Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Inperking dalk 3 maande langer

Hierdie berig is aangepas om dit duidelik te stel dat die verslag deur die Boston Consulting Group (BCG) ‘n besprekingsdokument is wat sonder die goedkeuring van die Amerikaanse konsultasiefirma aan die wyer publiek uitgelek is. 


Voorspellings wys inperkingsmaatreëls in Suid-Afrika sal met tussen twee en vier maande verleng moet word as die land enige kans wil staan om die verspreiding van die dodelike koronavirus te keer. 

Dis volgens ‘n besprekingsdokument deur die Amerikaanse konsultasiefirma die Boston Consulting Group (BCG) wat uitgelek het. Dit wys Suid-Afrika se aantal nuwe Covid-19-gevalle wat daagliks aangemeld word sal eers teen die begin van Junie sy hoogtepunt bereik. Dit beteken dat die inperking eers teen die vierde week van Junie – of selfs eers aan die einde van Augustus – opgehef kan word.

Die voorspelling is in ooreenstemming met waarskuwings van verskeie kabinetslede die afgelope week.

Pres. Cyril Ramaphosa, ’n groot bewonderaar van die bestuur van die pandemie in China, waar die inperking twee en ’n half maande geduur het, het Maandag in sy presidensiële nuusbrief gesê enige inperkingsmaatreëls werk net as dit “vir verskeie weke geld” en “streng gehoorsaam word”.

Cassel Mathale, adjunkminister van polisie, het Woensdag in Kimberley ook gewaarsku dat daar “geen ander opsie sal wees” as om die inperking te verleng as die huidige inperkingsmaatreëls nie suksesvol is nie.

‘Ons moet ons toetsingsvermoë verbeter.’

Ook dr. John Purchase, uitvoerende hoof van Agbiz en ’n lid van Business for South Africa se Covid-krisiskomitee, sê hy het min twyfel daaroor dat die 21-dae-inperking waarskynlik verleng sal word, maar hopelik met maatreëls wat “minder drakonies” is en meer ekonomiese vryhede toelaat.

“Kyk maar wat internasionaal gebeur – jy kan dit nie sommer net ophef nie. Maar ons hoop die regering sal van die maatreëls verslap. Soos dit nou daar staan, is dit baie drakonies,” het hy aan Rapport gesê.

Die BCG se epidemiologiese model maak staat op die wêreldwye data van die Johns Hopkins-universiteit in Amerika en die ondervinding van Chinese owerhede in hul stryd om die uitbreking in dié land se Hubei-provinsie onder beheer te kry. Dit vergelyk inligting uit 20 lande en maak voorspellings vir elkeen gegrond op die lande se infeksiesyfers, reaksie op die pandemie en unieke omstandighede van elke land.

In China is die inperking in Wuhan eers verslap sewe en agt weke nadat die aantal daaglikse nuwe infeksies ’n hoogtepunt bereik het.

Suid-Afrika is lank nog nie op daardie punt nie. Die Suid-Afrikaanse minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, het hierdie week gewaarsku dat ons tans “die stilte voor die storm” beleef. Hy voorspel ’n “ontploffing van getalle” oor die volgende weke.

Die BCG-verslag, wat op 26 Maart verskyn het, hou wel rekening met die feit dat Suid-Afrika se inperkingsmaatreëls baie vroeër as elders ingestel is.

Twee belangrike veranderlikes tel egter teen Suid-Afrika: Die aantal hospitaalbeddens per 100 000 van die bevolking en die persentasie van die bevolking wat sukkel met respiratoriese siektes. Die regering se vermoë om die pandemie te bestuur word as “neutraal” beoordeel – nie goed of sleg nie. Ander lande met ’n “neutrale” beoordeling is Brittanje, Italië en Spanje.

Die feit dat die aantal sterftes en pasiënte wat kritieke sorg nodig het nog redelik laag is, moet die regering se gesondheidsbeplanners hoop gee omdat dit hulle waardevolle tyd gee om voor te berei vir die “storm” wat Mkhize voorspel.

BCG waarsku egter sy kliënte dat die riglyne in sy verslag nie beskou moet word as mediese of veiligheidsadvies nie. Ook dat die kliënt sy plaaslike wette en regeringsadvies moet volg wanneer besluite geneem word.

Teen druktyd Saterdagaand was daar tien mense in intensiewe sorg en sewe bevestigde sterfgevalle.

Die feit dat die departement beoog om sy toetsvermoë van sowat 5 000 per dag tot 36 000 per dag uit te brei, voorspel ’n dramaties styging in die aantal bevestigde gevalle – in pas met wat elders ter wêreld gebeur het. Die uitbreiding gebeur egter stadig en slegs tien van die 67 mobiele toetseenhede wat Mkhize verlede week beloof het, is reeds ontplooi (sien berig op bl. 8).

“Ons moet ons toetsingsvermoë verbeter sodat ons ’n beter idee van ons werklike syfers het, dan sal ons weet wie positief is en dan kan ons hulle geïsoleer kry,” het dr. Kamy Chetty, uitvoerende hoof van die National Health Laboratory Service, gesê.

