Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Ivermektien: ‘Pasop vir stroop’

Mense wat ivermektien in die behandeling van Covid-19 gebruik, wag te lank om hospitaal toe te gaan nadat hulle siek word, waarsku dr. Emmanuel Taban, ’n gerekende pulmonoloog van Midrand.

Dr. Emmanuel Taban Foto: Elizabeth Sejake

Taban sê ook tydens die tweede vlaag van die pandemie het baie pasiënte wat met braking en lewerversaking by die Mediclinic Midstream in Centurion aangekom het, erken hulle gebruik ivermektien-stroop. Dié stroop word gebruik om diere te behandel.

Taban sê mense drink dié middel in die hoop dat dit Covid-19 sal voorkom of dat dit hulle van Covid-19 sal genees.

“Verlede week het ek ’n bejaarde pa­siënt en haar man behandel wat erken het hulle gebruik ivermektien (vir diere) reeds die afgelope ses maande. Toe vind ek uit algemene praktisyns skryf dit vir pasiënte voor.”

Ivermektien is ’n breëspektrum-antiparasitiese middel wat wêreldwyd suksesvol gebruik word in die behandeling van parasitiese infeksies by mense en diere.

Taban sê in die huidige vlaag van die pandemie is drie pasiënte wat hy behandel het dood en in die vorige vlaag twee. Hulle het almal ivermektien gebruik.

Die pandemie beklemtoon inentings is belangrik.
Dr. Thulani Mhlanga

Hy sê mense wat die tablette (vir menslike gebruik) drink, het minder lewerprobleme vergeleke met dié wat die dieremiddel gebruik.

“Mense drink dié middel, wat gemaak is om diere mee in te spuit. (Verlede) Sondag het ons 54 pasiënte in Midstream behandel, van wie 40 ivermektien gebruik het. Ek het besluit om hulle te vra watter soort ivermektien hulle gebruik en almal het die vloeistof (vir diere) gebruik, wat hulle volgens hul kilogram (gewig) geneem het.”

Hy sê dit blyk dat mense wat die vloeibare dieremiddel inneem, baie hoër dosisse inkry as met die tablette vir menslike gebruik.

“Geen studie het nog ooit bewys dat ivermektien vir diere in die behandeling van Covid-19 gebruik kan word nie.

“Ek is nie teen die gebruik van ivermektien nie, hoewel ek dit nie vir mense sal voorskryf nie, maar dan moet mense ten minste die tablette gebruik wat veilig is vir mense, nie die een vir diere nie,” sê Taban.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het vandeesmaand ’n dokument gepubliseer waarin hulle aanvoer die uitwerking van ivermektien op sterflikheid, meganiese ventilasie, hospitaalopnames en die verloop van Covid-19 is steeds onduidelik.

Prof. Salim Abdool Karim, epidemioloog en voormalige voorsitter van die ministeriële advieskomitee oor Covid-19, sê twee deeglike, onlangse kliniese studies wat in gerekende mediese tydskrifte gepubliseer is, wys daar is geen beduidende voordeel in die gebruik van ivermektien deur pasiënte met Covid-19 nie.

“Die bewyse ter ondersteuning van ivermektien kom daarenteen van swak uitgevoerde studies.”

Hy sê een van die positiefste studies wat deur navorsers in Egipte gedoen is, is onlangs teruggetrek omdat dit geblyk het die data in die ontleding is fiktief.

“Bewyse ter ondersteuning van die gebruik van ivermektien teen Covid-19 is flou, terwyl bewyse dat die middel geen voordeel toon nie, baie sterker is.”

Abdool Karim sê dit sal onverantwoordelik wees van dokters om die middel voor te skryf, aangesien dit geen bewese voordeel het nie, maar newe-effekte kan hê.

Prof. Colleen Aldous, ’n navorser aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, sê ivermektien word as ’n “dieremedisyne” beskryf om die gebruik daarvan in die behandeling van Covid-19 onder verdenking te bring.

“Die Nobelprys vir medisyne is aan die uitvinders van ivermektien toegeken vir die uitwerking wat dit op die verbetering van menselewens het.”

Dit geld die gebruik van ivermektien teen parasitiese infeksies – nie vir die gebruik teen Covid-19 nie. Sy sê die middel verskyn ook op die WGO se lys van noodsaaklike medisyne vir gebruik teen parasitiese infeksies.

Intussen het die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Narkotiseurs (Sasa) en die Kritiekesorg-vereniging van Suid-Afrika (CCSSA) hul kommer uitgespreek dat sommige mense die gebruik van ivermektien as ’n alternatief tot entstowwe beskou. Hulle moedig Suid-Afrikaners aan om hulle te laat inent. Dié instellings voer aan ivermektien “word verkeerdelik gesien as ’n wonderkuur” vir Covid-19. Sasa en die CCSSA beveel nie die gebruik van ivermektien aan om te keer dat iemand die siekte opdoen of vir die behandeling daarvan nie en beklemtoon dat meer wetenskaplike data hieroor nodig is.

Dr. Thulani Mhlanga, mediese bestuurder van inentings by Pfizer Suid-Afrika, sê die pandemie beklemtoon die belangrikheid van inentings. “Baie sterftes van voorkombare siektes kan voorkom word as volwassenes ingeënt word.”

Meer oor:  Salim Abdool Karim  |  Emmanuel Taban  |  Ivermektien  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.