Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Italië soos bangmaakfliek, sê oud-Bloemfonteiner

Dit voel soos ’n bangmaakfliek.

Die oud-Bloemfonteiner Erika Nortier en haar seun, Jason (12), eggenoot, Giacomo Messina, en dogter, Leila (10), in afsondering in hul huis in Messina, Sicilië.

So beskryf Erika Nortier, oud-Bloemfonteiner en voormalige Mev. Vrystaat, die verwoestende gevolge van die Covid-19-pandemie wat tans om haar in Italië afspeel.

Nortier, wat al vir langer as vier jaar in dié land woon, sê dit is moeilik om te beskryf hoe erg die situasie daar werklik is.

Teen Maandagoggend is 4 827 mense reeds aan Covid-19 in Italië dood en was 53 578 mense daar met die virus besmet, volgens die Europese sentrum vir die voorkoming en beheer van siektes, ’n agentskap van die Europese Unie.

“Dit is regtig oral om ons, daar is nie ’n plek wat dit nie het nie, dis waarom ons net in die huis bly,” sê Nortier.

Sy en haar man, Giacomo Messina, en hul kinders, Jason (12) en Leila (10), woon in die hawestad Messina in Sicilië. Sy besit ’n skoonheidsakademie en Giacomo werk op skepe.

Giacomo, Leila en Jason Messina hou hulself tuis besig in die tyd van totale afsondering in Italië.

Familielid met Covid-19

Die gesin is veral baie bekommerd oor ’n familielid met Covid-19 in die noorde van die land – die deel wat die ergste deur die virus getref is.

Giacomo se 62-jarige oom sukkel reeds die afgelope twee weke met hoë koors. Hy en sy vrou, wat ’n verpleegster is, bly in een huis in afsondering van mekaar. Sy bly tuis om hom by te staan, maar dra beskermende drag wanneer sy naby hom kom, sê Nortier.

Totale afsondering afgekondig

Dit is twee weke sedert die land in ’n staat van inperking geplaas is.

Nortier sê in dié tyd het sy nog net een keer die huis verlaat om kruideniersware te gaan koop.

“Net een lid per huishouding mag die huis verlaat om kos te gaan koop of apteek of dokter toe te gaan. Die res van die tyd moet almal in die huis bly.”

Die gesin was die dag toe die totale inperking afgekondig is, nie gereed daarvoor nie, sê sy.

Nortier het dadelik aan haar gesin gedink. Sy is onmiddellik apteek toe, het haar kinders se dokter gebel vir voorskrifte, en het kruideniersware gaan koop.

“Toe ons by die winkels kom om kruideniersware te koop . . . soos wat ons gery het was daar reeds rye mense buite al die koswinkels.

“Hulle het ’n meter van mekaar gestaan, almal met maskers en handskoene, want jy moet dit dra as jy buite is.”

Giacomo en Jason Messina tuur na die Milli Marina vanaf hul balkon in Messina.

Lewe by die huis

Die gesin probeer by hul roetine hou, hoewel dit uitdagend is. Hulle is wel al vir etlike dae in hul nagklere, wat gewas word om weer ander aan te trek.

“Jy gaan bad, help die kinders met huiswerk en ek kyk maar wat ek gaan maak om te eet. Ons kyk fliek en speel met die kinders.”

Hoewel sy nie gewoonlik baie kook nie, doen sy dit nou om die tyd om te kry.

Sy probeer vir die kinders se onthalwe sterk wees, maar ’n mens se gemoed is swaar, sê sy.

Intussen gaan sy ook voort om haar naelkuns te beoefen en sy wil nou kursusse aanlyn aanbied om ’n inkomste te verdien.

Gesondheidsorg

Nortier sê die hospitale is vol en die gesondheidswerkers gedaan. Daar is ook nie genoeg mediese toerusting vir al die pasiënte nie.

“Op die televisie adverteer hulle vir dokters om van die suidelike deel te kom om in die noorde van die land te kom help.”

Sy het van ’n dokter gehoor wat met sy selfoon na bejaardes gaan sodat hulle hul familie kan groet.

“Hulle gaan alleen dood en word nie begrawe nie, hulle word veras. Jou familie het nie ’n begrafnis nie, jy kan nie ’n begrafnis hou nie.”

Pa en dogter, Giacomo en Leila Messina, omhels mekaar op hul huis se balkon.

Italianers staan saam

Sy sê die Italianers staan saam in tye van nood. Sy verwys na mense wat op balkonne sing om mekaar te bemoedig.

“Hulle doen dit oral by ons. Een aand het hulle vir ons gevra om 21:00 op die balkonne te gaan staan en liggies vas te hou sodat ander mense dit kan sien. Dit was só mooi – ek kon reg rondom en van ver sien hoe mense se liggies flikker net om mekaar moed te gee.”

* Nortier het ook op 18 Maart ’n video opgeneem om Suid-Afrikaners oor die virus te waarsku. Hierin sê sy onder meer mense moet hulself oppas omdat sy vermoed die virus gaan nie gekeer kan word as dit eers begin “hardloop” nie. Sy maan mense om in hul huise te bly en om vir mekaar te bid.

Meer oor:  Italië  |  Bloemfontein  |  Koronavirus  |  Virus  |  Covid 19-Virus  |  Koronavirussiekte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.