Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Inentings: Só werk registrasie vir mense ouer as 60
JOHANNESURG, SOUTH AFRICA - APRIL 08: A board poin
Kennisgewings by die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg. Foto: Deaan Vivier

Suid-Afrikaners van ouer as 60 kan vanaf Vrydag om 16:00 registreer om hul Covid-19-inenting te ontvang.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Vrydag die aanlyn stelsel bekend gestel waarop Suid-Afrikaners vir die inentings sal kan registreer.

Mkhize het verduidelik dat Suid-Afrikaners van ouer as 60 geprioritiseer sal word. Hy het ook benadruk dat almal die inenting sal ontvang, ongeag of jy ’n mediese fonds het of nie.

“Daar sal geen verskil wees tussen diegene wat in die private en dié wat in die openbare sektor ingeënt word nie, behalwe vir die feit dat mense wat in die private sektor ingeënt word, wel van hul mediese fondse gebruik sal maak,” sê Mkhize.

Jou mediese fonds sal die geld direk aan die regering oorbetaal. Dit sal nie uit jou jaarlikse spaarfonds kom of enige van jou ander voordele vir die jaar beïnvloed nie en geen bybetaling sal vereis word nie.

Hoe werk dit?

Suid-Afrikaners kan die aanlyn stelsel by https://vaccine.enroll.health.gov.za/#/ besoek om te registreer.

Daar sal onder meer van jou verwag word om jou identiteitsnommer, adres en selfoonnommer op die stelsel in te vul.

Jy sal ook kan kies of jy by ’n inentingsentrum naby aan jou werk of huis ingeënt wil word, of jy weeksdae of naweke verkies en of jy in die oggend of middag die inenting wil ontvang.

Niks later nie as 24 uur ná registrasie sal jy ’n SMS ter bevestiging hiervan ontvang. Nog ’n SMS sal dan later aan dieselfde nommer gestuur word wat aandui waar, wanneer en hoe laat jy vir jou inenting kan gaan.

Na afloop van die inenting sal jy ’n inentingsertifikaat en SMS ontvang wat bevestig dat jy ingeënt is.

Mkhize het beloof dat Suid-Afrikaners wat nie toegang tot die internet of ’n selfoon het nie, ook geakkommodeer sal word.

“Ons verstaan nie almal het ’n slimfoon of toegang tot die internet nie, maar ons sal die slimfone inspan wat aan ons geskenk is om diesulkes by te staan,” sê hy.

“Ons spanne sal na kwesbare mense in gemeenskappe uitreik om seker te maak almal is geregistreer en word ingeënt.”

As jy sukkel om op dié maniere te registreer, kan jy ook na een van die inentingsentrums gaan en daar gaan registreer, sê Mkhize. Nog inligting oor die inentingsentrums sal binnekort bekend gemaak word.

Die departement van gesondheid het benadruk dat hulle mense se persoonlike inligting veilig berg en dat dit nie gedeel sal word nie.

Martin Kingston van Business for South Africa (B4SA) het op die geleentheid gesê die privaat sektor werk nóú saam met die regering om ’n suksesvolle inentingsprogram te verseker.

“B4SA het ’n operasionele stelsel in lyn met dié van die regering begin en die privaat sektor beoog om 160 000 mense per dag in te ent. Die privaat sektor sal ook pasiënte van die openbare sektor akkommodeer,” sê Kingston.

“Ek is vol vertroue dat 40 miljoen Suid-Afrikaners teen die eerste kwartaal van 2022 ingeënt sal wees.”

Let wel, enige registrasie wat voor Vrydag om 16:00 gedoen word, sal ongeldig wees.

Meer oor:  Inenting  |  Koronavirus  |  Virus  |  Enstof  |  Pandemie  |  Covid-19  |  Entstowwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.