Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Inperking: Geen besliste verlenging vir eers

Hoe lank voordat ek weer normaal kan lewe? Wanneer is die inperking verby? Help die inperking werklik om Covid-19 hok te slaan? Hoe vergelyk Suid-Afrika se uitbreking met dié van ander lande? Jana Marx vra kenners.

Die inperking kan moontlik verleng word, of dalk weer vir ’n volgende ronde ingestel word, maar daar is tans nie genoeg beskikbare inligting om akkurate voorspellings oor die duur daarvan te maak nie, sê kenners. ’n Moontlike verlenging is nie eens deel van die regering se gesprekke nie, sê ’n woordvoerder van die minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta).

Dit is vandeesweek die tweede week van die staat van inperking en voorspellings oor wanneer mense weer die strate mag invaar, is legio, en blyk nie almal ewe betroubaar te wees nie.

Vroeër is berig die inperking is ingestel om die las op die gesondheidsektor te verlig en te verhinder dat derduisende mense hul lewens verloor.

Volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) se webwerf het hulle intussen ’n span saamgestel om ’n akkurater model vir projeksies (voorspellings) vir die regering te doen.

Prof. Marietjie Venter van die Universiteit van Pretoria se departement van virologie sê hierdie berekeninge word gedoen deur ’n model van die voorspelde infeksiekoers op te stel, wat ook kyk na die persentasie van mense in ander lande wat weens die virus dood is.

“Dit word egter beïnvloed deur die getal mense wat in ’n land getoets word en of siek én asimptomatiese mense getoets is, wat dan die werklike getal gevalle weerspieël. Dit word geskoei op Covid-19-infeksiekoerse in ander lande en vorige, beskikbare influenza (griep)-statistiek,” sê sy.

virus

Teen Dinsdagaand was daar 1 749 Covid-19-gevalle in die land. 13 mense is dood en 56 873 toetse is gedoen, lui die jongste beskikbare syfers deur die nasionale gesondheidsdepartement. Wêreldwyd was daar teen Dinsdag meer as 1,3 miljoen mense siek en meer as 76 000 dood.

Hoe vaar die ingeperkte Suid-Afrikaners en is die kurwe besig om af te plat?

Inperkingsmaatreëls in Suid-Afrika is van die strengste wat wêreldwyd toegepas word, skryf twee filosowe, proff. Benjamin Smart en Alex Broadbent van die Universiteit van Johannesburg, op The Conversation. Broadbent is ook die direkteur van die Instituut van die Toekoms van Kennis.

Suid-Afrikaners mag nie hul huise verlaat behalwe om noodsaaklike inkopies te doen nie. Hulle mag nie eens gaan draf of met hul honde gaan stap nie.

Die professore maak die opmerking dat dit vir die rykes ietwat van ’n verposing is, met die meeste wat heeldag tuis in hul pajamas kan bly. Dié luuksheid is egter nie die norm in Suid-Afrika waar sommige saam met tien familielede in ’n sinkhuis ingeperk word nie.

Volgens Venter, dr. Kerrin Begg, senior lektor aan die Universiteit Stellenbosch en spesialis in openbare gesondheid wat die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement bystaan om op die uitbreking te reageer, asook ’n betroubare bron na aan die regering, vaar Suid-Afrikaners tans heel goed tydens die inperking.

Mlungisi Mtshali, woordvoerder van dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van Cogta, beaam dit.

“Ons het baie beter gevaar as wat ons gedink het,” sê Mtshali.

Begg sê die regering se vinnige optrede om ’n nasionale ramptoestand aan te kondig, is moontlik ’n rede waarom daar in hierdie stadium (Dinsdagmiddag) nog net 1 749 bevestigde gevalle is, en nie die “4 000 of 5 000” wat die reaksiespan volgens haar vermoed het nie.

“Ons getalle is nog laag en die land het goed gevaar deur die inperking in te stel om die infeksiekoers te laat afneem,” sê Venter.

