Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Jong rugbyspeler wag dae lank met gebreekte bobeen

Die gemeenskap van Ladybrand in die Vrystaat het vinnig saamgestaan toe ’n belowende sportster van die Laerskool Ladybrand skokkende behandeling in die Pelonomi-hospitaal ontvang het.

Jacques Junior Naudé (9), ’n kranige voorspeler van die Laerskool Ladybrand se o.9 A-span, moes twee dae met ’n gebreekte femur (bobeen) wag om geopereer te word.

Sy ouers is steeds verslae oor hoe die personeel hul seun én hulle behandel het.

Jacques Junior Naudé (10) moes twee dae lank erge pyn verduur toe hy in Pelonomi-hospitaal opgeneem is, maar vir lank nie behandel óf medisyne en kos gegee is nie.

“My seun kry nou nog nagmerries oor hoe hulle hom seermaak,” sê Petro, sy ma.

Jacques het Dinsdagoggend sy femur in ’n rugbyoefening gebreek en is kort daarna na dié staatshospitaal in Bloemfontein gehaas.

Die personeel het glo geskroom om in sy basiese behoeftes te voorsien.

“Selfs die dae wat hy wel kon eet en drink, is hy geen kos óf water gegee nie.”

Nadat hy uiteindelik behandel is, is daar nie behoorlik na sy wond omgesien nie en het die verpleegsters versuim om sy verbande op die dokter se aandrang te vervang.

Toe die verpleegsters hom uiteindelik Donderdag ná 22:00 kom haal vir sy operasie, het hulle hom ruweg van sy saalbed af getel en hom op die teaterbed verplaas.

“Sy pa het gesmeek dat hulle hom soos die res van die pasiënte in sy saalbed daarheen bring. Hulle het hom geïgnoreer en aan sy gesonde been opgetel. Hy het hel toe geskree.”

Ná die operasie het hulle hom na ’n bababed verplaas.

“Die matrassie was so dun dat ek sy been daardeur kon voel,” sê Anél Kotze, ’n vriendin van Petro wie se seun ’n maatjie van Jacques is.

Nadat hy uiteindelik behandel is, is daar nie behoorlik na sy wond omgesien nie en het die verpleegsters versuim om sy verbande op die dokter se aandrang te vervang.
Tollie van Rensburg, Laerskool Ladybrand se skoolhoof, oorhandig vroeër vandeesmaand die Mark Stevens-wisseltrofee aan Jacques Junior Naudé, wat vanjaar glo die meeste talent getoon het.Foto: Ladybrand Rekord

Die splinternuwe beddegoed wat aan hom geskenk is, het op ’n hoop in die hoek van die saal gelê.

“Toe ek om die draai kyk, het van die verpleegsters op sy saalbed se matras gesit en klets,” sê Kotzé.

Vrydagmiddag het die dokter gesê sy verbande moet vervang word om infeksie te voorkom, maar die verpleegsters het bloot nóg verbande omgebind en pleisters geplak om die ou bloed te verdoesel, sê Petro.

Omdat hulle die personeel hieroor gekonfronteer het, is hulle die saal belet.

Danksy weldoeners kon hulle Vrydagaand laat na hul tuisdorp terugkeer. Jacques is glo sonder enige antibiotika ontslaan, slegs Panado.

Daar was geen dokumente vir sy fisioterapie of x-strale nie. Nog ’n weldoener in die hospitaal op Ladybrand het hom daarmee gehelp.

Jacques Junior moet Dinsdag na die hospitaal terugkeer, maar Petro sê dit voel onmoontlik, want hy weier.

Jacques Junior Naudé in sy rugbyklere.

Die gesin word ook deur uitsetting uit hul huis in die gesig gestaar.

“Ons moet die naweek uit die huis uit. Ek het nie ’n idee wat ons gaan maak nie, ons kry nie plek nie.

“Dit voel of alles inmekaar val.”

Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaatse departement van gesondheid, sê die hospitaal ontken dat die seun se verbande nie vervang is nie.

“Die bewering oor die verpleegsters se houding en dat die seun hardhandig hanteer is, sal ondersoek word.”

Meer oor:  Pelonomi-Hospitaal  |  Ladybrand  |  Hospitaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.