Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Kerke nié hof toe vir ophef van verbod

Die Gereformeerde Kerke se leierskap het ’n versoek van ’n paar gemeentes afgewys om hof toe te gaan oor die verbod op godsdienstige byeenkomste.

Ds. Cassie Aucamp Foto: Theana Breugem

Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) se deputate-owerheid het die afgelope week in ’n brief aan sy gemeentes gesê dit sou onverantwoordelik wees om die regering te vra om dié beperking op te hef.

Ds. Cassie Aucamp, voorsitter van die GKSA se deputate-owerheid, sê in die brief hulle het versoeke van kerkrade, predikante en lidmate ontvang om druk op die regering te plaas om die verbod te hersien. Pres. Cyril Rama­phosa het dit laat in Desember ingestel.

Apostel John Radebe van die God’s Power Ministries in Sebokeng naby Vanderbijlpark is verlede Sondag saam met nog ’n kerkleier en drie lidmate in hegtenis geneem omdat hulle die regulasie oortree het. Die polisie het rubberkoeëls en skokgranate gebruik om die diens te stop wat deur 250 mense bygewoon is. Mense het die polisie met stoele gegooi toe hulle beveel het dat die diens gestaak word.

Enkele Gereformeerde gemeentes wil hê dat eredienste gehou word terwyl Covid-19-protokolle steeds geld.

Die klaers het gevra die kerk moet die regering daarop wys dat die verbod irrasioneel is in die lig daarvan dat 50 mense op ’n slag in dobbelhuise, fliekteaters en restaurante toegelaat word, en dat “ons by die punt gebring is waar ons nie anders kan as om die pad van burgerlike ongehoorsaamheid te betree nie”, lui die brief.

“Die deputate is ook versoek om die regering te maan dat sou die irrasionele verbod nie opgehef word nie, die Gereformeerde Kerke as kerkverband of as bepaalde gemeentes genoop sal wees om die regering voor die hof te daag om sy bepaling te hersien.”

Aucamp sê in die brief die aangeleentheid is deeglik bespreek en daar is besluit dit sou onverantwoordelik wees om die regering te versoek om die beperking nou op te hef.

Hy waarsku die groot getalle nuwe besmettings kan katastrofiese afmetings aanneem.

Die deputate is daarvan oortuig dat die betrokke verbod binne die godgegewe verantwoordelikheid van die staat val “wat ’n roeping en verantwoordelikheid ten opsigte van die heil en welsyn van die samelewing as geheel het”.

“Die deputate wil dit duidelik in antwoord op die versoeke stel dat daar nie in die huidige situasie, op grond van ons gereformeerd-etiese beginsels, regverdiging is vir burgerlike ongehoorsaamheid nie en dat die kerke nie in ’n staat van vervolging of selektiewe onderdrukking verkeer nie,” sê Aucamp.

“Ons moet ook in ag neem dat optrede deur ’n enkele gemeente ook al die gemeentes in die kerkverband kan raak. Die deputate is van oordeel dat daar nie grond bestaan vir die inisiëring van ’n hofgeding teen die staat vanweë die vermeende irrasionaliteit van die bepalings nie.”

Hy sê die deputate het begrip daarvoor dat godsdienstige byeenkomste deur verskillende geloofs- en kultuurgemeenskappe totaal verskillend ingerig word. “Sosiale afstand kan maklik in die Gereformeerde erediens gehandhaaf word omdat dit in hoofsaak gaan om die Woord. By ander geloofsgemeenskappe is naby-kontak, op-mekaar-aangewese rituele en langdurige samesyn veel groter risiko’s vir oordrag van die virus. Die deputate is bewus daarvan dat een wet as’t ware vir twee wêrelde geld, waarvoor ons begrip moet hê in die evaluering van ons eie situasie.”

Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NG Kerk se algemene sinode, sê hy weet nie van enige klagtes binne die kerk oor die regering se verbod op godsdienstige byeenkomste nie.

Dr. Wouter van Wyk, sekretaris van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika se kommunikasiekommissie, sê hulle het geen negatiewe terugvoering oor die verbod ontvang nie.

Meer oor:  Inperkings  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.