Begg sê daar is mense wat nie wil saamwerk nie, “maar daar is ’n vloedgolf van mense in gemeenskappe wat die inperking wél steun. Ek dink dit is belangrik dat mense verstaan watter rol hulle speel, eerder as om hulle soos kinders te behandel. Hulle moet die rol opneem.”

virus

Dit lyk asof die infeksiekoers in Suid-Afrika afneem sedert die inperking begin het. Maar ’n betroubare bron na aan die regering dink nie dit kan noodwendig aan die sukses van die inperking toegeskryf word nie. Die bron neem die patrone wêreldwyd in ag, asook die siekte se geskiedenis, en sê daar is iets anders aan die gang met die data, soos byvoorbeeld ’n te eng definisie vir wie getoets moet word.

Dit beteken die vereistes waaraan iemand met Covid-19 moet voldoen om uiteindelik deel van die statistiek te raak, is so streng dat baie mense met “ligter” simptome waarskynlik nie aangeteken word nie.

Medici bly ook nie voor met die groot getal monsters wat getoets moet word nie. Begg sê Suid-Afrika toets tans ongeveer 3 500 mense per dag, waar die ideaal in hierdie stadium van die pandemie eerder tussen 10 000 en 15 000 is.

Dr. Kamy Chetty, uitvoerende hoof van die Nasionale Gesondheidslaboratorium, het verlede week aan die media gesê daar is tans te min toetskapasiteit vir al Suid-Afrika se uitdagings. Hulle het dus 67 mobiele toetseenhede gekry wat van Maandag af mense landwyd, wat nie by hospitale kan uitkom nie, begin toets het. Dié toetseenhede is volgens Chetty toegerus om dieselfde toetse as laboratoriums te kan doen. Dit is blykbaar van wêreldgehalte en ’n toets kan binne 45 minute gedoen word.

Hoe lank gaan ons nog ingeperk wees?

Intussen doen verskeie navorsingsinstitute projeksies oor hoe lank Suid-Afrika se inperking behoort te duur.

Nog ’n betroubare bron na aan die regering het egter aan Netwerk24 gesê al die projeksies is tans raaiskote. Volgens die bron is die enigste betroubare projeksies in hierdie stadium, dié wat erken “ons weet nie”.

Die bron hou vol dis heeltemal te vroeg om te voorspel wanneer Suid-Afrika vry van die koronavirus gaan wees, of om enige navorsingseenheid se projeksies – of dit nou drie weke of vier maande is – soos soetkoek op te eet. “Daar is net nie genoeg data beskikbaar nie.”

Volgens Begg is die kanse goed vir ’n toename van gevalle met ’n tweede vlaag van die uitbreking ná die inperking.

Sy sê dit is daarom raadsaam vir die regering om die inperking óf te verleng (“al is dit drie weke”), óf dit later weer in te stel, óf net aan te hou om mense se bewegings streng in te perk. “Vir mense om ’n gesonde afstand te handhaaf en ander maatreëls soos die gereelde was van hande, gaan vir die res van die jaar deel van ons bly,” sê sy.

Mtshali het by navraag gesê hy wil nie eens kommentaar lewer op ’n moontlike verlenging nie, “omdat dit in hierdie stadium nie deel is van enige van ons gesprekke nie. Die inperking eindig op 16 April.”

Hy het egter gesê streng regulasies sal dan steeds geld. Volgens Mtshali sal die regering die maatreëls hersien wat tot voor die inperking gegeld het “en dalk, byvoorbeeld, die getal mense wat by ’n saamtrek mag wees, sal aanpas. Die ‘100’ was regtig net ’n algehele syfer, maar dis baie. Daar sal na sulke goed gekyk word.”

