Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Kleuterskole kan dadelik heropen

Kleuterskole wat “toepaslike en/of voorgeskrewe veiligheidsmaatreëls ingestel het” mag dadelik hul deure heropen, het regter Hans Fabricius Maandagoggend in die hooggeregshof in Pretoria beslis.

Dit kom ná die maande lange onsekerheid oor wanneer kleuters na hul skole mag terugkeer nadat kleuterskole ook in Maart ingevolge die ramptoestand weens die Covid-19-pandemie gesluit is.

Die huidige rampbestuurregulasies maak slegs voorsiening dat sentrums vir vroeë kinderontwikkeling(VKO) Maandag mag heropen indien hulle gr. R aanbied en dus voldoen aan die definisie van ’n “skool” soos in die Skolewet uiteengesit.

Die departement van maatskaplike ontwikkeling het verskeie kere gesê private kleuterskole mag nié op vlak 3 van die inperking heropen nie.

Solidariteit se Beroepsgilde vir Maatskaplike Werkers en sy Skoleondersteuningsentrum (SOS) het in die hofaansoek gevra dat VKO’s wat glad nie gr. R aanbied nie, ook toegelaat word om te heropen.

Dit sluit dagmoeders, speelgroepe en naskoolsentrums in.

Die hof het ’n kostebevel teen die minister van maatskaplike ontwikkeling, Lindiwe Zulu, toegestaan en bygevoeg dat haar optrede gedurende die hofverrigtinge nie voldoen aan die standaard wat by sulke belangrike kwessies verwag word nie.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het vroeër aan Netwerk24 gesê dit is ’n ongelooflik belangrike saak. “Dit raak nie net kleuterskole wat in ’n bestaanskrisis is nie, maar maak dit ook vir talle mense baie moeilik om terug te keer werk toe.”

Hy het benadruk dat daar nie roekeloos met die virus omgegaan moet word nie, en dat seker gemaak moet word dat die heropening van kleuterskole op ’n ordelike en gesonde manier geskied.

“Ons het ook in ons hofsake aangevoer dat die Pediatriese Vereniging van Suid-Afrika ook in ’n verslag gesê het as die risiko van die virus by kinders opgeweeg word teen die feit dat hulle nie kleuterskool toe gaan nie, is dit in die belang van die kind dat kleuterskole oopmaak.”

Die eienaar van ’n kleuterskool in Durbanville, Kaapstad, wat nie haar naam genoem wil hê nie, is verheug oor die hof se beslissing en het dadelik haar skool se ouers laat weet dat hul kinders reeds Woensdag kan terugkeer.

“Baie geld is reeds bestee om te sorg dat alles gereed is.”

Sy sê die inperking het hulle noodgedwonge tot die besef laat kom dat hul suksesvolle onderneming, wat die sektor as ’n noodsaaklike diens beskou, toe een van die regering se laaste prioriteite was.

“Ons het ywerig en vol moed begin om die voorskrifte streng na te kom en protokolle in te stel om die veiligheid van ons kinders en personeel te verseker, en elke keer is die doelpale verskuif of ons is bloot geïgnoreer deur ’n minister wat nie met ons praat nie.”

Meer oor:  Solidariteit  |  Pretoria  |  Hooggeregshof  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Kleuterskole  |  Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.