Diegene wat nie die inperkingsregulasies gehoorsaam nie, kan beboet word of selfs tronk toe gaan.
So sê dr. Llewelyn Curlewis, prokureur en dosent aan die Universiteit van Pretoria (UP).
Bheki Cele, minister van die polisie, het Woensdag onder meer aangekondig:
* Openbare plekke soos winkelsentrums, fliekteaters en parke sal gesluit wees, alle restaurants sal gesluit wees en mense mag nie met hul honde gaan stap nie; en
* Alkohol mag nie gebruik of vervoer word in die openbaar nie.
Die weermag sal help verseker dat mense by die regulasies hou.
Curlewis het Woensdagmiddag aan Netwerk24 verduidelik dat oortredings van regulasies van die Wet op Rampbestuur ’n statutêre misdaad kan wees waarvoor jy tot ses maande tronkstraf of ’n boete opgelê kan word.
Curlewis sê dit is belangrik om te onthou dat die land nie in ’n noodtoestand is nie. “Dit beteken jy kan nog rondbeweeg, maar binne perke.”
Prof. Pierre de Vos, ’n grondwetkenner, het Woensdagmiddag gesê Suid-Afrikaners sal kan kapsie maak teen van die regulasies “as jy voel die regulasies maak meer inbreuk op jou regte as wat nodig is om die krisis te hanteer”.
Hy verduidelik dat die inperking van ’n mens se bewegings ’n skending van jou menseregte is, maar dat dit geregverdig kan word kragtens die Wet op Rampbestuur.
“Elke geval sal egter op sy eie meriete gehanteer word,” sê De Vos.