Dieselfde vraag is aan brig. Mathapelo Peters, waarnemende woordvoerder van Bheki Cele, minister van polisie, gerig. Sy het Netwerk24 terugverwys na Cogta, “omdat die minister net die reëls toepas wat Cogta en die gesondheidsdepartement instel – hoewel hy insette gee”.

virus

Smart en Broadbent meen egter dis belangrik vir inwoners se gesondheid om te oefen en dat ’n gebrek aan oefening selfs die risiko verhoog om Covid-19 op te doen. Oefening werk ook sielkundige toestande soos depressie teë, skryf hulle.

Toe Nios gevra is of die inperking verleng gaan word, het Sinenhlanhla Jimoh, Nios-woordvoerder, gesê daar word “verskeie moontlike modelle” oorweeg.

“Daar is ’n groep kundiges saamgestel om die pogings te koördineer en modelle en hul aannames te hersien. Voorlopige data sal binne die volgende paar weke bekend gemaak word,” sê Cohen.

Ons regering wou net die beste stappe doen wat nodig is in ons omstandighede.
Mlungisi Mtshali, woordvoerder van dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van Cogta

Waarom is daar dan lande soos Swede wat meen dit is onnodig om mense in te perk? Is hulle net “meer gehoorsaam” of is hulle roekeloos? The Guardian het onlangs ’n kenner aangehaal dat die Sweedse regering “Russiese roulette” met hul inwoners speel, wat rampspoedige gevolge vir die land kan hê.

Die onus om die verspreiding van die virus te bekamp, berus op die inwoners self, berig Forbes. Te oordeel aan die klomp pasiënte in die hoësorgeenheid in hospitale in Stockholm lyk dit egter nie of dit te suksesvol is nie.

Volgens die wêreldwye data van die Johns Hopkins-Universiteit in die VSA is daar al 6 830 positiewe gevalle in Swede en 401 mense het teen Maandag beswyk.

Op ’n vraag hoekom Suid-Afrika sulke streng maatreëls het, teenoor byvoorbeeld ander lande soos Brittanje waar inwoners nog kan gaan draf as hulle net ’n gesonde afstand handhaaf, het Mtshali gesê dit het niks met Suid-Afrikaners se “ongehoorsaamheid” te doen nie. “Ons regering wou net die beste stappe doen wat nodig is in ons omstandighede.”

‘Bly tuis, Suid-Afrika!’ pleit medici

“Suid-Afrika het tot dusver hoofsaaklik die uitwerking gesien op die bevolking uit die hoërinkomstegroepe vir wie dit makliker is om hulself te isoleer, ingeperk te wees en wat toegang tot private mediese sorg het,” sê Venter.

Die risiko vir die oordrag aan mense wat in informele nedersettings woon, waar daar ’n hoër bevolkingsdigtheid is en ’n hoër voorkoms van onderliggende toestande soos MIV en tuberkulose, is ’n groot bekommernis, sê sy.

Dit is ook baie moeiliker vir die mense om hulself te isoleer. “Suid-Afrika het bykomende strategieë nodig om dit te hanteer.”

Venter sê daar is nou nog nie genoeg inligting om te weet hoe groot die invloed van Covid-19 op die MIV-positiewe deel van die bevolking gaan wees, en of die infeksies dalk in die winter skerp gaan toeneem nie.

“Min pasiënte in informele nedersettings is tot dusver geïnfekteer – hoofsaaklik omdat die meeste pasiënte deel van ’n hoër sosiaal-ekonomiese sektor is wat na Europa gereis het. Plaaslike verspreiding kan dit egter verander. As mense nie die inperking ernstig opneem nie, en aanhou om blootgestel te word aan potensieel asimptomatiese draers in die gemeenskap, sal die inperking verleng moet word en die virus aanhou om te versprei. Italië het reeds sy inperking tot Junie verleng en hospitalisasie en sterftes duur voort.”

Volgens Venter het Covid-19 ’n aansteekkoers van twee, wat beteken een geïnfekteerde mens kan twee ander mense aansteek. “As ons (die span wat Covid-19 bestry) nie inmeng nie, kan dit beteken die gevalle kan elke vyf dae verdubbel.”

