Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Jy kan nét dan hardloop, stap of fietsry – polisie

Jy kan winkel toe draf, stap of fietsry om te gaan kos koop, maar jy kan nie sommer net vir oefening op jou eie gaan hardloop, stap of fietsry nie.

“As jy winkel toe gaan om kruideniersware te gaan koop, kan jy kruip, hardloop, stap of draf, want die doel is dan nie om net te hardloop, stap of fiets te ry nie, maar om kruideniersware te gaan koop,” verduidelik brig. Vish Naidoo, woordvoerder van Bheki Cele, minister van polisie.

Hy het Donderdag aan Netwerk24 gesê Cele het dit Woensdagaand op ’n mediakonferensie in Pretoria, waar die regering die fynere besonderhede van die moets en moenies van die staat van inperking bekend gemaak het, duidelik gestel dat niemand met hul honde mag gaan stap, hardloop of draf nie.

“Draf en stap vir oefening is taboe. Dit word nié toegelaat nie. Dit is ook die geval op die geslote landgoedere (estates) waarin baie mense woon,” sê Naidoo.

“Inperking (om in jou huis en tuin te bly) is inperking, uit en gedaan.

“Jy mag slegs jou huis verlaat as jy noodsaaklike dinge wil gaan doen soos om kos te koop, dokter of apteek toe te gaan – al die dinge wat in die regulasies as noodsaaklik beskryf word.

“Draf, stap of fietsry vir oefening tel nie onder dié noodsaaklike dinge nie.

“Daar is géén uitsonderings nie.”

Frith van der Merwe (middel), die eertydse koningin van die Comrades, baie jare gelede in ’n Om die Dam-wedloop wat in gietende reën plaasgevind het. Foto: Sarel van der Walt

Naidoo sê die minister is ook nie bang dat mense hom hof toe sal sleep omdat hul menseregte sodoende “geskend” word nie. Die minister en die polisie pas bloot die regulasies toe wat in die Staatskoerant afgekondig is.

“Ons pas die wet toe. Onthou, die gedagte is nie om iemand te straf nie. Dit is eerder in die stryd teen die virus om lewens te beskerm,” sê Naidoo.

“Onthou, almal maak nou groot opofferings om te keer dat die land op lang termyn nie nóg groter skade gaan ly nie.

“Tot dusver het die land se mense baie positief op ons versoeke gereageer. Byvoorbeeld, toe die president gevra het dat sjebiens saans om 18:00 sluit, is gehoor gegee daaraan.

“Tot dusver reageer die oorgrote meerderheid mense baie positief. Ons is vol vertroue dat dit in die volgende paar weke steeds die geval sal wees,” sê Naidoo.

Tot dusver reageer die oorgrote meerderheid mense baie positief. Ons is vol vertroue dat dit in die volgende paar weke steeds die geval sal wees.

Frith van der Merwe (56), eertydse koningin van die Comrades, sê sy is verpletter deur die nuus dat sy nie elke dag kan gaan hardloop nie.

“Ek het gisteraand (Woensdagnag) nie ’n oog toegemaak nie want ek weet nie wat om te doen nie.

“Ek is verpletter. Dit voel of my lewensbloed afgesny word,” sê Van der Merwe, wat al 40 jaar lank byna elke dag hardloop.

“Die mense wat besluite soos dié neem, is nie mense wat so verslaaf is aan hardloop soos ons hardlopers nie.

“Ek hardloop nie net om gesond te bly nie. Dit help my ook om die daaglikse stres te verwerk en my dag te beplan.

“Ek kan regtig nie dink hoekom mense nie op hul eie kan gaan hardloop nie. Ek kan verstaan dat hulle nie wil hê dat groepe hardlopers saam moet hardloop nie. Maar iemand soos ek hardloop dou voor dag op my eie.

“Ek sien ’n man in Frankryk het op sy woonstel se balkon ’n marathon-afstand gehardloop. Dit sal ek darem nie doen nie!” sê die Oos-Randse onderwyseres wat al algeheel 15de in die Comrades was.

Meer oor:  Draf  |  Koronavirus  |  Stap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.