Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Kankerlyertjie (3) se laaste hoop behandeling in Kaap

’n Kleuter van Upington in die Noord-Kaap, Tiana van Blerk (3), veg dié Kersvakansie in Kaapstad om haar lewe nadat dokters vir haar ouers, André en Cerina van Blerk, gesê het daar is niks meer wat hulle vir haar kan doen nie.

Die sanger Bobby van Jaarsveld het ook al by klein Tia gaan kuier. Hier is sy op haar pa, André, se skoot, met Bobby en Cerina by hulle.

Neuroblastoom is op 16 November 2018, net twee dae ná haar tweede verjaardag, by Tiana, of Tia soos almal haar noem, as ’n fase-vier-kanker gediagnoseer.

Van Blerk sê sy het twee maande voor die tyd ’n gevoel gehad dat iets nie pluis is met Tiana nie. Sy was moeilik, het sleg geslaap en haar een ogie het nie reg gelyk nie.

’n Optometris het in Oktober 2018 aanbeveel dat hulle haar na ’n oftalmoloog neem.

Van Blerk vertel in ’n blog, wat deur ’n gesinsvriend, Len Fourie, gehou word, sy wou in die dae voor Tia se diagnose skree van angs en bekommernis en dat sy geweet het iets groots is fout. Dokters het uiteindelik bevestig Tia het ’n gewas agter haar linkeroog, daar is kanker in haar buik en ook aan haar rugmurg.

Die Van Blerks het besluit om Tia in Kaapstad te laat behandel. Sy het goed op die eerste reeks chemoterapie gereageer en hulle moes drie maande in die Kaap vir die behandeling bly.

In Maart vanjaar het die primêre gewas by haar bynier so gekrimp dat dokters dit kon verwyder.

Intussen het Cerina weer swanger geraak.

Op 2 Mei het Tia haar laaste chemoterapie gekry en sy het selfs die kankerklok in die hospitaal gelui om die einde van haar reeks behandelings te vier. In Julie vanjaar het sy ook ’n reeks bestralings in die Grootte Schuur-hospitaal gekry en het sy weer gesond gelyk.

Tia speel sy is ’n dokter. By haar is haar bababoetie, Drehan, en ma, Cerina.

Vir ’n kort rukkie kon die gesin weer normaal voel en net na die nuwe baba, klein Drehan, se koms uitsien.

Die Van Blerks het in Augustus weer onrustig begin voel gesien Tia se oog lyk nie meer reg nie.

’n MRI-skandering het in September gewys daar is twee gewasse agter Tia se oog en dat die kanker weer deur haar hele lyf versprei het. ’n Bloemfonteinse onkoloog, dr. Jan du Plessis, het aan Cerina en André gesê dat Tia geen kans op herstel het nie en dat hy haar net gemaklik kan maak.

Die driejarige Tia van Blerk veg teen kanker.

Die Van Blerks wou dit nie aanvaar nie, maar die reeks chemoterapie wat Tia tot in November gekry het, het niks gehelp nie en sy het verder verswak.

Hulle het intussen gehoor van ’n nuwe soort geïntegreerde kankerbehandeling wat in die Kaap gegee word en klou nou vas aan die hoop dat dié behandeling Tia weer ’n kans op lewe kan gee.

Intussen is kleinboet Drehan in Oktober gebore en is Van Blerk se borsmelk dikwels al voedingstof wat Tia kan inneem.

André sê dit is moeilik en hulle neem Tia se siekte dag vir dag. Van die familie sal darem oor die Kerstyd by hulle in die Strand kom inloer.

Mense kan die Facebookblad “Warrior Tia” volg om te sien hoe dit met haar gaan.

Meer oor:  Upington  |  Kaapstad  |  Kanker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.