Die kanse is skraal dat die novel korona-virus (2019-nCoV), wat reeds tot die dood van nege mense gelei het, na Suid-Afrika sal versprei.
Só sê die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) nadat die virus die eerste keer op 31 Desember 2019 in die stad Wuhan in die Hubei-provinsie in China by ’n mens gediagnoseer is.
Sedertdien is meer as 400 mense in China met die virus besmet, terwyl gevalle ook in Taiwan (1), Thailand (3), Suid-Korea (1) en Amerika (1) aangemeld is.

Grafika24
Korona is ’n virus-familie wat van ’n gewone verkoue tot die meer ernstige Mers (Midde-Oosterse respiratoriese sindroom) en Ears (ernstige akute respiratoriese sindroom) kan veroorsaak.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het vasgestel dat die 2019 nCoV van mens tot mens oorgedra word.
Die virus veroorsaak bykans onmiddellik longontsteking. Van die simptome is koors, asemhalingsprobleme, hoes en verkoue.
Die siekte versprei vinnig en in een van die mees onlangse gevalle is ’n Amerikaner van in sy 30’s met die siekte gediagnoseer nadat hy die stad Wuhan besoek het. Hy het van daar na Seattle in die VSA gevlieg.
Spesiale voorsorgmaatreëls is intussen getref op verskeie internasionale lughawens soos op Heathrow buite Londen, waar passasiers wat van lande afkom waar gevalle reeds aangemeld is, hulle in aparte aankomssale moet aanmeld.
As ’n voorsorgmaatreël word die passasiers se koors onder meer geneem.
Luidens ’n verklaring deur Nios word die meeste van die gevalle met besmette seekos, pluimvee en wild verbind. Die virus het aanvanklik in die Huanan Seafood Wholesale Market in die Jianghan-distrik in die Hubei-provinsie voorgekom.
Daar is geen regstreekse vlugte van Wuhan na Suid-Afrika nie, maar die gevaar bestaan dat mense van China via ander roetes na Suid-Afrika kan kom.
Die departement van internasionale betrekkinge sê hy is in kontak met Nios en hou die situasie dop.