Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Kenners besorg oor wye magte aan politici

Grondwetkenners is bekommerd dat die ingrypende magte wat die laaste paar weke aan ministers en die polisie toegeken is ingevolge die Rampbestuurswet, te ver gaan.

Prof. Elmien du Plessis, grondwetkenner aan die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit, sê dit sou veiliger gewees het om ’n noodtoestand te verklaar wat hoogstens 21 dae kon geld voordat dit verleng kon word en waaroor die parlement regstreeks sou toesig hou.

Dit sou veiliger gewees het om ’n noodtoestand te verklaar wat hoogstens 21 dae kon geld?.?.?.

Die Rampbestuurswet gee feitlik onbeperkte magte aan die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, om regulasies uit te vaardig om ’n nasionale ramp te bestuur.

Gegriefdes kan die regulasies slegs in die konstitusionele hof betwis. Die parlement speel geen rol daarin nie.

“Ek is van mening dat die eerste stel regulasies nog geregverdig kan word binne die wetgewende raamwerk, maar nie die tweede stel nie,” sê Du Plessis.

Die regering besef dit klaarblyklik. Donderdagmiddag laat, 24 uur ná die uitreiking van die tweede stel regulasies, is die mees omstrede regulasie skielik teruggetrek.

Regulasie 11E het beamptes gevrywaar van enige eise vir vergoeding vir skade wat hulle mense sou kon berokken terwyl hulle die nasionale ramptoestand afdwing.

Die parlement het nie hierin ’n toesigrol nie maar gee aan Dlamini-Zuma die mag om ’n komitee van ministers te lei wat beheer oorneem oor die bestuur van die ramp.

Dlamini-Zuma, wat die politieke hoof is van een van die meer onbevoegde nasionale departemente in die regering, is dus die eintlike toesighouer oor die ander ministers en amptenare wat die rampbestuur toepas, insluitende die polisie en die nasionale weermag.

“Ek stem saam dat die maatreëls van die inperking nodig en regverdig en rasioneel is, maar die bron van die mag is kommerwekkend,” sê Du Plessis.

Die inperking plaas uiteraard groot beperkings op mense se basiese regte soos vryheid van beweging en die reg om handel te dryf.

“Ons het te doen met buitengewone omstandighede wat die hele land raak. Die regte word ingeperk vir ’n groter saak en dis verstaanbaar.

“Maar dit behoort nie deur ’n gewone wet soos die Wet op Rampbestuur gedoen te word nie. Die gevaar is dat dit ’n nuwe normaal skep. Ons stuur die boodskap uit dat buitengewone omstandighede deur ’n gewone wet gereguleer kan word wat selfs ná die krisis kan voortbestaan,” sê Du Plessis.

Daarenteen kan net die parlement ’n noodtoestand ná 21 dae vir drie maande verleng.

As die regering dit verder wil verleng, kort dit ’n 60%-meerderheid in die parlement.

Prof. Pierre de Vos, grondwetkenner aan die Universiteit van Kaapstad, sê ook daar is gapings in die jongste stel regulasies wat in die hof uitgedaag kan word.

“ ’n Groter gevaar is dat die onduidelikheid in sommige van die regulasies tot probleme met die afdwing daarvan kan lei,” sê De Vos op sy webblad, Constitutionally Speaking.

Die gevaar bestaan dat lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens wat oorgretig is, dit op oordadige maniere kan afdwing, of selfs dat gewetenlose en korrupte polisielede hul eie reëls kan “skep” en dit gebruik om omkoopgeld uit lede van die publiek te dwing, sê hy.

Meer oor:  Elmien Du Plessis  |  Pierre De Vos  |  Grondwet  |  Covid-19  |  Inperkings  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.