
Was jou hande gereeld met seep en water.
Koronavirus-infeksies in die Tuinroete neem steeds toe.
Daar was sedert die begin van Oktober ’n toename van 120% in nuwe bevestigde gevalle in die Kannaland-gebied (wat Ladismith insluit), 80% in Bitou (Plettenbergbaai) en 65% in Mosselbaai, het gesê Gerhard Otto, hoof van rampbestuur by die Garden Route-distriksmunisipaliteit, in ’n verklaring.
Otto het gesê ’n tweede vlaag van infeksies word voorspel. In oorsese lande het die tweede vlaag tussen drie tot vier maande ná die aanvanklike uitbreking plaasgevind. In Suid-Afrika is die eerste vlaag nog nie verby nie, en verskillende gebiede het op verskillende tye die hoogtepunt van infeksies bereik.
“Dit is dus baie moeilik om te voorspel wanneer die tweede vlaag gaan kom. Wat wel so is, is dat ons vir die tweede vlaag moet beplan.”
Mense raak oorgerus omdat die land op vlak 1 van die inperking is en hulle dink dat die virus iets van die verlede is
Hy het gesê mense raak oorgerus omdat die land op vlak 1 van die inperking is en hulle dink dat die virus iets van die verlede is. Mense dra nie meer hul maskers nie en gee nie gehoor aan veiligheidsregulasies of higiëne nie. Hulle dink ook die virus gaan soos ’n gewone verkoue wees, maar mense moet onthou dit is ’n nuwe virus waaroor min nog bekend is.
Hy het verwys na ’n onlangse voorval waarin meer as 60 Kapenaars die virus opgedoen het toe hulle in ’n kroeg in Kaapstad se suidelike voorstede gekuier het, en sê hierdie soort ding kan meer dikwels voorkom. Mense raak gerus en stel hul eie gesondheid en dié van ander in gevaar, voeg hy by.
Inwoners van die Tuinroete word gewaarsku om steeds gehoor te gee aan die veiligheidsregulasies en die vyf reëls van higiëne na te kom: Was jou hande gereeld met seep en water of ontsmet dit; dra ’n masker in die openbaar en moenie aan jou gesig vat nie, nies en hoes in jou elmboog of in ’n sneesdoekie, handhaaf ’n afstand van minstens 1,5 m van ander en bly tuis as jy siek voel.