Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Klein Keanu (3) terug in SA ná kankerbehandeling

Die kanse dat Keanu Moore (3), wat aan neuroblastoma-kanker ly, dit gaan oorleef, is baie goed.

Die gesin is terug in Suid-Afrika nadat hulle vyf maande lank in Barcelona, Spanje, was waar Keanu ’n eksperimentele behandeling vir sy kanker ondergaan het. Die resultate is baie goed, en Keanu se kans op oorlewing is nou sowat 85%, sê sy ma, Colette van de Giessen.

Keanu (3) slaap terwyl sy ma, Colette van de Giessen, na hom loer. Foto: Adrian de Kock

Keanu spog ook weer met ’n bos krulhare nadat hy verlede jaar sy krullebos weens chemoterapie verloor het.

Keanu het die afgelope tyd immunoterapie by die Sant Joan de Déu-kinderhospitaal (SJD) in Spanje ontvang. Die gesin het tydelik in ’n woonstel naby die hospitaal gewoon waar Keanu weekliks behandel is.

“Ons het self die hospitaal op die internet opgespoor. Met die hulp van Cure4Keanu, ’n organisasie sonder winsbejag, het ons sowat R4 miljoen vir die behandeling ingesamel,” sê Colette.

Eben Etzebeth, voormalige Springbok-rugbykaptein, het ’n groot aantal rugbyballe geteken wat vir geldinsameling opgeveil is. Ryan Oosthuizen, Springbok-sewesspeler, het ook gehelp deur getekende truie en rugbystewels van verskeie spelers te skenk.

“Ons het ook Kerskaartjies wat Keanu self gemaak het verkoop om te help met die insameling. Ons het oorweldigende ondersteuning gekry,” sê Colette.

Keanu is tydens die immunoterapie in Spanje weekliks met ’n spesiale middel ingespuit wat geformuleer is om die kankerselle aan te val. Hy het ook ander inspuitings gekry om sy immuunstelsel te versterk en organe te beskerm.

Dit is baie moeilik om met so ’n jong kind te reis, maar ons doen dit met die hoop dat dit die beste is vir hom.

“Toe hy terug by die huis kom, het hy saam met twee maatjies om die huis gehardloop en gespeel,” vertel sy pa, André Moore.

“Sy spiere is ’n bietjie styf. Ons gaan dus binnekort met swemlesse en speelterapie begin om sy spiere te versterk.”

Colette sê Keanu was tydens die behandeling moeg en naar, en het hier en daar opgeswel.

Keanu en sy ouers, Colette van de Giessen en André Moore, in ’n akwarium in Barcelona.

“Dit is nie lekker om jou kind só te sien nie, maar ons het op die Here vertrou dat alles goed sal afloop,” sê Colette.

“Die hospitaal waar Keanu behandel is, was wonderlik. Dit is goed ingerig vir kinders en Keanu het dit geniet om daarheen te gaan. Ons is so bly die behandeling het vir hom gewerk, omdat dit nie altyd seker is dat ’n kind goed gaan reageer nie,” sê Colette.

Sy was vol lof vir die personeel by SJD en het op Facebook geskryf: “Dankie, dr. Mora, en al die personeel by SJD, dat julle so goed na ons klein vegtertjie gekyk het, en hom ’n kans gegee het op ’n lang lewe.”

Ná ’n rukkie by die huis sal Colette en Keanu weer koers kies na Amerika, waar Keanu verder in die Helen DeVos-kinderhospitaal in Michigan behandel sal word. Die behandeling, ook eksperimenteel, sal onder meer behels dat hy ’n sekere pil drink. Die behandeling sal die volgende twee jaar en agt maande duur, waarvoor die gesin gereeld vir kort tydperke oorsee moet gaan.

“Dit is baie moeilik om met so ’n jong kind te reis, maar ons doen dit met die hoop dat dit die beste is vir hom,” sê Colette.

Die gesin het onlangs in ’n nuwe huis in Brackenfell ingetrek, en Colette sê hulle oorweeg om ’n hondjie as ’n maatjie vir Keanu aan te neem.

Hulle vertrek weer op 11 April na Amerika.

Meer oor:  Spanje  |  Kanker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.