Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Kobrabyt: Brandpyn trek deur jou hele lyf, vertel man
Op die herstelpad. Johan Germeshuizen glimlag weer ná sowat twee weke in die hospitaal.

Binne ’n uur nadat ’n Kaapse kobra hom gebyt het, het ’n brandpyn deur ’n sakeman van Graaff-Reinet se hele liggaam getrek en was hy tydelik blind.

Die slang het die middag van 3 Februarie toegeslaan toe die 62-jarige Johan (Gerrie) Germeshuizen sy hand niksvermoedend by sy lessenaar se boonste laai insteek.

Awie van den Berg, sy kollega, het sekondes vroeër vir hom ’n sjokolade gegee, maar dit was bykans 17:00 en Germeshuizen het besluit om die sjokolade in die laai te bêre vir die volgende dag.

“Met dié dat ek die Crunchie in die laai sit, het ek ’n steekpyn gevoel gekry en dadelik gedink ek het mos nie koppiespelde in my laai nie. Ek ruk toe my hand uit en daar kom die slang te voorskyn.”

Hy vermoed die slang het vir die blink papier van die sjokolade geskrik en eintlik daarna gemik.

Aanvanklik het hy gedink dis ’n rinkhals wat hom beetgekry het.

“Van die ander personeellede het nadergekom om die slang dood te maak, die laai oopgetrek en hom laat uitval. Met dié het die slang bakkop getrek en ek het dadelik die slang uitgeken as ’n Kaapse kobra.”

Hy het bykans onmiddellik ’n brandpyn aan sy regter-ringvinger, waar hy gebyt is, gevoel en dit het begin opswel. Hierna het die brandpyn vinnig deur sy hand getrek, voordat dit sy lyf begin aantas het.

“Ná sowat 45 minute het ek begin lighoofdig voel, swaar begin asemhaal en my hart het vinniger geklop. Hierna het my sig vaal en dynserig geword.”

Hy sê ná sowat anderhalf uur kon hy byna niks meer sien nie.

Die nag van 3 Februarie toe ’n ventilator aan Johan Germeshuizen gekoppel is en die dokters onseker was of hy sal herstel.
Heen en weer gejaag

By ’n plaaslike hospitaal was die personeel volgens Germeshuizen nie haastig om hom te help nie en hulle kon nie onmiddellik sê of enige teengif beskikbaar is nie.

Kort voor lank was hulle inderhaas op pad na ’n hospitaal in Cradock, waar een teengif-ampule beskikbaar was.

Halfpad na Cradock het die plaaslike hospitaal hulle gebel en gesê hulle moet terugdraai, want daar is meer as genoeg teengif in Graaff-Reinet. Hy het omtrent 11 ampules teengif nodig gehad.

“Terug by die hospitaal in Graaff-Reinet kan ek onthou dat ek uit die motor geklim en toe inmekaar gesak het. Daar is dadelik aandag aan my gegee en ek kon voel hoe hulle aan my werk en hoor wat hulle gaan en moet doen.

“Met die toedien van die teengif het gebeur waarvoor hulle bang was – my liggaam het toe in anafilaktiese skok gegaan.”

Germeshuizen ’n sogenaamde buiteliggaamlike ervaring gehad, maar hy is nog nie gereed om oor dié ervaring te praat nie.

Nadat hy aan ’n ventilator gekoppel is, is hy na ’n hospitaal in Port Elizabeth vervoer.

“In Port Elizabeth het ek eers in hospitaal A beland, waar daar volgens getuies niks vir my gedoen is nie. Ek het vyf uur lank daar gelê.

“Een persoon wat daar opgedaag het, wat my ken, het gedink dat hy net die laken oor my kop moet trek.

“Ná ’n geskarrel is ek toe ‘gesteel’ uit hospitaal A en gejaag na hospitaal B se waakeenheid. Daar het ek goeie diens ontvang en die personeel het regtig omgegee.”

Kon elke gesprek volg

Teen die tyd was Germeshuizen heeltemal verlam. Die volgende vier tot vyf dae kon hy geensins beweeg nie.

“Almal het gedink ek was in ’n koma, maar ek was 100% by my bewussyn. Ek kon elke gesprek hoor én hoor dat hulle geen hoop vir my gehad het nie.”

Hier het hy stadig maar seker oor 14 dae in die hospitaal beter geword.

kobra
Die Kaapse kobra wat in Johan Germeshuizen se lessenaarlaai was. Foto: Verskaf

Hoewel hy tans by die huis aansterk, het hy reeds twee terugslae gehad.

“My liggaam voel uitgebrand. Die dokters is bekommerd oor my niere en lewer en dit word gereeld gemonitor. Dit kan wees van die gif asook van die medisyne wat ek ontvang het.”

Kort nadat Germeshuizen deur die slang gepik is, het gerugte ontstaan dat die slang moontlik in sy boonste laai “geplant” is.

Netwerk24 het vroeër berig dat sy suster, Delina Geater, self die kringtelevisiebeeldmateriaal nagegaan het in die hoop om te sien hoe en waar die slang by die gebou ingeseil het. Sy kon egter geen spoor van die slang sien nie.

Germeshuizen sê hy is bewus van die bespiegelings oor die slang se skielike besoek, maar hy het sy eie teorie oor waar die slang vandaan kom.

“Nee, die slang was nie geplant nie. Ek kan onthou dat dit ’n baie warm tydperk in Graaff-Reinet was. Daardie dag was daar ’n kontrakteur by ons maatskappy en ek sê nog die slang het van sy bakkie se onderstel geval toe hy daar stop.

“Die slang het natuurlik die kortste pad gevat en dit was van die bakkie af, teen die muur tot by die deur, by die deur in en dadelik weer links, waar my lessenaar staan. Vandaar het hy ’n donker, koel plek begin soek.”

Hoewel hy bykans op die randjie van die dood was, het hy nie ’n vrees vir slange ontwikkel nie. Hy is wel versigtig vir hulle, maar kan met gemak vir mense sê dit was ’n “pragtige slang” wat hom gebyt het.

“Ek kan net ook noem dat ek daardeur gekom het, deur die Here se genade en die mense wat Hy gebruik het om my weer anderkant uit te bring.”

Meer oor:  Graaff-Reinet  |  Slangbyt  |  Kobra
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.