Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Kaapse man verloor 100 kg in 12 maande

’n Kaapse man is in sy noppies nadat hy 100 kg binne een jaar afgeskud het en nou net 20 kg weg is van sy ideale gewig.

Francois Steyn (32), ’n boukontrakteur van Sunningdale, Kaapstad, het voorheen 230 kg op die skaal getrek.

Francois Steyn (32) ’n jaar gelede en nadat hy 100 kg verloor het.

Hy sê die 100 kg wat hy nou afgeskud het, was ’n mylpaal, maar sy mikpunt is om 120 kg te verloor.

Hy sê hy was nog nooit “ ’n gewone ou” nie en was nog altyd “groot gebou”. Sy normale gewig voorheen was sowat 130 kg en hy staan 1,85 m in sy sokkies.

’n Jaar gelede het hy net meer as 229 kg geweeg en nou staan hy op ’n rapsie meer as 129 kg.

“My gewig was nooit ’n probleem nie. Ek was gesond, maar toe gaan die lewe sy gang en ek tel al die gewig op weens slegte eetgewoontes.

“As ’n mens saans laat by die huis aankom, is jy nie lus om kos te maak nie. Wegneemetes is soveel makliker. Ek het menige maal sommer net ’n pizza bestel.”

Deesdae kook hy vooraf gesonder maaltye, wat groente en proteïene insluit.

“Dit is gesonder en ook maklik, want jy kan dit saans in die mikrogolfoond warm maak,” sê hy.

Hy sê aanvanklik kon hy nie veel oefen nie omdat hy so swaar was. “Ek het eers net 1 km gestap. Dit het later 2 km geword. Toe het ek my by Virgin Active aangesluit.”

’n Mens kom ’n punt waar jy nie meer gewig afskud nie en dit kan jou ontmoedig. Jy verloor 20 kg en tel dan weer 10 kg op. Maar ’n mens moet aanhou, want dit help nie om moed op te gee nie.

Daar het hy eers 5 km op ’n oefenfiets gery, wat later 10 km geword het. “Ek is deesdae sowat 30 minute op die trapmeul,” sê hy.

Hy oefen ook met gewigte en kon aanvanklik 100 kg lig. Deesdae kan hy al 200 kg optel.

Steyn sê hy was aanvanklik sy eie grootste struikelblok.

“ ’n Mens kom ’n punt waar jy nie meer gewig afskud nie en dit kan jou ontmoedig. Jy verloor 20 kg en tel dan weer 10 kg op. Maar ’n mens moet aanhou, want dit help nie om moed op te gee nie.”

Hy het verlede jaar aan die 5 km-afstand van die Gunrun-padwedloop in Kaapstad deelgeneem en beoog om vanjaar die halfmarathon aan te pak, al sukkel hy tans om te oefen weens probleme met sy linkerknie.

As deel van sy oefenprogram tel Francois Steyn gewig op. Hy kan deesdae al 200 kg lig.
Fietsry is deel van Francois Steyn se oefenroetine.
Meer oor:  Francois Steyn  |  Kaapstad  |  Oorgewig  |  Gewigsverlies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.