Die paramedikus Eric Ndedwa sê pasiënte “word nou eers sorgvuldig gescreen. My werk is scary, maar ek bestuur en my kollegas staan sterk langs my.

“Ná ’n skof van 12 uur moet my vrou ons vyfjarige seun weghou terwyl ek myself eers in die oprit ontsmet. Dis nie maklik om jou kind te ignoreer terwyl jy hulle eers teen jou moet beveilig nie. Ek smeek die publiek: Bly asseblief by die huis!”

Volgens die sentrumbestuurder, Dellwyn Harfield, staan 900 vrywilligers met kennis van noodhulp slaggereed, sou die inperking verleng word.

Op Somerset-Wes sê ’n verpleegster (sy verkies om anoniem te bly) by die Medi­clinic Vergelegen sy kry eersdaags verlof – oor daar so min pasiënte in die hospitaal is.

Tanya van der Bijl, ’n verpleegkundige.

“Ons gebruik nie meer vinger-scanners – om toegang tot kamers te kry nie, maar het nou kaarte om te swipe. Mediclinic is baie gesteld op ontsmetting. Ons raak aan niks onnodig nie. Die hospitaal is baie stil. In ’n saal wat 44 pasiënte kan dra, is daar nou minder, almal vir klein operasies.”

Dr. Douw Holder, ’n Pretoriase ginekoloog, sien in dié tyd sowat tien pasiënte per dag. Hy vra die pasiënte om met maskers op te daag. Die afsprake is ver uit mekaar sodat net een vrou op ’n slag daar is.

Hy dra elke dag ’n stel skoon teaterklere, -skoene en ’n KN95-masker. “Ek vee my pen en selfoon gereeld met ’n alkohollappie af.” Hy dra nie sy trouring of horlosie nie – die virus kan daarop leef.

Tuis gebruik hy sy eie stort en aantrekkamer. Nadat hy sy klere in ’n aparte sak gesit en gestort het, gaan groet hy sy gesin.

Hy was wel in Maart twee weke in self-isolasie by die huis nadat een van sy swanger pasiënte positief getoets het vir Covid-19.

Sy praktyk was twee weke gesluit. By die huis het hy in sy eie gedeelte gebly. “Ek het heeltyd ’n masker gedra en ’n afstand van 2 m gehandhaaf wanneer ek met hulle gepraat het.”

Dr. Koos Louw, algemene praktisyn.

Dr. Susan de Beer, ’n algemene praktisyn van Vereeniging, sê wanneer hul praktyk se personeel by die huis kom, volg hulle ook ’n ritueel. “Jy sit jou skoene in die garage. Dan trek jy jou klere uit en was dit. Dan gaan stort jy.”

Die praktyk het net nadat die eerste persoon in KwaZulu-Natal positief getoets is vir Covid-19, voorsorgmaatreëls ingestel. Net vyf mense word in die wagkamer toegelaat en hulle sit ver uitmekaar. Omdat gesigmaskers skaars is, het sy lapmaskers laat maak sodat elke pasiënt een kan opsit.

De Beer se man werk van die huis af en hulle het hoërskoolkinders. Sy koop ook hul kruideniersware omdat sy as ’n noodsaaklike werker reeds uitgaan. Sy sê hul praktyk is nou baie stil. “Dit is vir ons ’n finansiële slag.”

Tanya van der Bijl, ’n verpleegkundige by ’n wondsorgpraktyk in Centurion, sê as die noodsaaklike werker in haar gesin, is sy “bevoorreg” om uit die huis te kan kom. “Die ander wil teen die mure uitklim.”

Omdat maskers skaars is, het hulle ’n plan bedink vir pasiënte. Hulle maak maskers uit die papiervelle wat op die instrumentborde gebruik word, sit rekkies aan en siedaar!

Sodra sy by die huis kom, trek sy haar klere uit. “Ek gooi dit in die masjien en sit dit op ’n warm siklus. Ek loop au naturel in die gang af en gaan stort.”

Dr. Koos Louw is die enigste dokter op die Karoodorp Williston en sy vrou, Maryke, is ’n verpleegster. Hulle bedryf ’n apteek vanuit die gebou en gee medisyne deur ’n venster vir die publiek aan. Omdat die virus op geld kan leef, word die kontant in ’n sak gesit wat vir ’n week in ’n hoek in die praktyk gebêre word voordat hulle dit hanteer.

Louw het ’n buitegeboutjie op die perseel ingerig vir vermoedelike Covid-19-gevalle. Hy sê hul dorp is gelukkig taamlik geïsoleer en dis net vragmotors wat verbyry.

“Wat die virus betref, is ek meer bekommerd oor wat in die winter gaan gebeur.”

Meer oor:  Dokters  |  Verpleegsters  |  Covid-19-Pandemie  |  Paramedici
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.