Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Inperking teen einde van maand uitgefaseer

Suid-Afrikaners kan teen die einde van die maand ’n geleidelike uitfasering van die inperkingsmaatreëls verwag soos wat die regering poog om die balans te bewaar tussen die gesondheid van die nasie en die behoefte om ’n reeds brose ekonomie te beskerm.

n Vrou tel Dinsdag haar kleingeld nadat sy by ’n s
'n Vrou tel Dinsdag haar kleingeld nadat sy by ’n spazawinkel in die Elias Motsoa­ledi-munisipaliteit in Limpopo inkopies gedoen het. Foto: Reuters

So ’n uitfasering kan insluit ’n tydperk van “vrywillige inperking” waar individue en ondernemings aangemoedig word om so min as moontlik rond te beweeg, en geteikende inperking waar net hoë­risikogebiede ingeperk word.

Volgens die regering se jongste vooruitskattings gaan infeksies eers hul hoogtepunt in September, 21 weke van nou af, bereik. Dit is ’n direkte gevolg van die inperking, het die waarnemende direkteur-generaal van gesondheid, dr. Anban Pillay, Vrydag gesê. Daarsonder sou die pandemie in Junie sy hoogtepunt bereik het, wat veel meer siekes oor ’n korter tyd sou beteken.

Pogings om ’n reeds pap ekonomie aan die brand te skop sal egter lank voor dan ’n aanvang moet neem.

“ ’n Ekonomiese beleid het gesondheidsgevolge. En ’n gesondheidsbeleid het ekonomiese gevolge. Die twee moet beskou word as deel van ’n samehangende geheel,” het ’n paneel kundiges van die Universiteit van die Witwatersrand die afgelope week gewaarsku. Hulle bereken dat die huidige inperking die land sowat R13 miljard per dag kos.

Stemme het die afgelope paar dae uit alle oorde opgegaan dat die land nie langer die huidige inperking kan bekostig nie.

Om verdere skade te beperk het die regering reeds begin om ’n “gefaseerde herstel” met rolspelers in die ekonomie te bespreek, het Rapport by ’n onberispelike bron wat kennis dra van die gesprekke verneem. Die hoop is dat die eerste fase van die plan – ’n “vrywillige inperking” – aan die einde van die maand vir twee weke lank in werking sal tree, het ’n kabinetsminister op een van hierdie inligtingsvergaderings gesê. In dié tyd sal die bestaande regulasies wat bewegingsvryheid aan bande lê verder verslap word. Hoërisikogebiede sal egter ingeperk bly.

Stemme het die afgelope paar dae uit alle oorde opgegaan dat die land nie langer die huidige inperking kan bekostig nie. In ’n artikel getiteld “South Africa needs to end the lockdown: here’s a blueprint for its replacementvoer die akademici van Wits aan dat ’n verlenging van die inperking onaanvaarbare hoë gesondheids- en ekonomiese gevolge kan hê.

Die akademici, waaronder prof. Alex van den Heever (medeprofessor in die skool vir regeerkunde), meen die enigste ingrypingstrategieë wat Suid-Afrika kan volg, is om van die inperkingsmaatreëls te verslap, infeksies te bestuur en die kwesbaarstes, soos ouer mense, te beskerm totdat natuurlike immuniteit bewerkstellig word of ’n entstof ontwikkel word wat die immuniteit van 60% van die bevolking sal verseker.

“ ’n Gesondheidstrategie gegrond op ’n verlengde algemene inperking is ekonomies nie volhoubaar nie,” lui die artikel. “Dit is ook skadelik vir die openbare gesondheid. Ons het eerder ’n samehangende strategie vir gesondheid én die ekonomie nodig wat sommige ekonomiese bedrywighede toelaat terwyl die verspreiding van die virus beperk word.”

Kinders agter ’n veiligheidshek van ’n woonstelgeb
Kinders agter ’n veiligheidshek van ’n woonstelgebou in Johannesburg. Suid-Afrika se huidige inperking is met nog 14 dae verleng. Foto: Themba Hadebe

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdagaand aangekondig dat die inperking van 17 April af met nog 14 dae verleng sal word. Hy het bygevoeg die regering sal in die verlengde inperkingstyd “risiko-aangepaste maatreëls” instel wat ’n “gefaseerde herstel van die ekonomie” moontlik sal maak en sal beteken dat “sekere sektore” weer in bedryf kan wees. Teen druktyd is die aard daarvan nog nie bekend gemaak nie.

Die Mineraleraad, wat meer as 90% van die mynbedryf verteenwoordig, het Vrydag gesê hy het begin met gesprekke met vakbonde om werk te hervat, want voorlopige aanwysers dui daarop dat die oogmerk met die inperking bereik is, naamlik om die kurwe van die Covid-19-infeksies af te plat.

John Steenhuisen, tussentydse leier van die DA, het Vrydag gesê die DA word in die duister gehou rakende die regering se planne om die inperking op te hef.

“Ons kyk na ’n verskroeide aarde as dié inperking vir ewig aanhou.

“Die DA is nie teen die inperking gekant nie, maar ons kort ’n gebalanseerde, buigsame reaksie waarvolgens ons van die meer drakoniese regulasies kan uitfaseer.”

Meer oor:  Alex Van Den Heever  |  Anban Pillay  |  John Steenhuisen  |  Covid-19  |  Ekonomie  |  Regulasies  |  Wits
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.