Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Kanse vir bloedklont ná entstof ‘groter met vlieg, voorbehoedpil’

Die kans is een uit ’n miljoen dat ’n mens ’n bloedklont van die Johnson & Johnson-entstof sal ontwikkel.

Prof. Barry Schoub, voorsitter van die ministeriële komitee vir Covid-19-entstof, haal dié statistieke uit Amerikaanse navorsing aan om te verduidelik hoe skraal die kans is dat ’n mens ’n bloedklont sal ontwikkel nadat jy ingeënt is.

Een uit elke 2 000 mense kry elke jaar ’n bloedklont van voorbehoedpille en een uit elke 1 000 mense kry elke jaar ’n bloedklont wanneer hulle vlieg.

Dit volg nadat Suid-Afrika sy verspreiding van die J&J-entstof tydelik gestaak het uit kommer omdat ’n seldsame siektetoestand, wat verband hou met bloedklonte, by ses vroue in Amerika aangemeld is kort nadat hulle ingeënt is.

Nagenoeg 6,8 miljoen mense in Amerika is reeds met die J&J-entstof ingeënt.

In Suid-Afrika is 290 000 mediese werkers daarmee ingeënt, maar nog geen soortgelyke voorvalle (van bloedklontvorming) is aangemeld nie.

Schoub sê die kanse is groter om ’n bloedklont te ontwikkel wanneer ’n mens vlieg of voorbehoedpille gebruik.

“Een uit elke 2 000 mense kry elke jaar ’n bloedklont van voorbehoedpille en een uit elke 1 000 mense kry elke jaar ’n bloedklont wanneer hulle vlieg,” sê Schoub.

johnson & johnson, bloedklonte

Hoe vorm ’n bloedklont weens die entstof?

Schoub verduidelik die Covid-19-entstowwe wat die adenovirus gebruik het die potensiaal om ’n bloedklont te laat ontwikkel.

Tans gebruik slegs die AstraZeneca- en J&J-entstowwe die adenovirus as ’n draer.

Die virus (’n verswakte weergawe van die verkouevirus) word gebruik as ’n draer van ’n onaktiewe koronavirussel.

Dit genereer dan ’n immuunrespons wanneer dit in die liggaam inkom.

“Tydens die immuunrespons word teenliggaampies gemaak. Die teenliggaampies wat deur die adenovirus veroorsaak word, verminder egter die bloedplaatjies in jou bloed.

“Bloedplaatjies is daarvoor verantwoordelik om jou bloed te laat stol sodat jy byvoorbeeld nie doodbloei wanneer jy ’n sny aan jou vinger kry nie,” verduidelik Schoub.

Volgens hom vind daar nou ’n omgekeerde reaksie plaas en pleks dat ’n pasiënt begin bloei, word daar nou bloedklonte gevorm.

“Dit is ’n baie rare verskynsel. Die bloedklont is geneig om in die brein en in die buik voor te kom en vroue is meer geneig om dit te kry as mans,” sê Schoub.

Ondanks die geringe kans om ’n bloedklont op te doen, meen Schoub dit was tog nodig om die studie tydelik te staak.

Entstowwe soos die Pfizer-entstof, wat eersdaags na Suid-Afrika onderweg is, gebruik mRNS-tegnologie.

johnson & johnson, bloedklonte

Voorkoming en behandeling

Schoub sê daar is geen medisyne wat ’n bloedklont kan voorkom nie.

“Daar is wel behandeling. Die bloedklonte wat deur die adenovirus-entstowwe veroorsaak word, kan met immunoglobulien (’n ander soort teenliggaampie) behandel word.”

Schoub maan dat dit nie met heparin, wat gewoonlik gebruik word om bloedklonte te behandel, behandel moet word nie, “juis omdat daar ’n omgekeerde reaksie is”.

Wat van ander entstowwe?

Volgens Schoub is dit die eerste keer dat dié soort tegnologie (benutting van die adenovirus) op groot skaal in ’n entstof gebruik is.

“Dit word gebruik in entstowwe vir Ebola en die Zika-virus en daarom is die probleem nog nooit waargeneem nie. In griepentstowwe word ’n adenovirus nie gebruik nie,” sê Schoub.

Meer oor:  Prof. Barry Schoub  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Entstof  |  Bloedklonte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.