In dié stadium verdubbel die getal gevalle in Italië en Amerika elke derde dag, terwyl die gevalle in Suid-Afrika en Australië tussen drie en vyf dae verdubbel. In Singapoer en Japan verdubbel die getalle elke tien dae. Dit beteken die kurwe is al baie platter as in Suid-Afrika, sê Venter.

virus

“Dit is in Suid-Afrika se eie hande om proaktief te wees om die infeksiekoers te vertraag. Deur die tempo te vertraag waarteen die gevalle verdubbel, kan ons die getal gevalle oor ’n langer tydperk versprei. Sodoende word die druk op die gesondheidsorgstelsel verminder en die eksponensiële kurwe van gevalle wat terselfdertyd kritieke sorg benodig, plat af. Dit kan net behaal word as ons die inperking ernstig opneem, gevalle identifiseer, kontakte opspoor en isoleer en ’n gesonde afstand bly handhaaf deur tuis te bly om verdere infeksies te voorkom.”

Venter sê dit is kommerwekkend dat lande soos Italië, Frankryk, Nederland en Spanje reeds verslag gedoen het dat hul gesondheidsorgstelsel ’n versadigingspunt bereik het weens die groot vlaag van pasiënte wat hoësorg benodig.

“As bykomende hulpbronne, personeel en hospitaalbeddens nie beskikbaar is nie, het die Europese Sentrums van Siektebeheer (ECDC) voorspel dat die uitwerking van Covid-19 tot aansienlik meer sterftes in Europa sal lei, veral in weerlose bevolkings van ouer mense en mense met chroniese, onderliggende toestande,” sê sy.

virus

Dit kan ook veroorsaak dat heelwat meer gesondheidswerkers siek word.

Italië se inperking het te laat gekom, berig The New York Times. Suid-Afrika is in buitelandse media geloof vir die vinnige optrede om te verhoed dat ons dieselfde roete as Italië volg, maar dan moet inwoners by die regering se maatreëls hou.

Die land se gesondheidstelsel kan oorweldig word as massas siek mense gelyk op medici toesak. “Inligting uit Europa en China toon dat 15% van mense wat Covid-19 opdoen, gehospitaliseer moet word, 5% benodig kritieke sorg en 2% van die pasiënte kan sterf,” sê Venter.

Dan het dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, onlangs bekend gemaak die land het net meer as 87 000 hospitaalbeddens in staatshospitale vir Covid-19-pasiënte beskikbaar, het News24 berig. Die Netcare-hospitaalgroep het volgens sy webwerf maar 9 996 beddens, met 1 711 in die waakeenheid en Life het 9 136 beddens. Mediclinic sê op sy webwerf hy het meer as 8 200 beddens.

“Dit kan Suid-Afrika se gesondheidstelsel heeltemal oorweldig as ons nie die infeksiekoers afbring nie,” sê Venter – vandaar die idee om die kurwe af te plat.

Netwerk24 het vroeër berig oor die invloed van sporadiese oordrag. ’n Sporadiese geval is wanneer medici nie die bron of oorsprong van die besmetting weet nie. Dit is volgens Begg ook die moeilike fase van die pandemie waarin Suid-Afrika tans is.

“Sporadiese gevalle het die risiko om nuwe uitbrekings aan te vuur. Omdat elke persoon minstens twee ander kan aansteek en asimptomatiese mense (mense wat siek is, maar nog nie simptome toon nie en dus ander kan aansteek) ook die virus kan oordra, kan ons aanhou om weerlose mense bloot te stel,” sê Venter.

Lees ook hier: Maskers vir gesondes ‘nog nie nodig’

’n Sterwende ekonomie of sterwende Suid-Afrikaners?

Hanlie Stadler het Maandag berig selfs as die staat van inperking net 21 dae duur, kan meer as 370 000 mense hul werk in die formele sektor verloor en kan 1 600 ondernemings bankrot speel. Daarby gaan dié drie weke -2,6% tot ekonomiese groei vir die jaar bydra.

