Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Kanker-eenheid gesluit ná kabels oorstroom

Die bestralingseenheid van die onkologie-sentrum by die Nasionale Hospitaal in Bloemfontein is gesluit nadat die elektriese kabels van die duur toerusting deur water oorstroom is.

Dit volg nadat die ondergrondse parkeerterrein reeds ’n jaar lank deur water oorstroom is, ’n probleem wat glo deur lekkende stoomketels veroorsaak is.

Die sentrum behandel kankerpasiënte van die Vrystaat, Noord-Kaap, Oos-Kaap, Noordwes en Lesotho.

Die onkologie-eenheid by die Nasionale Hospitaal in Bloemfontein is vir ’n week gesluit nadat die duur bestralingstoerusting onder water was. Hier vertroos Adele du Plessis van Cancer Five vir Nthabiseng Majoro verlede jaar in die sentrum. Foto: Mlungisi Louw

Dit is ’n slag vir die eenheid wat reeds kwaai onderbeman is. Personeel het oor die feestyd gesukkel om verlof te neem, omdat daar net te min spesialiste oor is om kankerpasiënte te bedien.

Mondli Mvambi, woordvoerder, het by navraag gesê die Vrystaatse departement van gesondheid kan bevestig die bestralingseenheid van die Universitas-hospitaal, wat by die Nasionale Hospitaal is, is sedert Dinsdag tydelik as ’n voorkomende maatreël gesluit.

Van die departement se ingenieurs het Maandag met onderhoudswerk van die bestralingsmasjiene vasgestel dat water in die afvoerstelsel die elektriese kabels van die masjiene bedek.

“Die verstopping van die afvoerstelsel is deur die as van die stoomketels veroorsaak. Die as beland in die afvoerstelsel en verstop die stormwaterstelsel.”

Mvambi sê die besluit is dadelik geneem om die bestralingseenheid tot 15 Januarie te sluit. Die ander dienste word egter steeds gelewer. Nuwe pasiënte word in die kliniek gespreek, die chemoterapie-sentrum is oop en die vier sale werk goed.

’n Kontrakteur is aangestel om die water uit te pomp wat die elektriese kabels van die bestralingsmasjien bedek het en om die verstopping oop te maak. Daar is reeds Woensdag met die werk begin.

Die onkologiedepartement het reëlings getref dat noodpasiënte deur private geriewe in Kimberley en Klerksdorp behandel word sou dit voor 15 Januarie nodig wees.

“Die departement bespoedig die herstelwerk om te verseker dat die bestralingseenheid na normaal terugkeer, want ons is bewus daarvan dat ons die belangrikste diensverskaffer vir kankerpasiënte in die streek is.

“Dit is duidelik die private sektor voldoen nie aan die groot vraag na die dienste in terme van kapasiteit nie. Dit sluit ook die koste van die behandeling van kanker in die private sektor in.”

Mvambi sê die tekort aan personeel bly die enkele grootste uitdaging in die openbare sektor. Die onkologiedepartement verwag om sy personeelgetalle vroeg vanjaar te verhoog. Nog agt bykomende poste word geadverteer. Op die oomblik is 14 van die 22 poste gevul.

“Die agt bykomende poste sal sekerlik die gaping vul wat nou bestaan.”

Hy sê die departement vorder goed om kankerbehandeling as ’n kritieke terrein in die gesondheidstelsel te vestig om dit gelyk te stel aan sy beheer van MIV/vigs en tuberkulose.

Meer oor:  Bloemfontein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.