Intussen is daar steeds groot onsekerheid oor die land se vermoë om die stortvloed van siekes wat verwag word te verpleeg. Daar is veral vrae oor die beskikbaarheid van hospitaalbeddens en ventilators.

Mkhize het op 16 Maart gesê daar is 813 (uit ’n totaal van 87 309) intensiewesorgbeddens in staatshospitale en 161 (uit 2 146) intensiewesorgbeddens in die private sektor.

Mkhize voorspel ’n ‘ontploffing’ van getalle.

Die aantal beddens in intensiewe sorg kan egter veel hoër wees. Prof. Alex van den Heever, ’n gesondheidsekonoom van Wits, meen daar is sowat 7 195 intensiewesorgbeddens in die land – 2 238 in staatshospitale en 4 957 in die private sektor.

Dr. Anchen Laubscher, mediese direkteur van Netcare, het die afgelope week aan Rapport gesê dié groep beskik oor 1 200 beddens in sy hoësorgeenhede. Dr. Charl van Loggerenberg, hoof van noodgeneeskunde by Life Healthcare, sê hulle beskik oor 1 050 hoësorgbeddens.

Suid-Afrikaanse hospitale beskik na raming oor sowat 6 000 ventilators (4 000 in private hospitale en 2 000 in staatshospitale) – ’n apparaat wat kritiek noodsaaklik is om baie siek Covid-19-pasiënte te red.

Covid-19 pasiënte moet gemiddeld drie weke aan ’n ventilator gekoppel wees – teenoor vyf dae vir die meeste ander pasiënte in ’n hoësorgeenheid. Daar is wêreldwyd ’n reusetekort aan dié masjiene.

’n Plaaslike groep sakelui, onder leiding van die sakeman en filantroop Justin Corbett, staan aan die voorpunt van ’n poging om plaaslik ventilators te bou. ’n Maatskappy sonder winsbejag, die South African Emergency Ventilator Project (SAEVP), is reeds op die been gebring en hulle hoop om die Nuffield 200, ’n verouderde ventilator van Britse oorsprong, in produksie te bring. Dié masjien bestaan uit meganiese onderdele wat plaaslik vervaardig kan word met geen ingevoerde elektroniese komponente nie.

Van den Heever sê Suid-Afrika se kritieke tekort aan mediese toerusting soos ventilators sou nog erger gewees het as die private sektor nie in die laaste jare daarin belê het nie. Hy sê die openbare sektor het die afgelope 20 jaar onderbelê in intensiewe-, hoë- en kritiekesorgdienste en die primêre gesondheidsorg het voorkeur geniet. Die private sektor het weer oorbelê. “Dankie tog hulle het, want dit is al waarom ons ventilators het, anders sou ons net die staat s’n gehad het.”

Suid-Afrika se twee grootste hospitaalgroepe, Netcare en Life Healthcare, het ook alle nienoodsaaklike chirurgie opgeskort en geen operasies wat nie lewensnoodsaaklik is, sal by hul hospitale gedoen word nie.

’n Verpleegster by ’n private hospitaal wat nie geïdentifiseer wil word nie, sê in haar hospitaal word pasiënte nou so gou moontlik huis toe gestuur. Geen besoekers word ook toegelaat nie. “Die enigste besoekers in die hospitaal is in die kindersaal, waar ons slegs een ouer toelaat wat dan heeltyd by die kind bly.”

Tog is die hospitaal steeds baie besig. “Ons het massas mense wat hospitaal toe kom om hulself te laat toets. Baie van hulle is glad nie siek nie. Hulle het óf ’n ligte verkoue óf hulle was in aanraking met iemand wat moontlik positief is.”

Sy sê die komende week is “D-dag”.

“Nou sien ons nie siek mense nie, maar die verwagting is dat ons volgende week gaan begin simptome sien, want dit is dan 14 dae sedert die eerste gevalle in Suid-Afrika begin versprei het.”

’n Verpleegster by ’n besige staatshos­pitaal in die Wes-Kaap, wat ook nie geïdentifiseer wil wees nie, sê daar word maskers en handskoene uit hul hospitaal gesteel en hulle moet dit toesluit. “Ons werk spaarsamig sodat ons nie later te min het nie.”

In hul hospitaal is twee teekamers in sale omskep en staan nou vol beddens vir die aanslag wat verwag word.

Khaya Xaba, woordvoerder van die National Education, Health and Allied Workers’ Union (Nehawu) met sowat 218 000 lede, sê hul lede se grootste bekommernis is ’n tekort aan persoonlike beskermende toerusting en saniteerders – nie net vir hande nie, maar ook om oppervlakke en ambulanse mee te reinig.

“Ons hoor van gevalle waar Covid-19-­pasiënte alleen agter in die ambulans moet ry omdat die paramedici nie beskermende toerusting het nie. Ons moet onthou hospitale verskil en van die hospitale is natuurlik meer gereed as ander. Ons gesondheidstelsel het nog altyd gesukkel met onder meer te min personeel en korrupsie, maar ek dink die regering leer soos ons aangaan. Hulle probeer.”– Verslaggewing deur Liezel de Lange, Johan Eybers, Dawie Boonzaaier, Landi Slatter, Jacob Rooi en Liesl Peyper.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.