Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Is ’n 3de vlaag op pad, of gaan daar betyds ’n entstof wees?

Met ’n tweede vlaag van Covid-19 wat nou in talle lande wêreldwyd gesien word, wonder almal of dit Suid-Afrika ook weer gaan tref en of die feestyd saam met die familie dalk vanjaar taboe gaan wees.

Suid-Afrika kyk na lande soos Spanje en Italië wat die swaarste getref is in hul eerste vlaag en nou weer deur dieselfde gaan. Dit is ook die geval in lande soos Suid-Korea en China, wat aanvanklik die verspreiding van infeksie kon beheer, maar nou met ’n tweede vlaag sukkel, luidens ’n akademiese artikel op die staat se koronaviruswebwerf.

Die groot hoop is dat daar in die volgende maande ’n suksesvolle entstof sal kom en dat dit betyds sal wees om nog ’n vlaag te keer.

covid-19
Daar is nie sekerheid oor hoe effektief die entstof sal wees nie en of dit gou beskikbaar sal raak nie. Foto: Reuters

Daar is veral belangstelling in Suid-Korea. Dié land was suksesvol in sy stryd teen die pandemie.

Suid-Afrika neem ook aan die proewe vir AstraZeneca en die Universiteit van Oxford se kandidaat-entstof teen Covid-19 deel. Die entstof is 70% effektief, maar moet dus nog in grootmaat geproduseer word. Foto: Reuters

Die Suid-Koreaanse regering en gesondheidsamptenare het ’n bestuurstrategie opgestel wat gegrond is op drie beginsels. Met die oog op opsporing, het die land honderde innoverende siftingsgeriewe en klinieke geskep. Omdat die private sektor deel was daarvan, was daar nooit ’n tekort aan toetsstelle nie.

Die inperkingstydperk het verseker dat almal wat positief getoets is, behoorlik geïsoleer is en dat geriewe waar mense onder kwarantyn was, voldoende toegerus is om die verdere verspreiding van die virus te voorkom.

Dit het ook verseker dat kontak-opsporing deeglik en vinnig geskied. Honderde intelligensiebeamptes is ontplooi om die taak te vervul.

In die laaste fase behandeling is toegesien dat die gesondheidstelsel die verspreiding doeltreffend bestuur. Hulle het toegesien dat alle pasiënte die nodige aandag en behandeling kry, terwyl nog geriewe gebou is en bykomende gesondheidswerkers na gebiede met ’n hoë infeksie gestuur is om die verspreiding hok te slaan en die uitbreking doeltreffend te bestuur.

Lees die volledige studie hier.

Ondanks goeie werk in baie lande, is daar ook lande wat tans groot probleme het. Elders word gepraat van ’n derde, wêreldwye vlaag van die virus, omdat infeksies nou in verskillende stede in een land styg en uitbrekings op enige gegewe tyd verwag kan word.

Swede Covid-19

Veral Europa is hard getref – ’n teken van wat op Suid-Afrika kan wag. Maar selfs daar het tweede inperkings gewerk.

Hoewel Engeland vroeër bykans ’n maand lank streng ingeperk is, lyk dit of die daaglikse getalle aan die taan is.

Engeland gaan ook met die feestyd in gedagte die tydperk van kwarantyn verminder vir mense uit die buiteland. Reisigers wat in Engeland aankom, sal van middel Desember vir ’n korter tydperk in kwarantyn hoef deur te bring as hulle vyf dae ná hul aankoms negatief vir koronavirus toets, het die Britse regering Dinsdag aangekondig.

In Japan maak die regering gereed om reisigers tussen sy groot stede te keer nadat die skerp toename in Covid-19-gevalle waargeneem is, het ’n minister Dinsdag gesê.

Australië: Die grens tussen Nieu-Suid-Wallis en Victoria (die streek wat die ergste geraak is in die land) het vroeër vandeesweek geopen en vanoggend het Queensland aangekondig dat die inperking verder verslap word. NSW en Queensland was vir die grootste deel van die jaar geïsoleer. Dit was die eerste keer sedert die Spaanse griep dat die binnelandse grense gesluit is.

’n Laboratoriumtegnikus plaas proefbuise met Covid-19 monsters in ’n vrieskas by die Toulouse Purpan-universiteitshospitaal in Toulouse, Frankryk op 17 November vanjaar. Foto: Bloomberg via Getty Images

Daaglikse gevalle van Covid-19 in Frankryk is op die laagste vlak wat dit in twee maande was. Frankryk het Maandag 4 452 nuwe Covid-19-infeksies gerapporteer, die laagste daaglikse styging sedert 28 September, wat daarop dui dat ’n tweede nasionale inperking gewerk het.

Spanje se koning het hom begin isoleer nadat hy in kontak gekom het met ’n besmette persoon. Die Spaanse koning Felipe VI het tien dae van kwarantyn begin nadat hy in noue kontak gekom het met iemand wat later positief vir Covid-19 getoets het, het die paleis gesê.

’n Man met ’n masker buite die Colosseum in Rome, Italië. Die land is vroeër erg getref. Foto: Getty Images

Dr. Angela Merkel. Duitse bondskanselier, met ’n masker in die parlement. Foto: Reuters

In Albanië, Oostenryk, Azerbeidjan, Belarus, Bosnië, Bulgarye, Kroasië, Duitsland, Griekeland, Hongarye, Italië, Noorweë, Pole, Portugal, Rusland en Switserland toon statistieke ’n skerp toename in die tweede golf – of dan ’n globale derde golf – van infeksies.

Nuwe infeksies in Gaza raak buite beheer. Die stygende getal koronavirusinfeksies in dié digbevolkte strook raak buite beheer en “die ergste epidemiologiese situasie word verwag”, het Palestynse gesondheidsamptenare gewaarsku.

Amerika het ook getoon hoe die virus eintlik nooit regtig afgeneem het of selfs ’n plato het nie, maar dat infeksies deurgaans onder nuwe bevolkingsgroepe voorkom en dat dit vinniger versprei as voorheen.

Dit laat dan die vraag ontstaan wat die tweede golf van die virus vir Suid-Afrika kan inhou as dit sou voorkom,” aldus die staat se verslag.

En Kersfees 2020?

“Daar is net een besliste oplossing, en dit is dat ’n entstof betyds versprei sal word,” lui die staat se verslag.

“Bly maar eerder weg van jou familie vanjaar,” sê dr. Mike Ryan, direkteur van nooddienste by die WGO, Maandag op ’n nuuskonferensie. “Dit sal die veiligste wees.”

’n Mens kan dus net asem ophou. - Saamgestel uit Euronews, Al Jazeera, The Guardian





Meer oor:  Coronavirus  |  Koronavirus  |  Vlak 1  |  Pandemie  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.