Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Jhb-burgemeester se dood ’n ‘geweldige slag’

Johannesburg se burgemeester, Geoff Makhubo (53), se dood aan Covid-19 is ’n geweldige slag vir die plaaslike regering, nie net in Johannesburg nie, maar ook die provinsie.

Geoff Makhubo (53) Foto: Deaan Vivier

So sê Lebogang Maile, Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake.

Makhubo is op 3 Julie met Covid-19 gehospitaliseer en hy is Vrydagoggend dood.

“Namens die Gautengse provinsiale regering betuig ons ons innige meegevoel met die Makhubo-familie; sy kollegas en die ANC. Burgemeester Makhubo sterf in ’n tyd waarin die stad Johannesburg dienslewering in gemeenskappe versnel het, veral in arm en werkersklas-gemeenskappe. Ons is hartseer oor sy dood. Hy was ’n baie gedissiplineerde en toegewyde dienskneg wat toegewyd was aan sy diens aan die mense,” sê Maile in ’n verklaring.

Maile sal na verwagting die Makhubo-familie besoek om die regering se medelye te betuig.

Sasabona Manganye, ANC-woordvoerder in Johannesburg, sê Makhubo was ’n vegter en niemand het gedink Covid-19 sou sy lewe eis nie.

“Dis ’n hartseer dag vir Johannesburg. Mense treur oor hul burgemeester.”

Manganye sê ’n prestasie van Makhubo was die uitbreiding van watervoorsiening na informele nedersettings.

“Hy was passievol oor dienslewering. Hy was ’n kalm mens en het liefde vir sy medemens gehad.”

Manganye sê Makhubo se dood wys hoe gevaarlik die pandemie is, daarom moet inwoners die regulasies nakom.

Volgens hom is Makhubo, wat in Desember 2019 as burgemeester aangestel is nadat Herman Mashaba uit sy pos bedank het, ’n ervare leier in die ANC wat sy bes gedoen het om die party te verenig. Hy het ook vroeër die jeugliga gelei.

Die president en ander hooggeplaastes het intussen hul medelye betuig.

Pres. Cyril Ramaphosa sê in ’n verklaring Makhubo se dood is ’n verlies vir Johannesburg en die provinsie.

Hy het Makhubo geprys vir sy bydrae tot die nasionale poging om die pandemie te beveg.

Die president het ook hulde gebring aan Makhubo as ’n ervare staatsamptenaar in die stad Johannesburg, onder meer vroeër as lid van die burgemeesterskomitee vir finansies, as leier van die opposisie in die raad en daarna as burgemeester.

Eunice Mgcina, waarnemende uitvoerende burgemeester en burgemeesterskomiteelid vir gesondheid en maatskaplike ontwikkeling, het in ’n verklaring van die Johannesburg-metro gesê dis hartseer om Makhubo se dood te bevestig.

“Ons het gehoop dat hy die stryd teen die virus sou wen, sal terugkeer werk toe en die stad lei terwyl ons deur hierdie pandemie in die gesig gestaar word wat lewens verwoes.

“Ons innige meegevoel aan sy vrou, dogters, ma en die res van sy familie, vriende en kamerade.”

Mgcina sê die gesin het vir privaatheid gevra en sy sê rouklaers moenie by Makhubo se huis bymekaarkom nie.

Mashaba, leier van ActionSA, sê: “In hierdie moeilike tye word ons daaraan herinner hoe broos die lewe kan wees. Ons gedeelde menslikheid sal altyd voor ons politiek kom; my gebede gaan uit aan sy familie, vriende en kollegas van die ANC.”

Gauteng se premier, David Makhura, sê: “Ons word geruk deur diep hartseer en voel die pyn om iemand te verloor. Ek betuig my innige meegevoel aan sy vrou, Dikeledi Makhubo, kinders, naasbestaandes, vriende en kamerade.”

Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, het ook sy meegevoel betuig.

Meer oor:  Johannesburg  |  Burgemeester  |  Geoff Makhubo  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.