Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Inentings in SA ‘sal nog spoed optel’

Inentings teen die koronavirus Ears-CoV-2 in Suid-Afrika sal na verwagting in die komende maande drasties toeneem namate groter besendings entstof aan die land gelewer word.

Dít blyk uit die tydraamwerk wat dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Maandag op ’n mediakonferensie bekend gemaak het.

Mkhize is ook vol vertroue dat die toediening van Johnson & Johnson (J&J) se entstof “binne die volgende dae” sal hervat nadat dit verlede week weens kommer oor veiligheid as voorsorgmaatreël tydelik gestaak is.

Hy het aangekondig die regering het altesaam meer as 61 miljoen entstof-dosisse van J&J en Pfizer-BioNTech bekom – genoeg om 46 miljoen mense in Suid-Afrika in te ent.

Volgens hom word die eerste besending van 1,1 miljoen dosisse van J&J “einde vandeesweek” verwag en die eerste besending van Pfizer vroeg in Mei.

Hy het op ’n vraag gesê die huidige stadige pas van inentings kan toegeskryf word aan ’n gebrek aan voorraad, maar dié situasie sal binnekort verander.

“Die pas van inentings sal regstreeks afhang van die spoed waarteen entstowwe aan Suid-Afrika gelewer word.”

Mkhize het gepraat op ’n mediakonferensie by die Mitchells Plain-hospitaal, as deel van ’n toesigbesoek aan die Wes-Kaap om sy gereedheid vir fase 2 van inentings te bepaal, wanneer massa-inentings sal begin.

Dr. Zweli Mkhize (regs), minister van gesondheid, luister Maandag by die inentingsperseel van die Mitchells Plain-hospitaal na dr. Nomafrench Mbombo, Wes-Kaapse LUR vir gesondheid (met haar rug na die kamera). Links van Mkhize is Alan Winde, premier van die Wes-Kaap. Foto: Christiaan du Plessis

Die tweede fase, waarvolgens diegene ouer as 60 jaar geprioritiseer word, sal ná 17 Mei begin en registrasie vir inentings op die regering se elektroniese entstof-datastelsel (EVDS) het reeds geopen.

Provinsies berei tans persele voor waar die inentings toegedien sal word.

Die regering hoop om teen 17 Oktober meer as 16 miljoen mense by openbare en private persele in te ent.

Van J&J se enkeldosis-entstof sal glo 3 miljoen dosisse tussen April en Junie gelewer word, 9,1 miljoen dosisse tussen Julie en Oktober en 19 miljoen dosisse van Oktober af. Dit is altesame 31,1 miljoen dosisse.

In die geval van die dubbeldosis-entstof van Pfizer, waarvan 30 miljoen verseker is, word 10 miljoen dosisse volgens Mkhize teen die begin van Julie verwag en ’n verdere 16,5 miljoen teen Oktober. Die res sal van Oktober af gelewer word.

Mkhize het ook die datums van besendings van die Pfizer-entstof verskaf (sien grafika).

Weens logistieke redes sal die J&J-entstof hoofsaaklik in landelike gebiede toegedien word en dié van Pfizer hoofsaaklik in stedelike gebiede.

Mkhize het gesê hy is tevrede met die planne vir fase 2 wat Maandag deur die Wes-Kaapse regering aan hom voorgelê is.

Volgens hom is “klein dingetjies” belangrik wat doeltreffende persele vir inentings betref. Dit sluit in dat die gewag in rye ordelik moet geskied, dat alle werkers op hul pos moet wees en dat die “vloei van mense” naatloos moet verloop.

Elke perseel, van klein tot massief, moet ook oor ’n afgebakende gebied vir waarneming beskik, waar mense ná hul inenting vir ’n rukkie moet wag om vir enige moontlike newe-effekte waargeneem te word.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid (middel), Maandag by die inentingsperseel van die Mitchells Plain-hospitaal. Foto: Christiaan du Plessis

Elke perseel moet ook ’n noodeenheid hê ingeval mense weens newe-effekte dringende mediese behandeling benodig.

Mkhize het benadruk hy is “vol vertroue” dat die toediening van die J&J-entstof aan mediese werkers as deel van die Sisonke-studie binnekort sal hervat.

Dit kom nadat die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte-beheerraad (Sahpra) Maandag sy voorwaardelike aanbeveling bekend gemaak het dat inentings met die J&J-entstof kan voortgaan.

Inentings daarmee is verlede week tydelik opgehef weens kommer oor ses vroue in Amerika by wie bloedklonte tesame met lae bloedplaatjie-vlakke aangemeld is kort nadat hulle ingeënt is.

Volgens Mkhize moet die kwessie nog gefinaliseer word na aanleiding van konsultasies met onder meer die Mediese Navorsingsraad van Suid-Afrika (MNR), wat die studie bestuur, J&J en sekere komitees.

Luidens die verklaring wat Sahpra Maandag uitgereik het, gaan sy aanbeveling oor die hervatting van inentings met die J&J-entstof met sekere voorwaardes gepaard.

“Die voorwaardes sluit in strenger sifting en monitering van deelnemers wat ’n hoë risiko het vir ’n bloedklont-toestand,” lui die verklaring.

Maatreëls moet ook toegepas word vir die veilige bestuur van deelnemers aan die studie wat weens inentings ’n lae bloedplaatjie-vlak ontwikkel.

Voorts moet die nuwe geïdentifiseerde newe-effekte ook op die toestemmingsvorm aangebring word en deelnemers moet ook oor die risiko ingelig word.

grafika
Grafika
grafika
Grafika

Meer oor:  Koronavirus  |  Entstof  |  Inentings  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.