Dis die voorlopige voorspellings van die Reserwebank, wat Maandag sy halfjaarlikse oorsig oor monetêre beleid uitgereik het.

Chris Loewald, ’n lid van die Reserwebank se monetêre beleidskomitee, het Maandag gesê hul ramings word van dag tot dag aangepas, weens die onsekerheid oor die uitwerking van die skok en die onsekerheid oor of inperking verleng sal word.

Die Suid-Afrikaanse ekonomie lyk egter nie asof hy ’n inperking van langer as drie weke sal kan hanteer nie. William Horne het verlede week die ekonoom Brian Kantor aangehaal wat gesê het die regering sal ’n balans moet kry tussen die bestryding van Covid-19 en om te keer dat die ekonomie ten gronde gaan. Kantor is veral bekommerd oor mense wat nie kan kos koop as hulle nie ’n inkomste verdien nie.

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, het Sondag aan Nellie Brand-Jonker gesê as die inperking met twee of drie maande verleng word, gaan die ekonomie met 30% inkrimp en minstens 4 miljoen mense sal gevolglik hul werk verloor.

Ons lewensverwagting in Suid-Afrika is maar 60 jaar. In Europa is dit 80 jaar. Die verskil is armoede.
Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group

Volgens hom sal die huidige 21 dae van inperking reeds die ekonomie met 5% laat inkrimp. “Dit gaan Suid-Afrika in ’n baie lang en diep resessie sit,” het hy gesê.

Roodt het Maandag gesê dat ’n verlengde inperking of selfs ’n uitgestelde tweede inperking in elk geval mense se dood deur middel van armoede kan beteken.

“Ons lewensverwagting in Suid-Afrika is maar 60 jaar. In Europa is dit 80 jaar. Die verskil is armoede. Ons is verby rasionele debatte oor inperking.”

Prof. Jannie Rossouw, die tussentydse hoof van Wits se bestuurskool, sê ’n “selektiewe unlocking” kan druk op die ekonomie verminder. Hy bedoel daarmee die regering kan sekere sektore “selektief” uit inperking bring.

Jana Marx

Nog ’n moontlikheid wat die ekonomie kan laat asem skep, is as die huidige inperking op 16 April beëindig word, soos beplan, maar dit word in die winter weer ingestel.

Dit sal sakeondernemings die geleentheid gun om vir ’n volgende inperking voor te berei. “Die regering het hierdie keer ’n groot fout gemaak en dit op die nippertjie aangekondig. As inperking later plaasvind, kan mense voorberei.”

Wat is ’n gepaste waarskuwingstydperk vir ’n sakeman? Volgens Rossouw hang dit af van onderneming tot onderneming, “maar tussen ’n week en twee weke” behoort genoeg te wees.

“Hoe langer die inperking voortduur, hoe erger is die uitwerking op die ekonomie. My aanname is dat die bruto binnelandse produk (BBP) in nominale terme dieselfde bly: Die ekonomie krimp met 4% (reëel), maar groei teen 4% (nominaal) weens inflasie,” sê Rossouw.

Rossouw het ’n rowwe berekening gedoen, waarvolgens dit lyk asof die begrotingstekort van R370 miljard (volgens die 2020-’21-begroting) tot R560 miljard vermeerder. Inkomstebelasting kan volgens die berekening afneem van R546 miljard (volgens die huidige begroting) na R519 miljard.

Gevolglik sal die tekort voor lenings vir 2020-’21 se begrotingsjaar tot meer as 10% van die BBP toeneem, sê Rossouw.

Hoe langer die inperking voortduur, hoe erger is die uitwerking op die ekonomie.

Meer oor:  Gesondheid  |  Ekonomie  |  Weerloses  |  Inperking  |  Suid-Afrika  |  Covid-19-Virus  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.