Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Ivermektien: Is dit wettig in SA?

Suid-Afrikaners kan dalk binnekort ivermektien geskik vir menslike gebruik aankoop as ’n groep dokters en aptekers hul sin kry.

Wicus Nienabe
Dr. Wicus Nienaber sê die gebruik van ivermektien vir mense is nie onwettig in Suid-Afrika nie. Dit het nou aan die lig gekom dat die antiparasitiese middel wel plaaslik vir menslike gebruik geregistreer is. Foto: verskaf

Dr. Wicus Nienaber, ’n Gautengse dokter, sê dit het Dinsdag aan die lig gekom dat die antiparasitiese veemiddel ivermektien reeds jare gelede vir menslike gebruik in Suid-Afrika geregistreer is.

“Dit was vir ons verstommende nuus. Die middel verskyn in die register van die Wet op die Beheer van Medisyne vir menslike gebruik as ’n bylae 3-middel. Dit beteken iemand het dit waarskynlik jare gelede laat goedkeur en toe in ’n stadium opgehou om die registrasiegelde te betaal.”

Nienaber sê ivermektien, of die molekule waaruit dit bestaan, is in die wetboek opgeteken, maar ’n spesifieke medikasie wat dit bevat, is nog nie geregistreer is nie.

Die Wet op Aptekers magtig dat indien ’n medisyne ’n lae newe-effek het en nie in Suid Afrika beskikbaar is nie, dit plaaslik op aanvraag vervaardig mag word deur ’n samestellende apteek, sê Nienaber.

’n Samestellende apteek is gemagtig om medisyne te vervaardig.

Die middel het ’n bewese geskiedenis dat dit veilig is vir menslike gebruik, al is dit nie tans vir die behandeling van Covid-19 goedgekeur nie.

Volgens hom beteken dit dat daar ’n opening in die wet is wat onmiddellik gebruik kan word om ivermektien vir menslike gebruik in die land te vervaardig en voor te skryf.

“Die middel het ’n bewese geskiedenis dat dit veilig is vir menslike gebruik, al is dit nie tans vir die behandeling van Covid-19 goedgekeur nie,” sê hy.

Heelparty middels word gedurende die koronaviruspandemie wêreldwyd heraangewend om mense te behandel.

Hy sê dit kan ’n waterskeiding wees as die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) Donderdag besluit om huidige navorsing goed te keur om ivermektien as behandeling teen Covid-19 voor te skryf.

Hy sê hoewel daar nie groot kliniese toetse met duisende mense in kontrolegroepe gedoen is nie, is daar heelparty kleiner studies wat bewys dat die middel werk.

Prof. Graham Hill van die Universiteit van Liverpool het in opdrag van die WGO ’n meta-ontleding van die beskikbare inligting gedoen. Dié ontleding dui daarop dat daar werklike voordele is om ivermektien teen Covid-19 te gebruik.

“Ons hoop nou die WGO sê die inligting oor ivermektien is nie net beduidend nie, maar onomstootlik,” sê Nienaber.

Hy sê dit is nie net in Suid-Afrika waar dokters en aptekers sukkel om die owerhede te oortuig om ivermektien vrylik beskikbaar te stel nie.

Staatsondersteuning in VSA?

In België, die VSA en Brittanje is dit ook tans die onderwerp van vuurwarm besprekings. Daar is aanduidings uit die VSA dat dit binnekort sterk staatsondersteuning gaan kry.

Daar is wel ook lande waar dit vir die behandeling van Covid-19 goedgekeur is. In Belize en Macedonië word dit nasionaal gebruik, asook in provinsies van Argentinië sowel as in een van Indië se deelstate, Utter Pradesh.

Youven Gounden, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Gesondheidsproduktebeheerraad (Sahpra), het Woensdag bevestig dat ivermektien as ’n bylae 3-medisyne in Suid-Afrika gelys is.

Gounden sê die verkoop, verskaffing en gebruik van ’n geneesmiddel word gereguleer deur art. 22S(2) van die Wet op Medisyne en moet deur die minister van gesondheid op aanbeveling van Sahpra goedgekeur word.

Gounden sê die feit dat dit gelys is, beteken nie dat die middel geregistreer is nie.

Volgens Sahpra is geen menslike medisyne wat ivermektien bevat in Suid-Afrika beskikbaar nie.

Netwerk24 het betroubaar verneem dat miljoene pille binne ’n dag vervaardig kan word en samestellende apteke is gereed is om dit te doen.

  • Die berig is aangepas nadat dit aanvanklik gepubliseer is. Netwerk24 het vroeër berig die middel is geregistreer, hoewel dit eintlik gelys is. Ons vra om verskoning vir enige verwarring wat dit veroorsaak het.
Meer oor:  Koronavirus  |  Ivermektien  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.