Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Inperking van brandpunte glo oorweeg

Die regering sal dit oorweeg om streng inperkings in brandpunte in te stel as ’n toename in Covid-19-besmettings dreig om hospitale in die betrokke gebiede te oorweldig.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Dinsdag in ’n onderhoud met die radiostasie SAfm gesê hoewel die Covid-19-bevelsraad nog geen besluit oor strenger inperkingsmaatreëls in brandpunte geneem het nie, moet die opsie oorweeg word.

“Ons glo die situasie moet ontleed word om te kyk wat die voordeel is. In sekere plaaslike gebiede kan dit weer nodig wees. As die besmettingskoers te hoog word, moet ons ingryp,” sê Mkhize.

Mediese kenners sê egter hulle twyfel dat ’n streng inperking in brandpunte doeltreffend sal wees. Dit kan boonop die ekonomie onnodig verdere skade berokken.

Dr. Keith Cloete, hoof van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement, het by navraag gesê die Wes-Kaapse gesondheidstelsel is nou besig, maar is nie op die punt van ineenstorting nie.

Woordvoerders van die gesondheidsdepartemente van Gauteng en die Oos-Kaap, die ander provinsies waaroor Mkhize bekommerd is, kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Dis nou te laat, want die virussiekte is klaar oral. Boonop sal mense hulle nie dié keer aan die regering steur nie.

Luidens die departement van samewerkende regering en tradisionele sake word die volgende metrogebiede as brandpunte geklassifiseer: Johannesburg, Tswhane, Ekurhuleni, Ethekwini, Nelson Mandelabaai, Oos-Londen en Kaapstad, asook die Kaapse Wynlande, die Weskus en Overberg, in die Wes-Kaap, die Chris Hani-distrik, in die Oos-Kaap, en die Ilembe-distrik in KwaZulu-Natal.

Prof. Shabir Madhi, enstofkundige en lid van die mediese advieskomitee oor Covid-19, sê dit is moeilik om kommentaar te lewer omdat dit onduidelik is of Mkhize meen beperkinge sal in hele brandpunte, of slegs in brandpunt-woongebiede, geld.

“Spesifieke brandpunte kan slegs bepaal word as die regering se toetsstrategie suksesvol is, wat nie die geval is nie. Daar kan wel na hospitaalopnames gekyk word om te bepaal of ’n gegewe gebied ’n brandpunt is,” sê Madhi.

“Daar is baie logistieke uitdagings wat só ’n inperking sal meebring. Hoe gaan die regering keer dat mense by brandpunte in en uit beweeg? Dit is ook nie eens duidelik of só ’n inperking die las op die gesondheidstelsel sal verlig nie,” sê Madhi.

Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (SAMV), meen ’n streng inperking in brandpunte sal hoegenaamd geen verskil maak nie.

Maar plaas daarvan staan mense in toue by winkelsentrums asof die virus nie meer bestaan nie. As dit so aangaan, sal daar oor ’n maand ’n tekort aan hospitaalbeddens wees

“Dis nou te laat, want die virussiekte is klaar oral. Boonop sal mense hulle nie dié keer aan die regering steur nie.”

Bowendien is inperkings nie volhoubaar nie omdat die Covid-19-pandemie oor die volgende twee jaar verskeie kere gaan piek, sê Coetzee.

Madhi het ook al voorheen gesê as Covid-19 soos ouer koronavirusse is, sal dit in die volgende jaar of twee in vlae voorkom.

Coetzee vra hoekom wag mense op die regering om hulle voor te sê, as Covid-19 in bedwang gehou kan word wanneer mense self verantwoordelikheid neem deur die gesondheidsmaatreëls na te kom.

“Maar pleks daarvan staan mense in toue by winkelsentrums asof die virus nie meer bestaan nie. As dit so aangaan, sal daar oor ’n maand ’n tekort aan hospitaalbeddens wees,” waarsku Coetzee.

Dawie Roodt, ekonoom van die Efficient Group, sê groot skade sal aan die reeds gekneusde ekonomie berokken word as die regering hele stede streng inperk.

“Die stede is die ekonomiese hartkamers van Suid-Afrika en daarom sal dit ’n groot slag vir die ekonomie wees. As die regering die akkurate data het, en beperkings in sekere woongebiede instel, sal die gevolg nie so groot wees nie,” sê Roodt.

Meer oor:  Dawie Roodt  |  Angelique Coetzee  |  Zweli Mkhize  |  Opsie  |  Inperking  |  Brandpunte  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.