Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Inperking: Alles wat jy mag en nié mag nie

Oortreders van die staat van inperking se regulasies sal strafregtelik vervolg word.

Jy kan tot ses maande tronkstraf gevonnis word, ’n boete opgelê word, of tot tronkstraf én ’n boete gevonnis word as jy die reëls oortree, het ministers Woensdag by die Uniegebou in Pretoria aangekondig.

Die regulasies is Woensdag in die Staatskoerant gedruk.

Dit sal vanaf Donderdag 26 Maart om 00:00 tot 16 April om 00:00 geldig wees.

Die staat van inperking mag verleng word indien die staat dit nodig ag.

Vir die volgende 21 dae mag jy nie:

  • Jou huis of erf verlaat nie, tensy jy ’n noodsaaklike diens moet verrig of bekom, ’n maatskaplike toelaag moet gaan haal, of in ’n mediese noodsituasie verkeer (’n ongevalle-pasiënt) of mediese behandeling vir ’n kroniese toestand moet ontvang.
  • Saamtrekke word verbied. Daar word voorsiening gemaak vir begrafnisse wat deur ’n maksimum van 50 mense bygewoon mag word. Nagwake word verbied.
  • Niemand mag tussen provinsies beweeg nie.
  • Niemand mag tussen stede of verskillende munisipale streke beweeg nie.
  • Alle ondernemings sal hul deure sluit, tensy hulle ingesluit word op die lys van noodsaaklike dienste.

Die volgende plekke sal toe wees, volgens Bheki Cele, minister van polisie:

1. Enige plek of perseel waar kerk-, kulturele, sport-, vermaak-, ontspannings- of soortgelyke aktiwiteite plaasvind.

2. Enige plek wat nie-noodsaaklike goedere verkoop, sowel as parke, strande, vlooimarkte, basaars, casino’s, hotels en gastehuise.

3. Private en openbare wildparke, vakansieoorde, drinkplekke soos tavernes, sjebiens en shishanyamas.

4. Drankwinkels en die dele van supermarkte wat drank verkoop

5. Rolprentteaters, winkelsentrums, taxi-staanplekke, bus- en treinstasies.

6. Restaurante

  • Winkels wat noodsaaklike goedere verkoop word verbied om enige ander goedere te verkoop.
  • Spazawinkels sal toegelaat word om sake te doen.
  • Jy mag nie met jou hond gaan stap nie, al sê vorige gerugte wát.
  • Die aankoop en gebruik van alkohol in die openbaar word verbied.

Toetse vir Covid-19

Niemand wat vermoed word dat hulle die koronavirus onder lede het, mag weier om daarvoor getoets te word nie, of weier om in kwarantyn of isolasie geplaas te word nie. Positiewe gevalle mag ook nie weier om behandeling te ontvang nie.

Indien jy sou weier, sal jy vir 48 uur in die nodige, veilige fasiliteite ingedwing word, hangende ’n lasbrief vir jou inhegtenisneming.

Misdaad:

  • Die polisie gaan sy eenhede vermeerder wat optree teen huishoudelike geweld. Slagoffers kan die polisie skakel op 0800 150 150. Bel 10111 vir misdaadgevalle.

Grensposte en dienste deur binnelandse sake:

  • Alle grensposte (en hawens) is gesluit en net goedere sal deur sommige grensposte toegelaat word. Buitelanders wat in die land aangekom het net voor die inperking, sal tot tydelike huisvesting beperk word en mag aan kwarantyn-prosesse onderwerp word.
  • Dr. Aaron Motsoaledi het gesê binnelandse sake gaan net tydelike identiteitsdokumente in die 21 dae uitreik. Geen aansoeke vir nuwe ID’s sal verwerk word nie en geen paspoorte, nuwe geboortesertifikate of huweliksertifikate (oud of nuut) sal uitgereik word in die 21 dae nie. Daar sal net vervangingsgeboortesertifikate daartydens uitgereik word.
  • Binnelandse sake sal wel doodsertifikate uitreik.

