Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Kerke ‘sal veg’ om Paasfees te kan vier

Kerke gaan baklei om oop te bly vir Paasfees, sê Michael Swain, hoof van die organisasie Freedom of Religion (For SA).

As eredienste in die Paastyd verbied word, plaas dit kerkleiers in ’n moeilike posisie, sê hy.

“Hulle sal moet besluit aan wie hulle gehoorsaam moet wees; God of die mens?”

’n Deel van Moria, waar derduisende lidmate van die Zion Christian Church jaarliks Paasfees vier. Dié foto is in 2013 geneem. Die kerk het dié jaarlikse saamtrek vanjaar afgestel. Foto: Leon Sadiki

Die ministeriële advieskomitee oor Covid-19 het die afgelope week die nasionale Covid-19-bevelsraad aangeraai om die inperking oor die Pase tot vlak 2 te verhoog. Sommige ministers wil die kerke egter glo oophou vir die Paasnaweek.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Woensdag gewaarsku streng voorsorgmaat­reëls sal ingestel word om byeen­­komste te voorkom wat “superverspreiders” kan wees.

Swain sê kerkleiers sal dit nie gelate aanvaar dat mense nie kerke mag besoek om die opstanding van Christus te vier nie. Hy sê daar is ’n sterk moontlikheid dat kerkleiers strenger regulasies sal ignoreer.

Swain sê gelowiges is gegrief dat daar beperkings is op die getal mense wat by kerkbyeenkomste toegelaat word, terwyl politieke partye groot byeenkomste hou en mense toegelaat word om langs mekaar in ’n casino te dobbel. Hy sê For SA gaan steeds voort met sy hofsaak waarin aangevoer word regulasies oor geloofsbyeenkomste is irrasioneel en moet as ongrondwetlik verklaar word. Hulle sê dié besluit is nie op wetenskaplike feite gegrond nie, maar arbitrêr geneem.

Swain sê dit is verkeerd om die sogenaamde Jerusalem-gebedsbyeenkoms verlede jaar in Bloemfontein voor te hou as ’n rede om kerkbyeenkomste te verbied.

Verskeie mense is daar aangesteek, maar Swain sê dit het plaasgevind voor die inwerkingstelling van Covid-19-protokolle om die verspreiding van die virus te keer. Hy sê die regering het destyds vyf buitelanders, wat positief vir Covid-19 getoets is, toegelaat om die byeenkoms by te woon. “Daar kan nie ’n gevolgtrekking gemaak word dat die byeenkoms self die rede vir die verspreiding van die virus was nie.”

Prof. Narnia Bohler-Muller van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing sê hul navorsing toon die meeste mense is bereid om hul reg prys te gee om na ’n plek van aanbidding te gaan om die virus te stuit. Mense is in Julie en weer in Desember in ’n meningspeiling gevra watter regte hulle bereid is om prys te gee om die virus te stuit.

Sowat 56% van die respondente het in Julie gesê hulle sal hul reg prysgee om na ’n plek van aanbidding te gaan, teenoor 53% in Desember. Sowat 51% van die respondente was in Julie tevrede met reisbeperkings, maar 46% in Desember.

Net 33% was in Julie bereid dat skole en universiteite sluit teenoor net ’n kwart in Desember.

“Die meningspeiling is ’n aanduiding dat mense in die algemeen gedink het dit is beter om tuis te bly as om na ’n plek van aanbidding te gaan,” sê Bohler-Muller. Volgens haar wys dit mense besef enkele groot openbare byeenkoms kan ’n superverspreider wees.

Mthokozisi Maphumulo, ’n regskenner by die regsfirma Adams & Adams, waarsku politieke partye en godsdienstige organisasies kan siviel aanspreeklik gehou word as iemand wat by hul byeenkomste was die virus opdoen.

Meer oor:  Covid-19  |  Paasnaweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.