Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Ingeperk – toe braai hul maar per foon!
Phia en Jako van Heerden tydens hul telefoniese braai met hul vriende, en die knertsie wat hulle gedeel het.

Kuier sal hulle kuier – al knou ’n virus hul tradisionele Vrydagaand-braai.

Dit is hoe twee gesinne, waarvan die mans al sedert laerskooldae vriende is, reeds voor die komende isolasietydperk op die ingewing van die oomblik besluit het.

Die eerste #Broon was so suksesvol, dat die twee gesinne ’n “ampetlike uitnodiging” geskep het vir hul volgende virtuele braai.

Eg Suid-Afrikaans, sou niks vir Jako en Phia van Heerden, en vir Jason en Petro Scheün keer om hul ou tjoppie en ’n knertsie saam aan die einde van die week te geniet nie – al moes hulle dit dan “oor die foon doen”.

“#Broon”, het Jako die nuwe vriende-tradisie gedoop: “Braai oor die foon . . .”

“Jako en Jason kom al donkiejare saam, en so het ons twee gesinne vriende geraak. Ons braai byna elke Vrydagaand by ons huis. Ons bly baie naby aan mekaar in Pretoria,” vertel Phia.

Jason skat dit is so 6 km uitmekaar.

Toe lui die foon een aand . . .

Toe sluit die skole weens die Covid-19-pandemie. Albei gesinne het jong kinders.

“Daarom het ons besluit om nie verlede Vrydag nie, en totdat die virus uitgewoed is, maar ons braais en sosiale uitstappies tydelik op te skort. Dit is nie die moeite werd met die risiko van die kinders nie,” sê Jason.

Toe lui die foon een aand . . .

Petro en Jason Scheün by die video-oproep met die Van Heerdens tydens hul #Broon - Braai oor die foon.

Phia vertel: “Die #Broon was nie beplan nie. Ek en Jako het maar weer die ou vuurtjie gemaak om te braai. En net daar besluit ons om vir Jason en Petro te video call sodat hulle darem iets van die braai kan meemaak en geniet.” Daar, danksy foontegnologie, begin die vriende soos altyd om ’n vuurtjie (dit was ’n virtuele een vir die Scheüns) te kuier.

“Dit het daardie aand gereën. Ons het ’n afdak, maar Jason en Petro nie, so hulle het maar oor die foon meegedoen. Maar hulle was steeds deel van die braai.

“Ons het soos altyd gesels, die kinders het tussen-in met mekaar gepraat, ons het ons vuur en vleis vir hulle gewys, en toe het almal saam ’n ietsie gedrink,” lag Phia.

Die #Broon was nie beplan nie. Ek en Jako het maar weer die ou vuurtjie gemaak om te braai. En net daar besluit ons om vir Jason en Petro te video call.

Dit was op die ou end ’n “lekker kuier”, soos wat dit altyd is as die twee gesinne bymekaar kom.

Petro skater oor die Van Heerdens se braai-plan.

“Hier kry ons daardie aand uit die bloute ’n video-oproep, wat uitdraai soos ons tipiese kuiers – net vanaf elkeen se huis. As een foon pap raak, dan gebruik ons ’n ander foon.

Die twee gesinne braai oor die foon.

“Dit het so goed gewerk, dat ons die volgende dag by ons ’n vuurtjie aangesteek het. ’n ‘Amptelike Uitnodiging’ is aan mekaar gestuur vir ’n video-oproep, wat ook die ‘braaityd’ sou wees.

“Dit was nou wel nie so lekker soos ons tradisionele braais nie, en nou moet elkeen alleen alles maak, soos die verskillende bykosse: dis nie meer een bring broodjies, die ander een slaai of pap nie.

“Maar ons kon mekaar wys hoe lyk ons vuur en ‘saam’ eet,” sê Petro.

Haar man voeg by dat hulle ten minste soos voorheen die week se dinge, sowel as die nuus, kon bespreek.

Ja, stem al vier saam: #Broon sal die nuwe tradisie wees, totdat die virus-bedreiging verby is.

“Maar dan,” sê Jako, “. . . dán gaan ons bráái!”

Meer oor:  Jako Van Heerden  |  Jason Scheün  |  Inperking  |  Covid  |  Braai  |  Korona  |  Broon  |  Braai Per Foon
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.