Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘Jy het apnee, so koop ons toestel’

Neurofisioloë het klagte by die Raad vir Gesondheidsberoepe (RGB) ingedien teen verskaffers wat glo slaapstudies doen en dan asemhalingstoestelle verkoop vir slaapapnee. In dié toestand hou pasiënte vir kort tye op asemhaal terwyl hulle slaap.

Die Neurologiese Vereniging is bekommerd dat daar verskaffers is wat botsende belange het by die verkoop van die asemhalingstoestelle en selfs slaapstudies doen sonder dat hulle by die RGB geregistreer is daarvoor.

“Verkope word direk aan verwysings gekoppel,” sê Peet Vermaak, voorsitter van die Neurologiese Vereniging van Suid-Afrika.

“Die RGB verbied verskaffers om sowel slaapstudies te doen as asemhalingstoestelle vir slaapapnee te verkoop omdat dit as botsende belange beskou word.”

Hy sê slegs medici wat opgelei is in neurofisiologie is by die RGB geregistreer om slaapstudies te doen en die uitslae daarvan te interpreteer. Volgens hom doen sommige verskaffers hul eie slaapstudies om die verkope van asemhalingstoestelle te bevorder.

“Dit is ’n baie ernstige aangeleentheid. Slaapstudies is veronderstel om by ’n slaapsentrum gedoen te word waar pasiënte se slaappatroon gemonitor word en agterna deur ’n spesialis geïnterpreteer word.

“Daar is gevalle waar dit sommer by mense se huise deur ongekwalifiseerde persone met substandaardtoerusting gedoen word.

“Dié slaapstudies is van ’n lae standaard en kan tot verkeerde
diagnoses lei,” sê hy.

Pasiënte kan dan asemhalingstoestelle aanskaf wat dit nie werklik nodig het nie, waarsku hy.

“Daar is ook ’n gevaar dat die verkeerde masjiene voorgeskryf word.”

Hy verduidelik dat verskillende soorte masjiene voorgeskryf word, afhangende van die soort slaap­apnee waaraan die pasiënt lei.

Met obstruktiewe slaapapnee (OSA) ontspan en vernou die keel se spierwande wanneer jy slaap. Dit blokkeer die lugweg sodat die persoon minstens tien sekondes lank min of geen asem kry nie.

In OSA-gevalle moet ’n pasiënt met ’n CPAP-masjien slaap. ’n CPAP-masjien is ’n toestel wat soos ’n masker oor die neus en mond pas en aanhoudend lug in die lugweë blaas om die boonste gedeelte van die lugweg oop te hou.

In sentrale slaapapnee moet ’n pasiënt met ’n BPAP-masjien slaap omdat die lugweg die heeltyd oop is. In sentrale slaapapnee stuur die brein nie die seine om asem te haal terwyl jy slaap nie.

Dié masjien oefen hoër druk uit wanneer jy inasem en laer druk wanneer jy uitasem.

“Die gevaar is dat die pasiënt kan versmoor, hoë bloeddruk of selfs ’n hartaanval kry indien hy met die verkeerde masjien slaap.”

Volgens Vermaak het hulle klagte teen vier maatskappye ingedien wat glo buite hul bevoegdheid optree deur slaaptoetse te doen.

Tanya Lindeque, ondersoekbeampte by die RGB, sê die ondersoek is aan die gang.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.