Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Inperking: Vasbyt of min dae?

Die debat oor of Suid-Afrikaners se inperking weens die virussiekte Covid-19 verleng moet word of nie, het begin.

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) oorweeg tans “verskeie moontlike modelle”, sê Sinenhlanhla Jimoh, Nios-woordvoerder.

Hy sê by navraag namens prof. Cheryl Cohen, hoof van die sentrum vir respiratoriese siektes (CRDM), daar is ’n groep kundiges saamgestel om die pogings te koördineer en modelle en hul aannames te hersien.

Mlungisi Mtshali, woordvoerder van dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, sê by navraag hy wil nie eens kommentaar lewer op ’n moontlike verlenging van die inperking nie “omdat dit in dié stadium nie deel vorm van enige van ons gesprekke nie. Die inperking eindig op 16 April”.

Hy voeg by streng regulasies sal dan steeds geld.

Volgens Nios se webwerf gaan die kundiges ’n akkurater model vir projeksies vir die regering opstel.

Prof. Marietjie Venter van die Universiteit van Pretoria se departement virologie sê die berekeninge word gedoen deur die modellering van die voorspelde infeksiekoers en die persentasie van mense wat in ander lande weens die siekte dood is.

Dit word beïnvloed deur die getal mense wat getoets word, asook of sowel siek as asimptomatiese mense getoets is, wat dan die werklike getal gevalle weerspieël. Dit word gemodelleer op Covid-19-infeksiekoerse in ander lande en vorige, beskikbare influenza (griep)-statistieke.

Venter en dr. Kerrin Begg, senior lektor aan die Universiteit Stellenbosch en spesialis in openbare gesondheid, meen Suid-Afrikaners vaar tans heel goed met die inperking.

Volgens Begg is die regering se vinnige optrede om die inperking aan te kondig moontlik ’n rede waarom daar in dié sta­dium nog net 1 686 bevestigde gevalle is en nie “4 000 of 5 000” soos wat die reaksiespan volgens haar vermoed het nie.

Begg sê Suid-Afrika toets tans sowat 3 500 mense per dag, waar die ideaal in dié stadium van die uitbreking eerder tussen10 000 en 15 000 is.

Nog ’n betroubare bron na aan die regering sê al die projeksies is tans raaiskote. Volgens die bron is die enigste betroubare projeksie in dié stadium “ons weet nie”.

Die bron hou vol dit is heeltemal te gou om te voorspel wanneer Suid-Afrika vry van die koronavirus gaan wees of om enige navorsingseenheid se projeksies – of dit nou drie weke of vier maande is – te glo.

Begg sê die kans is goed dat die gevalle kan toeneem in ’n tweede vlaag van infeksies ná die inperking.

’n Gesonde afstand en maatreëls soos herhaaldelike handewas gaan ons leefwyse vir die res van dié jaar word.

Sy sê dis daarom raadsaam om óf die inperking te verleng (“al is dit met drie weke”), óf dit later weer in te stel óf net aan te hou om die bewegings van mense streng in te perk.

“ ’n Gesonde afstand en maatreëls soos herhaaldelike handewas gaan ons leefwyse vir die res van dié jaar word,” sê sy.

Prof. Jannie Rossouw, tussentydse hoof van die Universiteit van die Witwatersrand se sakeskool, sê ’n “selektiewe verslapping” in sekere sektore kan druk van die ekonomie haal.

Nog ’n moontlikheid wat die ekonomie kan laat asem skep, is as die huidige inperking op 16 April beëindig word, soos beplan, maar dat dit in die winter weer ingestel word. Dit sal sakeondernemings die geleentheid gee om op ’n volgende inperking voor te berei.

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, het Sondag gesê as die inperking met twee of drie maande verleng word, gaan minstens 4 miljoen mense hul werk verloor.

Hy het Mandag gesê ’n verlengde inperking of selfs ’n uitgestelde tweede inperking kan in elk geval mense se dood weens armoede beteken.

“Ons is by rasionele debatte oor inperking verby.”

* Lees later Dinsdag die volledige artikel op Netwerk24 waaruit hierdie uittreksel geneem is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.