Vervoer

  • Alle pendelvervoerdienste word gestaak, met die uitsondering van busse, taxi’s, vervoerdienste soos Uber en private motors om werkers te vervoer wat noodsaaklike dienste lewer, of vir mense om noodsaaklike dinge te doen, soos om kos te koop of om mediese behandeling te bekom. Openbare vervoer mag nie meer as 50% van hul gelisensieerde kapasiteit vervoer nie. As ’n taxi dus 14 mense kan vervoer, mag hy nou net sewe vervoer.
  • Fikile Mbalula, minister van vervoer, het gesê geen openbare vervoerdienste mag tussen 09:00 en 16:00 ry nie.
  • Alle internasionale asook plaaslike vlugte word gestop. Net noodsaaklike vrag sal in die land toegelaat word. Goedere uit hoërisiko-lande moet ontsmet word.
  • Plesierbote word die hawens verbied. Noodsaaklike vrag sal by hawens ontvang word.
  • Minibustaxi’s: Taxi’s wat gefinansier word deur Sifa sal ’n drie maande paaiement-vakansie kry. Banke oorweeg soortgelyke stappe. Taxi’s sal net noodsaaklike dienste se personeel mag vervoer. Die tye is van 05:00 tot 09:00 in die oggend en smiddae van 16:00 tot 20:00. Voorsorgmaatreels teen die virus moet vir elke rit getref word. Die regering sal help waar moontlik.
  • Metertaxi’s en Uber- en ander dienste sal toegelaat word om noodsaaklike dienste se personeel te vervoer. Hulle sal ook van 05:00 tot 09:00 en weer van 16:00 tot 20:00 mag ry. Hierdie voertuie moet ook ontsmet word.
  • Voertuie wat vier mense kan vervoer, kan ook net met een passasier ry. Ontsmettingsmiddels moet in alle taxi’s beskikbaar wees en moet ten minste ’n 60%-alkoholbasis hê.
  • Busse sal net mense vervoer wat noodsaaklike dienste lewer, “soos Eskom-werkers of diegene wat na die hospitaal gaan”. Alle oorgrensbeweging van mense word verbied. Goedere kan wel nog na en van buurlande in- en uitgevoer word.
  • Alle sentrums vir bestuurslisensies sal gesluit wees. As lisensies in dié tydperk verval, sal dit nog as geldig beskou word totdat die tydperk verby is.
  • As jou bestuurslisensie tydens die inperking verval, sal dit steeds vir die duur van die inperking geldig wees.
  • Waar mense ’n noodsaaklike diens moet lewer, maar nie toegang tot vervoer het nie, moet die werkgewer vir die vervoer sorg op voorwaarde dat die voertuig nie meer as 50% van sy gelisensieerde kapasiteit mag vervoer nie.
  • Die departement van vervoer sal direktiewe uitreik vir mense wat noodsaaklike goedere wil bekom, maar nie toegang tot private vervoer het nie.

Vergoeding vir skade

  • Niemand sal vir enige skade of verliese vergoed word wat ontstaan weens ’n “ter goedertrou-optrede” (bona fide) deur enige wetstoepasser nie. As ’n polisiebeampte byvoorbeeld jou kar deursoek en nié-kwaadwillig iets beskadig, mag jy hom/haar nie daarvoor dagvaar nie.

Lees ook: Wat is oop en wat is toe? Hier is die lys

In 'n neutedop:

Só lyk die lys van regulasies wat jou bewegings beperk:

  • Slegs 50 mense sal by 'n begrafnis toegelaat word.
  • Joernalilste moet hul perskaarte, ID dokumente en 'n bewys van hul werkgewer wys, voordat hulle mag rond beweeg.
  • Jy mag nie in die straat met jou hond gaan stap nie of gaan draf nie.
  • Groot winkelsentrums sal gesluit wees.
  • Jy mag slegs by jou naaste winkel inkopies doen.
  • Winkels wat noodsaaklike goedere verkoop word verbied om enige ander goedere te verkoop
  • Beperkte openbare vervoer slegs tussen 05:00 – 09:00 en 16:00 – 20:00.
  • Enige plek of perseel waar kerk, kulterele, sport, vermaak, ontspanning of soortgelyke aktiwiteite plaasvind, sal gesluit wees. So ook casino’s, parke, gastehuise, strande en vlooimartke.
  • In gevalle waar geskeide ouers toesig deel oor 'n kind, sal 'n kind moontlik die 21 dae slegs by een ouer moet deurbring. - saamgestel deur Arisa Janse van Rensburg 
 

Meer oor:  Koronavirus  |  Inperking  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.