Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Kiks van Julie af reg vir inentings

Mense wat daarvoor geregistreer is, sal van volgende maand af hul Covid-19-inenting in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks) kan kry.

Die sentrum, wat deur die provinsiale gesondheidsdepartement en Discovery Health bestuur word, sal gelyke toegang vir diegene met en sonder ’n mediese fonds bied.

Luidens ’n verklaring wat Donderdag uitgereik is, sal die Wes-Kaapse regering hoofsaaklik verantwoordelik wees vir die koördinering, voorsiening van entstowwe en kliniese en geriewebestuur. Discovery Health sal verantwoordelik wees vir kliënte-ervaring, tegnologie en alle administratiewe take.

Meer as 750 000 inentings sal na verwagting oor ses maande by dié inentingsentrum, wat vroeg in Julie open, toegedien word. Daar word 50 inentingstasies op die perseel beplan met genoeg personeel om dit te beman.

Inentings is gratis vir almal wat die perseel besoek.

Dít is moontlik gemaak deur betalingsooreenkomste tussen mediese fondse en die departement van gesondheid.

Die perseel sal gesofistikeerde yskaste, afvalbestuursprosesse en IT-infrastruktuur hê, en die vermoë om die Pfizer-BioNTech-dubbeldosisentstof en Johnson & Johnson-enkeldosisentstof toe te dien.

Almal wat op die elektroniese inentingstelsel geregistreer is, kan by Kiks ingeënt word wanneer dit hul beurt is. Mense sal SMS-kennisgewings kry as hulle daarheen moet gaan.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, in Mei verlede jaar in Kiks toe dit ’n veldhospitaal was. Foto: Jaco Marais

Deur saam te werk, hoop die departement en die fonds hulle kan een van die “grootste en mees gesofistikeerde inentingslokale in die land” bedryf.

Kiks is voorheen as veldhospitaal ingespan en verskeie Covid-19-pasiënte is daar behandel. Dit is egter in Augustus verlede jaar gestaak.

Dit het toe bekend gestaan as die Hospitaal van Hoop en dit sal nou die Massa-inentingsentrum van Hoop heet.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, het die samewerkingsooreenkoms verwelkom en het Discovery Health bedank vir sy ondersteuning.

“Elkeen, ongeag waar hulle woon of wat hulle verdien, moet toegang hê tot lewensreddende entstowwe, en daarom verwelkom ek hierdie samewerking met Discovery.

“Hierdie projek toon duidelik die belangrikheid van die private sektor in ons provinsie en wat bereik kan word as ons met hulle saamwerk. Ek hoop dat dit die eerste van vele meer samewerkingsooreenkomste tussen die openbare en private sektor is, en ek sien uit daarna dat die lokaal binnekort open.”

Elkeen, ongeag waar hulle woon of wat hulle verdien, moet toegang hê tot lewensreddende entstowwe, en daarom verwelkom ek hierdie samewerking met Discovery.

Ryan Noach, uitvoerende hoof van Discovery Health, sê: “Ons is besonder trots daarop dat hierdie lokaal toegang bied tot entstowwe vir alle inwoners, insluitende lede van Discovery Health, lede van ander mediese skemas en mense wat nie ’n mediese fonds het nie.”

Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, sê die voorbereidings het reeds in Maart begin.

“Ons het begin voorberei deur vas te stel hoe die terrein bestuur sal word, die uitleg daarvan en die gepaardgaande koste om te verseker dat dit die massa-inentingsveldtog vergemaklik.”

Hy het almal van 60 jaar en ouer weer aangemoedig om vir die entstof te registreer en na die aangewese lokaal te gaan om dit te ontvang.

Meer oor:  Alan Winde  |  Koronavirus  |  Pandemie  |  Inentings  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.