Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Inentings: 'Dis 'n enorme prestasie’

Dit is ’n enorme prestasie dat Suid-Afrika in staat is om ’n jaar nadat die pandemie hier uitgebreek het binnekort met inentings te kan begin.

So het dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Woensdag op ’n webinaar oor die eerste fase van die regering se inentingsprogram gesê.

Hy het onthul dat die eerste besending van miljoen entstowwe uit Indië Maandag by die O.R. Tambo-lughawe in Johannesburg sal aankom.

Die vlug sal reeds Sondag vertrek.

“Mense is helde wat aan proewe vir entstowwe deelgeneem het. Dit is net deur proewe op mense wat die doeltreffendheid van mense getoets kon word,” het Mkhize gesê.

In Suid-Afrika sal die entstowwe vir 14 dae aan tegniese toetse onderwerp word voordat die eerste inentings begin.

Die entstowwe is deur AstraZeneca en die Oxford-Universiteit ontwikkel.

Mkhize het benadruk dat alle regulatoriese struikelblokke uit die weg geruim is sodat massa-inentings kan voortgaan.

Die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte-beheerraad (Sahpra) het reeds die groen lig gegee.

Prof. Barry Schoub, voorsitter van die ministeriële komitee vir entstowwe, sê uit sowat 219 kandidaat-entstowwe is daar sowat ses entstowwe wat reeds ontwikkel is en wat verskillend werk. Hulle is onder meer die entstowwe van AstraZeneca, Pfizer en Moderna, asook die Sput- nik V-entstof van Rusland, en die Sinovac-entstof van China.

Dr. Anban Pillay, adjunk-direkteur-generaal van gesondheid, sê die AstraZeneca-entstof is sowat 62% tot 90% doeltreffend. Dit vereis twee dosisse wat vier tot 12 weke uitmekaar toegedien moet word.

Die entstof moet teen 2 °C tot 6 °C geberg word en kan ligte tot me­dium- newe-effekte veroorsaak wat gewoonlik binne ’n paar dae verdwyn. Die newe-effekte sluit in hoofpyn, koue rillings, naarheid en moegheid.

Prof. Koleka Mlisana, hoof van die mikrobiologie-departement by die Universiteit van KwaZulu-Natal, meen dit is eintlik ’n voordeel dat meer as 71 miljoen dosisse entstowwe al in ander lande toegedien is omdat Suid-Afrika die proses kan dophou vir foute.

Mlisana wou ook sekere wanopvattings uit die weg ruim wat deesdae op sosiale media die ronde doen.

“Daar is geen manier dat daar ’n elektroniese skyfie in die entstof-bottel is nie.

“Sahpra ontvang aansoeke van verskaffers en werk noukeurig deur al die data.

“Die entstowwe gaan ook nie jou DNS verander nie. Die entstof lewer ’n reeks opdragte wat ’n respons deur jou immuunstelsel veroorsaak.”

Dr. Boitumelo Semete-Makokotlela, uitvoerende hoof van Sahpra, sê hulle het ’n art. 21-proses gebruik om die entstowwe van die SII goed te keur.

“Ons het ’n strawwe proses gevolg voordat die entstof goedgekeur is. Ons het aandag gegee aan kwessies soos gehalte, doeltreffendheid en veiligheid.”

Sahpra, wat ’n ondersoek ingestel het na die vervaardiging deur SII, is tevrede met die standaarde wat deur die instituut toegepas word. Sahpra het al voorheen met die instituut gewerk. Sahpra is ook gerus dat die data van kliniese studies op die entstof toon dat dit veilig en doeltreffend is.

Volgens Semete-Makokotlela sal Sahpra in samewerking met die departement van gesondheid die ontplooiingsproses van die entstowwe noukeurig dophou.

“Wanneer daar ernstige negatiewe reaksies ontvang is, sal verslae binne 24 uur ontvang word. Vir ander newe-effekte moet verslae binne ’n week beskikbaar wees.”

Kudde-immuniteit

Dr. Aquina Thulare, wat betrokke is by die entstofplan, sê sowat 40 miljoen Suid-Afrikaners moet inentings ontvang om kudde-immuniteit te bewerkstellig.

Slegs 7,1 miljoen is deel van mediese fondse wat vir hul lede se inentings moet betaal. Die regering sal vir die res betaal, hoewel die private sektor die koste sal help subsidieer.

Volgens Thulare sal ’n elektroniese entstof-datastelsel die program koördineer waardeur afsprake gereël sal word, asook sal monitor wie entstowwe ontvang het.

Meer oor:  Zweli Mkhize  |  Entstowwe  |  Entstof  |  Koroanavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.